"Waar is jou skoene?" vra sy pa toe ons begin aanstaltes maak om te ry.
"Ek weet nie," sê hy en kyk ongemaklik op die strand rond. Ek sien dadelik wat kom en vra: "Waar het jy hulle laas gehad?"
"Ek het hulle in my hand gehad voor ek van daar bo af afgeklim het," kom die antwoord. "Ai, my kindjie, nou sal ons moet terug loop op jou pad om hulle te soek."
In my binneste kom lê die moedeloosheid, want ek het gesien hoe die man teen die hoë rotswande afgeklouter het ten spyte van die trappies. Nou sal ons noodgedwonge die kloutersessie weer met die kind moet meemaak, dalk af én op, as ons die skoene wil kry.
Dis 'n sonnige, windstil dag in Lüderitz. Waar die wind jou gewoonlik hier wegwaai, sê die mense sulke heerlike dae is nie ongewoon in die winter nie. Ons het na Diaz se Kruis kom kyk waar dit op Diazpunt geplant staan. Die goeie toestand van die kruis het ons laat twyfel of dit die oorspronklike kon wees aangesien dit reeds 532 jaar gelede daar geplant is.

Later vind ons uit dat die oorspronklike kruis van kalksteen was, en wél in wind en weer skade gely het tot dit later verbrokkel het en seevaarders stukke daarvan begin wegdra het. In 1855 het kaptein Carew, 'n guanohandelaar, die brokstukke wat hy kon red, na die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad geneem vir bewaring.
Op 25 Julie 1488, 'n volle 164 jaar vóór Jan van Riebeek in 1652 in die Kaap sou aankom, het Bartholomeu Diaz Lüderitzbaai binnegevaar. Hy was op pad huis toe ná 'n suksesvolle poging om 'n handelsroete tussen Portugal en Indië te soek en het só die eerste Europese seevaarder geword wat om die Kaap van Goeie Hoop, die suidelikste punt van Afrika, sou vaar.
Seevaarders van daardie tyd het oral waar hulle aan wal gegaan het kruise of padrões geplant. Dié was om eienaarskap te bevestig. Omdat die weerselemente 'n houtstruktuur vinnig sou vernietig, was die padrões van klip. Aan die bokant van elke pilaar was 'n kruis en die Portugese koninklike wapen was op elkeen uitgegraveer.
Nico, my man, onthou hoe hy en sy gesin in 1988 die vyfhonderdjaarvieringe van Diaz se vaart in Mosselbaai bygewoon het. Die dag wat die karveel, 'n seewaardige replika van Diaz se skip, saam met vaartuie van die Suid-Afrikaanse vloot Mosselbaai binnegevaar het ná dit Diaz se 1488-seeroete vanaf Portugal gevolg het, is in sy geheue ingeëts. Die replikakarveel staan nou in die maritieme saal in die Diazmuseum in Mosselbaai waar besoekers dit kan besigtig.
As deel van die 1988-vieringe is opdrag gegee aan die klipmesselaar Paul Petzold van Karibib om 'n replika van Diaz se oorspronklike kruis te maak. Dié kerf hy toe uit plaaslike doleriet volgens sketse wat uit 1786 dateer van die oorspronklike kruis. Die nuwe kruis is op 25 Julie 1988 onthul by Diazpunt, vyf eeue ná Diaz by Angra Pequena (Lüderitz) aangedoen het.
Die kruis se staanplek is vandag 'n nasionale monument. Saam met die 1915-vuurtoring en die interessante rotspoele en strandjies is Diazpunt 'n moetdoenuitstappie.
Ná 'n halfuur se soek kry ons die skoene op die strand en Boeta word die leviete voorgelees. Maar toe ons twee dae later pak om terug binneland toe te ry is die skoene weer weg. Ons vermoed dat hulle op die strand by Grosse Bucht lê waar ons die vorige aand gespeel het.
By Grosse Bucht aangekom fynkam ons die strand. Nico vind wél een skoen wat duidelik deur die nag die binnekant van 'n paar branders gesien het. Reg langs die plek waar ons die enkele skoen opgetel het, sien Nico die hiënaspoor. Ons besef dadelik dat die soektog 'n heel ander dimensie bygekry het. Ná nog 'n ruk se soek blaas ons die aftog. In die kar is Ma vies en Boetie angstig.
Later die dag toe hy Ouma sien, verkla hy sy ma. "Sy't gesê ek moet my sakgeld gebruik vir nuwe skoene!"
"Siestog, my kind. Gee Ouma se beursie aan. Hoeveel het jy nodig?"
"Twee, Ouma."
"Twee wat, my kind?"
"Twee skoene, Ouma."
En êrens op 'n strand naby Lüderitz trap 'n bruinhiëna nou twee klein spoortjies, een grote en een nr. 3 K-Way.
Hoe kom ek daar? Diaz se Kruis is op die verste punt van die Lüderitz-skiereiland, suidwes van die dorp. Volg die B4 vir 2 km uit Lüderitz en draai suid op die D701. Volg die aanwysings na Diazpunt vir 21 km.
Hoeveel kos dit? Dis gratis om Diazkruis te besigtig.
Waar bly ek? Daar is 'n kampplek by Diazpunt of kontak Brenda Kotze (+264 63 203 456) vir AirBnB verblyf op Shark Island of by Obelix Guest House.













