Reis

Redakteursbrief: Wakker akkers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Gettyimages.com
Foto: Gettyimages.com

Ek is 'n sucker vir 'n goeie geskiedenisstorie. 'n Mens sou dink 'n moeë leerplan vol droë datums sou enige skoolkind se liefde vir die verlede doodsmoor…en dit het amper.

Totdat ek op die eerste dag van my eerste jaar op universiteit hoor hoe prof. Rodney Davenport, destydse hoof van die departement van geskiedenis aan die Rhodes-universiteit in Makhanda, sê ons moet alles wat ons op skool geleer het, summier vergeet.

Net omdat een ou - meestal mans en waarskynlik die oorwinnaar van een of ander stryd - destyds sy weergawe van gebeure opgeteken het, beteken dit nie sy storie is waar nie. Bowendien, die geskiedenis is nie 'n spul datums wat onthou moet word nie, maar die stories van ons voorsate - wesens van bloed en vlees wat net soos ons met vrees, liefde, hoop en drome deur die lewe geloop en soms gesteier het.

Bowendien, die geskiedenis is nie 'n spul datums wat onthou moet word nie, maar die stories van ons voorsate

Dit was in 2019 die 75ste herdenking van die Slag van Normandië in Frankryk, wat op 6 Junie 1944 (D-dag) begin het toe die Geallieerde Magte die Europese vesting van die Nazi-diktator Adolf Hitler gestormloop het. Nou dís 'n ou droë sin wat niks in enigeen gaan wakker maak as jy nie veel van die geskiedenis weet nie!

Maar my en my vrou, Ronel, se trane het onbeskaamd geloop met ons besoek in 2012 aan die aangrypende Amerikaanse begraafplaas by Omaha-strand, hoog bo 'n krans in Normandië.

Dit was nie net die 9 380 spierwit kruise (af en toe onderbreek deur 'n Ster van Dawid) wat ons geroer het nie. In die museum kan jy die verhale hoor en die briewe lees van die jong mans wat buite in die gras begrawe lê. Kaal feite op 'n blad kry lewe as jy die menslikheid daarvan soek en 'n bietjie vertoef.

Dis wat Ian McNaught Davis gedoen het met sy besoek aan Wakkerstroom, waar die inwoners vandag steeds lewe blaas in die stories van Swart Dirk Uys, die stigter van Wakkerstroom, en sy pragtige dogter Sannie, op wie die kroonprins Napoleon Eugène Lodewijk Jan Jozef Bonaparte volgens legende verlief geraak het voordat hy in 1879 by Ulundi in die Anglo- Zoeloe-oorlog deur 18 assegaaie deurboor is.

Louis Napoleon was 'n enigste kind, en met sy dood het die kans dat 'n Bonaparte ooit weer oor Frankryk sou regeer, ook gesterf. 'n Mens kan net wonder hoe die geskiedenis anders kon verloop het en of die Franse ooit aan 'n keiserin Sannie sou vat kry.

- Pierre

Pierre Steyn

Pierre Steyn

Pierre Steyn is die redakteur van Weg!-tydskrif.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM