Reis

RUBRIEK: Soos ’n uil op ’n kluit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Waar is die pad, wonder ek terwyl die droë rivierloop waarin ek ry, in 'n swartwattelbos doodloop. Wag 'n bietjie... ja, daar voor draai hy skerp na links, oor die rivier se wal. Ek frons wanneer ek sien hoe hoog die wal is. Die Isuzu mu-X waarin ek ry, is eintlik nie gemaak vir sulke hindernisse nie.

Ek is in die Oos-Kaap, op soek na 'n lekker agterpad van Gauteng tot in die Addo-olifant- nasionale park. Toe ek my beplanning gedoen het, het die Katbergpas na 'n goeie opsie gelyk, en my vrou het my vertel van die nabygeleë Devil's Bellows-pas wat sy 13 jaar tevore met 'n Volkswagen CitiGolf aangedurf het. In daardie stadium was ons pas getroud en sy het vir Natuurbewaring gewerk.

Sy moes die bergpas destyds ry om sensus te neem van indringerplante, en sy onthou hoe sy gereeld klippe moes pak om die Golf deur slote en gate te kry.

Maar sy't niks gesê van dié hoë rivierwal nie!

Ek klim uit en bekyk die storie. Ja-nee, ek sal moet klippe pak, want die mu-X het nie die nodige naderhoek en grondvryhoogte om sonder hulp oor hierdie wal te kom nie. In die rivierloop is daar nét sand en takke, en ek stap teen 'n skuinste uit om klippe te gaan haal op 'n rantjie.

Op pad soontoe ontdek ek die toegegroeide tekens van die oorspronklike pad - dis seker hierlangs waar my vrou destyds met die Golf gery het. Ek het dit nie vroeër gesien nie en verkeerdelik die rivier se droë loop gevolg!

Dit neem amper 'n uur om genoeg klippe van die rantjie tot by die hindernis aan te dra, maar ek is uiteindelik gereed om die wal aan te durf. Ek klim terug in die Isuzu, druk die aansitterknop en ry versigtig vorentoe. Kort-kort loer ek deur die oop venster om te kyk of die voorwiele in die regte rigting wys.

Versigtig ry ek teen die kliptrappe uit en die Isuzu sy neus styg skerp boontoe. Die voorwiele kom bo-op die wal tot rus en ek lig my voet van die versnellerpedaal en trek die handrem op. Genugtig, maar die Isuzu staan só skuins dit voel asof jy hom soos 'n vuurpyl maan toe kan lanseer!

Om seker te maak die agterwiele gaan ook teen die kliptrap uit volg, maak ek die deur oop en loer agtertoe. Ja, dinge lyk goed. Skielik stotter die Isuzu se enjin en vrek. Wat de joos? Ek druk die aansitterknop en die knormoer sing: "Djie-djie-djie-djie-djie"... maar niks.

Ek sit 'n rukkie en dink waar die probleem kan lê. Dit moet sekerlik brandstof wees, maar die tenk is tog kwartvol? Dan besef ek: Die Isuzu staan só erg skuins dat die diesel in die onderpunt van die tenk lê, en nou suig die pomp net wind.

Ek klouter teen die treeplank af en staan met my hande op my heupe langs die geknelde kar. As ek net sy neus van daardie wal af kan kry, sal die pomp weer diesel suig.

Ek kan die outomatiese ratkas in neutraal sit en die Isuzu van bo af probeer afstoot, maar dan is daar niemand in die kajuit om die handrem op te pluk nie - en as die kar aan die rol gaan, gaan hy buite beheer in daai swartwattelbos invaar. En dít kan tot groot skade lei.

Gelukkig kon my vrou destyds die boonste paadjie volg en nie met hierdie wal worstel nie.

... ek onthou 'n kameelperd se skurwe tong teen my gesig en 'n blondekopdogtertjie wat straal terwyl sy 'n llama omhels.

Dit is vandag ons 14de huweliksherdenking en ek sou haar graag wou bel om dankie te sê vir die goeie jare tot dusver en vir ons pragtige kind, maar hier is geen selfoonsein aan die voet van die Devil's Bellows-pas nie.

Ons het mekaar in 1999 in Engeland ontmoet toe ons albei met 'n tweejaarwerkpermit daar gaan geld maak het om deur Europa te toer. Ses jaar later, in 'n leeu-navorsingskuiling in die Kgalagadi- oorgrenspark, het ek haar op 'n geboë knie gevra om met my te trou.

Skielik word my terugblik deur 'n plan onderbreek: Die beste manier om die Isuzu van die wal af te kry is om die grond agter die voorwiele weg te grawe sodat die Isuzu stadig van die wal af kan terugrol terwyl ek my hand op die handrem hou.

