Op die dorpie in die Noord-Kaap waar ek 'n kind was, was "oorsee" aanvanklik vir my net een plek: Israel - die Heilige Land.
Dit was in die laat jare sestig, lank voor TV, die internet en Boeing 747's. Inligting oor die wye wêreld anderkant ons dorp se klipkoppies was toe nog nie vrylik beskikbaar nie, veral nie vir 'n vyfjarige nie.
Een keer per jaar, gewoonlik in Desember, het ons in die Valiant gereis na die Natalse Suidkus. Hibberdine toe. Na Oupa-hulle toe.
Dis min of meer waar die heelal vir my geëindig het: By Hibberdine.
Anderkant dit was daar net water. Totdat oom DeWet en tant Rina, vriende van my pa-hulle, op 'n Bybeltoer Israel toe is.
Bybeltoere, gewoonlik met 'n predikant as toerleier, was destyds die in-ding op die platteland.
In die Kerkbode en Voorligter was advertensies daarvoor: "Besoek die Heilige Land saam met ds. Fanie Smit. Agt dae, sewe nagte, aandetes ingesluit. 'n Geestesverrykende ervaring wat u lewe sal verander."
Of so iets.
Toe oom DeWet-hulle terugkom van Israel af, het hulle ons een aand na hulle huis genooi. In die sitkamer was die skyfieprojektor klaar gereed.
Toe kyk ons na oom DeWet se Israel-skyfies op die wit skerm wat voor die kaggel opgeslaan is: Oom DeWet en tant Rina by Jerusalem se klaagmuur; oom DeWet en tant Rina op die berg Golgota; en - vir my die hoogtepunt - oom DeWet en tant Rina wat in die Dooie See ronddryf, met kop en tone wat hoog bokant die water uitsteek!
Ek het skielik met ander oë na oom DeWet en tant Rina gekyk. Hulle was al op 'n plek, ver, ver van ons dorp af, waar jy op water kan dryf sonder dat jy hoef te kan swem. Jy gaan lê net, en ploeps!, daar dryf jy.
Oorsee.
Miskien is dit daar waar my liefde vir reis begin het, want is dit nie maar wat reis in 'n groot mate is nie - 'n soektog na 'n plek waar allerhande buitengewone, eksotiese dinge met jou gebeur?
Toe is daar die Ooste
Mettertyd het my wêreld gegroei.
Ná Israel, dink ek, het ek van Japan, oftewel "die Ooste", bewus geword.
Ds. Neil Verwey en sy vrou, Peggy, het destyds sendingwerk in Japan gedoen - maar almal het gepraat van "die Ooste".
Op 'n dag het hulle in 'n Peugeot-stasiewa op ons dorp aangekom om ons te kom vertel hoe hulle die Japannese kersten.
Hulle het ook skyfies in die kerksaal gewys van Japannese in tradisionele gewaad; van Japannese wat tee uit sulke klein koppies drink; van Japannese wat bid…
Oorsee.
In daardie tyd het Stevie Ferreira se pa, die rykste man op die dorp, ook 'n Ford Mustang gekoop. Met 'n linkerhand-stuurwiel.
"Oorsee sit al die karre se stuurwiel links," het my pa verduidelik.
Vreemd. Dit het my nóg meer oor oorsee laat wonder.
Watter land het ek ná Japan leer ken? Dis moeilik om te sê, want iewers in my sesde jaar het ek die rak met die National Geographic-tydskrifte in ons dorpsbiblioteek ontdek.
Ek onthou foto's van vroue in klompe, mans in Skotse rompies en klein mensies met geverfde gesigte in 'n oerwoud.
National Georgraphic was min of meer die enigste plek waar jy nou en dan 'n bostuklose vrou kon sien - al was dit 'n effe oorblufte vroulike lid van die Witoto-stam diep in die Amasone en met 'n ysterpen deur die neus.
Volgende het ek "die Britse Eilande" ontdek. Dit was in 1969 en oral het die grootmense gepraat van Dawie de Villiers se Springbokke wat deur die Britse Eilande toer.
Ek het per bus ingery na Manhattan en dit was presies soos ek gedink het oorsee sal wees: Alles was groter en dit was asof die kleure helderder en dieper was, want dit is nog 'n ding wat reis aan jou doen: Dit verskerp jou sintuie.
Ek sien myself op ons stoeptrappe sit met Gerhard Viviers se stem wat in kortgolf oor die Blaupunkt-radio'tjie krap en styg en daal, styg en daal: "… Jan Ellis het die bal… en hy hardloop… hy hardloop… hy moet hom kry… Jannie!...Jannie!..." terwyl ek probeer dink hoe dit moet lyk daar waar die Springbokke nou speel.
Groei daar ook aalwyne? Is daar windpompe? Loop die vroue daar ook kaalbors soos in National Geographic?
Oorsee was vir my ook 'n gevaarlike plek, want daardie 1969-toer het ook as die "betogertoer" bekend gestaan.
Die betogers - my pa-hulle het hulle ook "takhare" genoem - was gekant teen apartheid en het probeer om die toer te verongeluk deur op die veld te storm wanneer die Bokke speel.
