Dis egter nie die lawaai in die kampplek wat my nou aan die dink het nie, maar eerder die soort wat jy beleef nog voor jy ablusieblok A se sleutel saam met jou kwitansie by die ontvangskantoor gekry het. Ek praat nou van die soort wat jou uit jou karradio oorrompel.
Die hele probleem ontstaan by die feit dat radio in Suid Afrika 'n gebrek aan genoeg keuses toon. Vir suiwer Afrikaans het ons net een stasie, en jy moet taamlik uniform wees met hulle teikenmark om 'n hele dag lank hierna te kan luister sonder om jou aan die bottel oor te gee. Dis nie hulle skuld dat my musieksmaak nie ooreenstem met wat speel nie en ek weet ek hoef nie daarna te luister as ek nie wil nie, maar as ek iets in Afrikaans wil hoor, voel ek uitgelewer.
Dis 'n lang pad see toe met jou gesin, en dan kom die radiolandskap noodgedwonge onder die vergrootglas. Die vlak van dieptegesprekke oor sake van die dag is van die hoogste gehalte op die Afrikaanse radiostasie.
Ongelukkig word dit op die mees ongeleë oomblik onderbreek met "eers gou 'n pragtige stukkie musiek" en 'n uitnodiging/aanmaning om ingeskakel te bly. Natuurlik bly jy nie ingeskakel nie, want "Jaaaaai is vir maaaai so mwaai en ek is lieeeeef vir jaaauw" is mos nie wat jy aan iemand se ore doen as jy werklik van hulle hou nie. Vir afwisseling saai dié stasie ook liedjies uit van sangeressies wat standaardgraad-aardrykskunde aan die Hoërskool Misverstand gedruip het, maar tog die name van al die Kaapse kusdorpies aanmekaar ryg en dan sing hoe lief hulle vir hulle berg en hulle see is.
Nou skakel jy oor na 'n "praatstasie". Daar is eintlik net een in Johannesburg en die Kaap, en jy het 'n 80% kans om met die oorskakelslag 'n advertensie raak te luister.
Ironies genoeg sal jou kinders agterin die kar geredelik na enige advertensie luister, al is dit kliphard en bestaan dit net uit iemand wat op jou gil of giggel, maar sodra daar 'n sinvolle gesprek kom, dan neul hulle oor hoe "booooooring" dit is. Dit kán egter nie vervelig wees nie, want op so 'n stasie duur elke gesprek net een minuut, voor hulle nog advertensies moet inryg. En hoe slimmer die kenner op 'n sekere gebied is, hoe vinniger is hulle om hom of haar aan te jaag ten gunste van 'n hopeloos onakkurate en afgerammelde verkeersverslag.
Dan skakel jy terug om te hoor of "Ek haau van jaau" al verby is.Die "nommertjie" is inderdaad verby, maar nou is dit inbeltyd en 'n mens wil dink die inbellers het dit almal per ongeluk gedoen.
Skielik is "Anoniem van Lichtenburg" uit die veld geslaan en wonder met wie hulle praat. As die omroeper die stomme mens oortuig dat hulle wel by die stasie uitgekom het, wel, dan weet ons hoe gaan dit: "Ag ek wil net sê..." gaan hulle voort, half skuldig en apologeties. 'n Mens kan met taamlike sekerheid sê "Anoniem" gaan nie iets kwytraak wat genoeg sin maak om vervolging te noodsaak nie.
Apologeties kan hulle gerus maar wees, want hulle is dikwels glad nie van plan om oor die onderwerp te praat wat die program moedig probeer aanroer nie.
Draai weer die radioknop en jy's omtrent gewaarborg om op 'n Sotho-of Xhosastasie uit te kom wat gewoonlik klink soos 'n uitsending van drie dinge gelyk: 'n sokkerwedstryd, 'n perderesies en 'n vendusie wat onderbreek word deur 'n aardbewing. Die passie en loutere emosie uit die omroeper se mond is aansteeklik, en ligjare weg van die hoogdrawende Ingils wat jy op die volgende stasie teëkom.
Wanneer 'n mens begin dink die Engelse stasie se objektiwiteit grens aan dié van die Zimbabwiese staatskoerant, skakel jy maar weer vorentoe. Dan, skielik, is jou kinders in die wolke en jy smyt amper die Fortuner en Penta om, want eensklaps is jy in 'n Amerikaanse ghetto, met iemand wat vreeslik aggressief en afgemete rym bo-oor die deuntjie van 'n liedjie waarvan jy gehou het toe jy nog in die twintig was. En moenie eens probeer om 'n openhartige gesprek met jou kinders te hê oor die onreg wat hierdie outjie die eens mooi liedjie aandoen nie.
Dink net: Mozart in 'n Lady Gaga-fase. Jy moet nogal 'n geharde klassikus wees om van Centurion tot by Harrismith daarna te kan luister.
Dan weer praatradio toe. Daar's weer 'n advertensie, en dié slag is dit om die einste stasie te adverteer! Dit maak 'n mens net meer die vieste in en jy skakel na 'n Afrikaans-Engelse kontemporêre stasie oor.
Skielik herken jy al die liedjies en jy voel effens meer tuis. Totdat jou kinders jou herinner hoe een of ander talentlose Idols-finalis hierdie en al jou ander gunstelingliedjies só mismaak het dat jy nie meer daarna kan luister sonder om te huil nie.
Maar wag, daar is mos 'n klassiekemusiekstasie! Ja! Ons hou mos van die strelende viole en is eintlik mal oor klassieke musiek. Laat ek gou 'n ou geheimpie rakende klassieke musiek met jou deel: Nie alle musiek in daardie genre is strelend en bekend op die oor nie. Dis nie alles net Nabucco se slawekoor, "Nessun Dorma" en die Maanligsonate nie.
Klassieke musiek was in 'n stadium ook maar net "musiek", en die ouens het nie net een ná die ander populêre meesterstuk uitgeryg nie. Dit was ook maar soos die popmusiek van vandag, maar met tjello's en klarinette. Dink net: Mozart in 'n Lady Gaga-fase. Jy moet nogal 'n geharde klassikus wees om van Centurion tot by Harrismith daarna te kan luister.
Jou laaste opsie is 'n studentestasie, maar jy skrik jou amper dood, want dit klink of daar 'n dwaalgees iewers in die lugreëling vassit en hy gaan jou kom haal as hy daar uitkom.
So gaan dit totdat jy noodgedwonge die radio afsit. Die opsie om Mamma se Erasure-tape of jou Pink Floyd of Fanie se "metal" of Sussa se tienerspookasem in te sit is nie vir enige meerderheid in die kar aanvaarbaar nie. Elkeen druk dus maar 'n iPod in sy ore en daar het jy jou stilte - so 'n ongemaklike een... Goed, ons weet dus Suid-Afrikaanse radiostasies het werk nodig, maar dalk is daar tog iets positiefs hierin te vind. Dis verbasend hoe jy, ten spyte van al die negatiewe, wel iets gaan leer of raakloop daar buite jou gemaksone.
Daar is intense klassieke elemente in Fanie se "metal" as jy jouself toelaat om dit te hoor. Sussa se tienerdoediemusiek is dalk vlak en leeg vir jou, maar dit weerspieël hoe sy voel, daar stil agterin die kar - besig om 'n vreemdeling te word vir jou. Luister, dalk leer jy haar ken. Mamma se Erasure-tape vat haar terug na die dae toe sy gedans en gelag het. Sit maar daardeur, want dalk flits daai ondeundheid weer in haar oë soos toe dinge nog orraait was...
Boonop is dit partykeer nodig om op praatradio te hoor daar is mense met 'n mening wat anders is as joune, al maak naïewe ou Ethel van Norwood jou warm onder die kraag. Soek rond op jou radio en leer ken 'n hele spektrum van absurditeit. En as jy weer Afrikaans toe gaan en 'n inbeller begin met "Hallo? Wie praat? Askies? Is ek op die radio? Ag, ek wil net sê..." skakel dan af en geniet die suising van die wiele op die teer. Jy gaan die stilte mis wanneer jy by die oord aankom.
Onthou: Jy kan ook na van ons rubrieke in podcast-formaat luister, voorgelees deur die skrywers self. Klik hier vir nog inligting.













