Reis

Rubriek: Somer, son, see en strandry

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wat is dan lekkerder as om kilometers al langs die strand neffens die branders te ry en die vars seelug in te asem - en ver van almal af 'n vleisie langs die see te braai...

Nou mag 'n mens dit nie meer doen nie. Dié gebruik is kort ná die eeuwisseling stopgesit in 'n poging om die duine en natuurlewe te beskerm. Deesdae het jy 'n permit nodig om op die stand te ry, en selfs dan mag jy nie ver ry nie.

Daar was egter 'n tyd toe strandry 'n normale buitemuurse aktiwiteit was. Oor naweke kon jy mense sien hengel al langs die strand op plekke waar jy nie met jou gesinsmotor kon uitkom nie.

Dit was egter nie sommer net 'n geval van inklim en ry nie; jy moes die regte voertuig hê, en in die vroeë jare tagtig was sportnutsvoertuie nie so algemeen soos vandag nie. Dit was dus óf 'n duinebesie of Land Rover óf 'n behoorlike 4x4-bakkie, wat in daardie dae net boere en sakemanne beskore was.

As jy dus desjare deur die staat verplaas is na Eshowe, sowat 30 km van die see af, was 'n ryding vir die strand een van die eerste dinge waarna jy begin soek het. Veral as jy 'n kantoor met iemand soos Matt deel.

Dié man is een van daardie kalante wat nie skroom om die strand met sy Chevrolet 3800 aan te durf nie. Hy blaas net die bande 'n bietjie af en dan laat waai hy… net om te wys hy kán.

So vestig Hein hom op Eshowe, al die pad van die Vrystaat af, en soos die gode van strandry dit wil hê, werk hy in dieselfde afdeling as Matt.

Dié laat nie gras onder sy voete groei nie en oortuig sommer vinnig vir Hein om vir hom 'n strandryding aan te skaf. 'n Mens moet die Vrystater self laat beleef watter wonderlike ervaring dit is om op die strand te ry.

Maar Hein is lugtig. Die man het pas huis gekoop en wil nie te veel betaal vir 'n speelding nie.

"Ek is nie van gister af hier nie. Ek sal jou help om 'n voertuig te soek. Laat dit aan my oor," stel Matt, wat die motorbedryf sy "tweede natuur" noem, die huiwerige Hein gerus.

'n Dag of drie later storm Matt by Hein se kantoor in en plak die koerant op sy lessenaar neer. "Ek het hom!" kondig hy triomfantelik aan. Die advertensie is met 'n rooi pen omkring: "WINSKOOP! 1965 Land Rover, ex-weermag, lae kilo's, slegs R2 000."

"Hy's in Durban," sê Matt. "Ek het reeds die eienaar gebel en hy sê ons is welkom om te kom kyk. Ek reken ons skiet Woensdagmiddag deur daardie kant toe."

So gesê, so gedaan. Die Woensdag is Hein en Matt op pad Durban toe. Die adres is in die suide van die stad en hulle beland in die spitsverkeer. Gevolglik kom hulle eers laatmiddag by die verkoper aan.

'n Frisgeboude man in 'n bruin oliebevlekte oorpak met 'n pantserbaret op sy kop, loop hulle sigaret in die hand tegemoet en stel hom voor as Jakes. "Ek het met jou oor die foon gesels," sê Matt. "Ons is hier vir die Landie."

Jakes vertel die Landie is amper reg... hulle is net nog besig met 'n paar finishing touches. En as Hein en Matt nie sal omgee om vir 'n uur of wat by die eetplek om die hoek 'n bier te gaan drink nie, dan kan hy gou klaarmaak. "'n Tevrede koper is 'n gelukkige koper," sê Jakes.

Dis al sterk skemer toe Matt en Hein terugkom. Die wit Land Rover staan daar en die manne bekyk hom van voor tot agter. Die enjinkap word oopgemaak, die bande geskop en al dié klas van dinge. Jakes loop oor van vriendelikheid en sê hy gaan met 'n swaar hart afskeid neem van die Land Rover, want hy het die wêreld platgery met hom.

"Hierdie is nou vir jou 'n meneer van 'n bargain," sê Jakes en skud sy kop so asof hy self nie kan glo hy sit die kar vir só min van die hand nie.

