Jare gelede, in ’n vorige loopbaan en ’n ander lewe, het ek en my gesin vir drie jaar in Washington DC, Amerika, gewoon. Daar het ons gereeld by Costco (soos ons Makro, maar op die sterkste opkikkers denkbaar) gaan inkopies doen.
Jy kon, ongeag die seisoen, enige vrug of groente koop wat van reg oor die wêreld ingevoer is.
Enorme piesangs, vlekkelose, ferm perskes, bloedrooi tamaties...
Alles het pragtig gelyk, maar soos meel en wind geproe: Dit was gekweek en behandel om weke lank in skeepshouers “vars” te bly.
In ’n verbruikerswêreld waar alles altyd beskikbaar moet wees, het produkte hulle smaak verloor.
As jy bereid is om ’n tikkie gerief in te boet en toelaat dat die seisoene jou lei, is daar wel deksels baie lewenslekker te proe.
En ek praat nie net van die lelikste dog lekkerste klein piesangs wat jy vir ’n paar rand by ’n straatsmous in Mpika in Zambië kan koop, of die soet mango’s wat jy op die strand by die Malawimeer kan eet nie.
Dié lewenslekker geld ook bestemmings waar jy ’n bietjie ekstra moeite moet doen, en wat jy net in sekere seisoene kan besoek.
Want dan bevind jy jou dalk in ’n wilderniskamp in ’n plek soos die Noord-Luangwa- nasionale park in Zambië wat net van die Julie tot einde Oktober vir besoekers toeganklik is.
Hier gaan jy nie deur 50 ander wildkykvoertuie verdring word as jy wil kyk hoe ’n wildebees deur ’n rivier sukkel nie, of moet luister hoe jou buurman se doef-doeftas die een sokkiejoltreffer na die ander uitblêr nie.
Maar jy gaan nie jou cortado by die plaaslike barista kan bestel, of die Springbokke teen die Poemas op SuperSport kan kyk nie.
Ons kan kies om vakansie te hou in ’n wêreld van “gerief bo alles; altyd beskikbaar; heeltyd aan” of ons vryheid uit te oefen deur ’n paar goed af te skakel, terug te sit toe te laat dat die natuur se ritme oorneem. (Lees gerus Toast Coetzer se rubriek.)
Ek skakel vir eers af. Oor en uit tot die volgende uitgawe!





















