Rocky Bay is in Park Rynie, 'n klein kusdorpie in die Suidkus, net meer as 6 km suid van Scottburgh. Die ligging is puik, want hier is jy naby aan alles waarvan jy kan droom om te doen terwyl jy met vakansie is.
Visvang, duik, sport kyk, staproetes, museums, restaurante, winkelsentrums en al die ander goed waarmee vakansiegangers van elke ouderdomsgroep hulle besig hou, is op jou voorstoep. Selfs Durban is net 'n uur se ry weg.
Die kampterrein is langs die strand uitgelê en by sommige van die voorste staanplekke staan jy letterlik óp die strand as jy 'n tree van jou grondseil af gee.
Die meeste van die voorste staanplekke het koelte danksy die groot bome agter hulle, maar daar is tog 'n klompie wat geen koelte kry nie - dan gaan jy 'n silwerseil nodig kry.
Die hoeveelheid gras op jou staanplek hang ook af van hoeveel koelte daar is, maar op die meeste van hulle is die gras gangbaar. Bring maar ieder geval jou grondseil saam.
Die staanplekke is uitgemerk met 'n betonmuurtjie of witgeverfde houtpale, en in die meeste gevalle is jy is taamlik afgesonder van jou bure.
By sommige van die voorste kampplekke kan jy sien wat jou buurban se doen en late is, maar by ander is jy heeltemal weggesteek tussen bome. Dit is veral die geval by die staanplekke verder weg van die see af.
As dit vir jou belangrik is om 'n mate van privaatheid te hê wanneer jy kamp en dit is nie belangrik om teen die see te staan nie, vra die oordbestuur om vir jou 'n plek in dié deel aan te beveel wanneer jy bespreek. Hier is dit meer bebos en die gras is skaarser, maar die son en die wind pla nie so erg nie.
Let egter net daarop dat die pad wat na die agterste staanplekke lei, nogal steil is en by tye erg kronkel. Neem dit veral in ag as jy met 'n Exclusive kom kamp. Jy staan hier ook nader aan die treinspoor wat agter die kampterrein verbyloop.
As jy eers staan, is hier is hier mense wat kom help met die tentopslanery.Die staanplekke is netjies, gelyk en op terrasse uitgelê. Hulle is deur die bank omtrent so groot soos 'n halwe tennisbaan.
Jy deel 'n blousokkragpunt met jou buurman, maar jy het jou eie vullisdrom en hier is een kraan vir elke vier of so staanplekke.
Om 'n vleisie te braai het jy 'n klein betonbraaier - jy moet egter jou eie rooster saambring.
Die braaier staan kniehoogte en sy braai-oppervlak is 'n klein vierkant van sowat 50 x 50 cm. Dis heel gaaf vir twee, maar as jy vir 'n groot gesin braai, gaan jy waarskynlik sukkel om almal se vleis op een slag gaar te kry. Bring dus maar jou eie braaier ook saam.
'n Mens kan sien die mense wat Rocky Bay se staanplekke uitgelê het, het mooi oor die saak gedink. Van die staanplekke is hoër as ander, wat beteken jy het steeds 'n uitsig oor die see - jy kyk oor jou voorste bure se dak.

Waar was jy?
Hier kamp jy nie verder as 100 m se stap van die drie ablusieblokke af nie. Die aparte geriewe vir mans en vroue is skoon, netjies en groot. Veral die storte is lekker ruim.
Agter die deur is die storthokkie in twee dele verdeel: In die stortdeel is daar genoeg plek vir die 0.13 B-span se voorspelers om saam te skrop, terwyl die agterlyn in die droë deel hulle beurt afwag. Hier is ook genoeg hake en 'n teëlbankie om alles droog te hou wat droog moet bly.
By die deur is die wasbakke met groot spieëls en kragpunte. Die toilette en urinale is regoor die storte. Die aantal wasbakke, storte en toilette wissel van blok tot blok, maar die geriewe is voldoende, selfs al is die kampterrein vol.
Die opwasplek vir jou skottelgoed is tussen die mans- en vrouegeriewe.Die speel- en ontspanningsgedeelte is basies in die middel van die oord. Hier is twee swembaddens (een vir die kleintjies) en 'n klimraam en swaaie.
Daar is ook 'n glyplank tot binne-in die groot swembad. As jy naby die swembad en speeldeel wil kamp, mik vir staanplek nr. 29-39.
Die ontspanningsaal is langs die swembaddens en hier kan jy tafeltennis, veerpyltjies of 'n potjie pool kom speel. Die oordbestuur bied ook by geleentheid speletjies soos Bingo vir vakansiegangers aan.
By die hek is die oordwinkel waar jy die nodigste - soos die koerant, brood, koeldrank, roomys, blikkieskos en visvangnetjies vir die kinders - kan aanskaf. Rocky Bay het ook sy eie restaurant, The Sugar Baron, waar jy ontbyt, middag- of aandete kan gaan soek.
En as jy lus is vir avontuur, kan jy nét buite die oord se hek bespreek om uit 'n onderwaterhok haaie te kyk.

Kortliks | Rocky Bay
Beskikbaar: krag, selfoon, winkel, restaurant, swem. hond
Kampplek: 160 afgebakende staanplekke met krag, 'n kraan, braaiput en betonbraai sonder rooster.
Ablusiegeriewe: Drie groot, skoon en netjiese ablusieblokke.
Kontak: 039 976 0336; rockybay.co.za
Naaste dorp: Rocky Bay is in Park Rynie.
Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.
Dís hoe jy ry
• Ry van Scottburgh af met die R102 in Port Shepstone se rigting.
• Sodra jy deur Park Rynie is, is daar 'n Rocky Bay-bord aan die regterkant van die pad. Draai hier links en ry tot by die oord se ingang.
GPS S30.335689 E30.732825