Ek was bang vir betogers, want hulle was "volslae kommuniste", het ons die grootmense hoor sê. (Gelukkig was daar nie van hulle op ons dorp nie.)
Die kommuniste, is ek geleer, woon hoofsaaklik in Rusland en "Rooi China" en hulle wil ons land kom vat.
China het my nogal bekommer Iemand by die skool het gesê hy het agterop 'n Chappies-papiertjie gelees dat as al die miljoene Chinese op dieselfde oomblik in die lug sou spring en land, dit die aarde uit sy wentelbaan sou gooi.
Sulke dinge ontstel jou nogal as jy ses, sewe jaar oud is en in die Noord-Kaap woon.
Maar op die ou end het die onbekende wêreld "oorkant die water" my meer aangetrek as afgeskrik, veral nadat ek hier in st.6 rond die eerste keer van 'n ander interessante oorsese plek gehoor het: Amsterdam.
Meer spesifiek Walletjiestraat, in Amsterdam se rooiligdistrik.
Stoffel Venter, 'n vriend, het beweer sy oudste broer, Flip, was al in Walletjiestraat, maar Stoffel het daarvan vertel asof hy alles met sy eie oë gesien het.
"Die prostitute daar sit sommer in die vensters," sou Stoffel met pouse vertel.
"Genuine!?" het drie of vier van ons ongelowig gevra, want op ons dorp was selfs 'n meisie in 'n minirok iets ongewoons.
"Ja, party van hulle sit daar en dra nie eens klere nie."
"Genuine!?"
Oorsee.
Maak soos die Mexikane
Die eerste keer dat ek Mexiko besoek het, was, wel… in ons skoolsaal. Op ons matriekafskeid.
Die afskeid se tema was "Mexiko", en die st.9's, wat die aand gereël het, het garingbome in die dorpskamp gaan uitgrawe en oral in die saal tussen klippe staangemaak.
Daar was ook 'n klein opblaasswembad vol goudvisse, omring deur kaktusse in potte. En ons het paella geëet - uit blikborde. Dit was die Noord-Kaap se weergawe van Mexiko.
Die Wilde Weste-reeks The High Chaparral was destyds baie gewild op TV en een van die hoofkarakters, Manolito, was die enigste bewese Mexikaan van wie ons geweet het.
Die st. 9-kelners by die afskeid het almal soos Manolito probeer lyk.
Barries Barnard het selfs met sy ma se grimeerpotlood vir hom 'n Mexikaanse hangsnor getrek en 'n plastiekrewolwer in 'n holster gedra.
Boenas, wie se ma oorlede was, het niemand gehad om vir hom 'n poncho te maak nie, toe dra hy een van sy ousus se gehekelde shawls.
Op die ou end was my ma die eerste een in ons gesin wat oorsee gegaan het.
Sy het dit eers oorweeg om die passiespele in Oberammergau in Duitsland by te woon, maar het uiteindelik op Taiwan besluit.
Ek bewaar nou nog 'n kiekie van haar voor een of ander tempel in Taipei.
Nadat my ma tuisgekom het, het ons maande lank minstens twee keer 'n week stir-fry met sojasous geëet.
Vandag nog is sojasous vir my simbolies van oorsee. Dis iets anders as kookolie: Dis vreemd en smaak na palmbome.
Dit laat jou dink aan vroue met houtskoene en ooms wat aan sulke lang pype suig en geheimsinnig na jou staar.
Ge-‘dress'…
Ek was al amper dertig toe my kans eers aangebreek het. Ek het pas as joernalis by Huisgenoot begin werk toe die redakteur my inroep en vra: "Het jy 'n paspoort? Ek wil jou New York toe stuur."
Toe begin daardie wonderlike, opwindende jaagtog na paspoorte en visums en, ja, ek het selfs vir my nuwe klere gaan koop, want om die een of ander rede wil 'n mens mos nuwe klere hê as jy oorsee gaan.
Ek onthou nie veel van die vlug soontoe nie. Maar die oggend toe ons vaak-vaak in New York afklim, sal ek nie vergeet nie.
Die eerste ding waarvan 'n mens bewus raak as jy vroegoggend in 'n ander land van 'n vliegtuig afklim, is die lig. Dit is asof die son anderster skyn - skerper.
Ek het per bus ingery na Manhattan en dit was presies soos ek gedink het oorsee sal wees: Alles was groter en dit was asof die kleure helderder en dieper was, want dís nog 'n ding wat reis aan jou doen; dit verskerp jou sintuie.
Dis amper asof ek alles in stadige aksie onthou: Ek het naby Times Square uit die bus geklim. Om my was die hoogste geboue wat ek nóg gesien het.
Die Empire State-gebou het ek dadelik herken. King Kong het teen hom uitgeklouter.
Oral om my was van daardie geel taxi's wat ek so dikwels in flieks en op TV gesien het. Ek was opeens lus en steek my hand in die lug en skreeu nes Robert de Niro of Al Pacino: "Taxi!"
Maar ek het net daar op die sypaadjie bly staan en staar, met my Puma-toksak in die hand.
Oorsee. Uiteindelik.
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 33 (Julie 2007) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.