Die gevaarligte flikker vir Hein. Jakes is net 'n bietjie té gretig om van die Land Rover ontslae te raak én die kar is al twintig jaar oud. Maar Matt sê dis 'n winskoop wat hulle nie deur hulle vingers kan laat glip nie. "Met hierdie Landie rol ons Sodwana se duine op," belowe hy.

Hein gee uiteindelik bes en die transaksie word beklink.

Hoe nader hulle aan die duin vorder, hoe meer lyk die Landie se ligte soos twee soekligte wat die nagruim inskyn.

Op pad huis toe, selfs met die brandstofpedaal diep ingetrap, sukkel Hein om 90 km/h te haal. Die Land Rover wil net niks weet nie. Boonop skyn die ligte flou en hy neem hom voor dit is die eerste ding wat hy gaan regsien.

Kort ná negeuur is hy uiteindelik by die huis nadat hy vir Matt so in die ry gegroet het. Hy hou in sy motorhuis stil, klim uit en loop om sy nuwe kopie om hom van nader te bekyk. Plek-plek slaan die roes deur, maar hy troos hom daaraan hy gaan net op die strand ry met die Landie.

Met dié vooruitsig sleep die werkweek traag verby, maar toe dit uiteindelik Vrydagmiddag is, word die visgerei en nodige proviand gelaai. Die plan is om te ry tot by Amatikulu en dan met die strand langs tot op Mtunzini te ry.

Die rit tot by die see verloop heel rustig en Hein raak skoon ingenome met die voertuig. By die see staan reeds 'n klomp mense langs die strand en hengel, en Hein blaas die Landie se bande af. "Jy's reg," sê hy vir Matt toe hulle stilhou. "Met dié Landie rol ons Sodwana se duine op... man, hierdie is mos die lewe!"

Dit raak skemer toe hulle die visgerei oppak. Van die grotes het niks gekom nie, maar dit is nie waaroor dit gaan nie. Net die wete dat hulle tot daar kon ry en langs die see kon staan, is al klaar 'n bonus. Nou word daar al met die strand langs in die rigting van Mtunzini gery.

Dit is toe hulle oor die eerste duin ry dat Hein voel iets is nie pluis nie. Die ligte is nou nóg swakker; trouens, dit lyk asof dit in die lug skyn en glad nie voor die kar nie.

Hoe nader hulle aan die laaste duin vorder - die hoë een voor die parkeerterrein - hoe meer lyk die Landie se ligte soos twee soekligte wat die nagruim inskyn. "Hier's fout," sê Hein. "Ons moet maak dat ons by die huis kom."

Hulle hou by die naaste vulstasie stil om die bande op te pomp en sien toe in die lig dit is die Landie se hele neus wat so effens in die lug staan. "Ek hou nie hiervan nie," erken Matt.

Die 40 km terug Eshowe toe vorder stadig en word in stilte afgelê. Tuis trek hulle die Landie in die motorhuis en Matt is soos 'n wafferse werktuigkundige met flits en al is onder die voertuig in, net om binne minute weer uit te seil.

"Die onderstel is aan albei kante gekraak. Die ouens het hom gesweis, maar hulle het 'n gemors daarvan gemaak. Ons kan bly wees ons het dit tot hier gemaak. Dit is ook hoekom die voorkant so skeef lyk... g'n wonder daai Jakes was so vriendelik nie."

Hein skud sy kop en wonder hardop hoe nou gemaak. Maar Matt het 'n plan. "Môre gaan koop ons staalstawe by die skrootwerf en dan hys ons dié Landie op tot hy mooi waterpas staan. Dan sweis ons die stawe vas waar die onderstel gekraak is, verf die hele gedoende swart en verkoop hom so gou as moontlik."

Binne 'n week tref die koerantadvertensie 'n Landie-entoesias se oog: "WINSKOOP! 1965 Land Rover, ex-weermag, lae kilo's, R2 000, eienaar verplaas, moet verkoop." Hy daag met kontant in die hand op en reken wanneer hy met dié voertuig klaar is, sal Hein hom nie herken nie.

Hein is verlig dat dinge uitgewerk het, maar daardie geld brand 'n gat in sy sak. Hy soek 'n ding vir die strand. "En wat gaan jy volgende koop wat 'n latente gebrek het?" vra sy vrou.

Hein se blitsige antwoord betrap haar onkant. " 'n Duinebesie," sê hy. "So 'n geel ene wat ek gesien het. Met hóm gaan ons die strand oprol. Dis mos die lewe!"

Hierdie artikel het oorspronklik in Desember 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

Christie Gerber

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM