Suid-Afrika se bromvoëlbevolking word ernstig bedreig - daar is net sowat 1 500 oor.

Dié rooi-en-swart voëls lê nie baie eiers nie - meestal twee en soms drie. Bromvoëlouers gee die meeste aandag aan hulle eerstegeborene kuiken. Die kuikens wat tweede en derde gebore word is dikwels swakker en het dan'n kleiner kans op oorlewing.

Baie van hierdie verwaarloosde kuikens sal binne twee weke ná hulle geboorte sterf. En dis hier waar Lucy Kemp besluit het om in te gryp en 'n verskil te maak. Sy en die span wat sy lei, die Mabula Ground Hornbill-projek, help dié kuikens wat deur die bromvoël-ouers afgeskeep word. Hulle neem die rol van die ma's oor en help so om die bromvoël-bevolking van Suid-Afrika op te bou. Die kuikens wat gered word, word in aanhouding groot gemaak totdat dit vir hulle veilig is om weer in die natuur losgelaat te word.
Die mens is ook verantwoordelik vir die afname in bromvoël-getalle: Die voëls word doodgemaak vir tradisionele rituele en die bome waarin hulle nesmaak word afgekap.
"Ek wil keer dat bromvoëls verdwyn," sê Lucy. Sy het haar doktorsgraad oor bromvoëls gedoen en glo kommunikasie en die bewusmaking oor die bedreiging van bromvoëls is noodsaaklik om die spesie te bewaar.
Kyk hier na 'n video van Lucy en haar span se werk.
* Bron: www.beautifulnews.co.za.