Ek tel 'n tak op en begin terstond grawe. Dis warm en die sweet tap my af. Nadat ek omtrent 'n uur en 'n half gegrawe het, is my hande rou en bloedbelope, maar die wiele is los en die Isuzu behoort vanself terug te rol as ek die handrem laat sak.

Ek klim terug agter die stuur, druk die aansitterknop - "djie-djie-djie" - sodat ek die ratkas in neutraal kan sit, en druk die rathefboom tot by N. Dan laat sak ek die handrem effens en die Isuzu rol inderdaad stadig terug. Sukses!

Terug op gelyke grond druk ek die aansitterknop, nou vol moed dat die pomp diesel gaan suig. Die knormoer wikkel gretig, maar die enjin weier volstrek. 'n Liggie met 'n simbool van 'n moersleutel flikker op die instrumentepaneel.

Ek druk die knop weer en weer, maar niks. Die brandstofpype of dalk die inspuiters word deur lugborrels verstop, besef ek. Ek klim uit en gaan sit troosteloos in die koelte van 'n boom en teug aan my laaste water.

Ek vererg my vir daai aansitterknop. In ouer voertuie kan jy die sleutel draai tot hy een keer klik sodat die dieselpomp en die element aangeskakel kan word (sonder om die enjin te swaai).

Dan skakel jy alles weer af, draai die sleutel wéér tot by die eerste klik, en herhaal die proses totdat die lugborrel met 'n bietjie geluk ontsnap. Met 'n outomatiese aansitterknop is sulke delikate geneeswerk egter onmoontlik.

Vervlakste tegnologie! Raak rustig, jy mag nie op moedverloor se vlakte gaan sit nie. Dis nie heeltemal waar dat ek my vrou in Engeland ontmoet het nie. Ek dink terug aan die dag toe ons ouers aan mekaar bekend gestel is.

Haar pa en my ma het oor vakansies in die Kaap gesels en ontdek albei ons gesinne het in 1978 in die High Noon-wildtuin naby Villiersdorp vakansie gehou. Ek en my vrou was in daardie stadium albei tjokkers van ses jaar oud.

My toekomstige skoonpa het vertel dat sy dogter nie wou huis toe gaan nie. My ma het sy sin voltooi deur te vertel van 'n dogtertjie wat 'n llama-baba om die nek beetgehad en blou moord geskree het toe haar ouers haar en die dier wou skei. Skoonpa het verbaas gevra of óns dalk die gesin was wat uit 'n Chev Nomad gepeul het toe 'n kameelperd sy kop by 'n luik in die dak gedruk het.

My geheue laat my effens in die steek oor die gebeure van 1978, maar ek onthou wel 'n kameelperd se skurwe tong teen my gesig en 'n blondekopdogtertjie wat straal terwyl sy 'n llama omhels. Ek druk die aansitterknop vir die hoeveelste keer en die knormoer sing eentonig: "Djie-djie-djie-djie-djie", maar die enjin wil stééds nie vat nie.

Dit gaan nie help ek sit hier in sak en as totdat iemand verbyry nie. Dit kan dae en selfs weke duur voor iemand weer die Devil's Bellows aandurf.

Op die enjinkap van die Isuzu is die volgende uitgepak: Een draagbare GPS wat wys die naaste dorp, Whittlesea, is 40 km hiervandaan; een opwenflits ingeval die donker my oorval op pad na Whittlesea; twee sakkies grondbone-en-rosyntjies, want Napoleon het gesê 'n weermag marsjeer nie op 'n leë maag nie; een jagmes vir wanneer ek my moet verdedig teen 'n honger ongedierte; en twee neon-gloeistokkies vir nugter weet waarvoor.

Ek prop alles in 'n rugsak saam met 'n warm baadjie en skryf 'n nota wat ek in die Isuzu se voorruit sit: "Enjinprobleme. Naam, ID-nommer, te voet op pad na Whittlesea. Vertrek om 15:00, Maandag 4 November. Bel my vrou op hierdie nommer as ek aasvoëlkos is." Ek kry skoon 'n hol kol in my maag oor die besluit om die voertuig agter te laat en te voet hulp te gaan soek.

As ek maar net nie teen daai wal gestop het nie. As ek hom net in een ononderbroke beweging uitgery het, was ek nie in hierdie verknorsing nie, maar dit gaan nie help ek stenig myself nie. Dis tyd om te stap as ek vóór 23:00 vanaand op Whittlesea wil wees.

Ek draai vir oulaas om en kyk stip na die Isuzu. Dalk moet ek daai aansitterknop nog één laaste kans gee. "Djie-djie-djie-djie-djie-djie-djie-djie-djie-djie-djie-djie... broem!"

Hierdie artikel het oorspronklik in Desember 2019 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM