Reis

Ry-indruk: Audi se peperduur weeldewaens

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dis rygoed wat ontwerp is om nie net groot gesinne gemaklik te vervoer nie, maar om dit in styl met spoed en veiligheid te doen.

Beide modelle, wat ons in 55 TFSI en in Black Edition-afwerking toetsbestuur is, is toegerus met kragtige V6-turbo-enjins, fyn ingestel om indrukwekkende verrigting met slim brandstofverbruik te balanseer.

Maar dit is ook in die detail - van die Digital OLED-hoofligte tot die indrukwekkende, dog gebruikersvriendelike digitale raakskerms - waar Audi wys wie is baas in sy eksklusiewe segment. So, hoe verskil dié twee sportnutse, wat basies 'n tweeling is, van mekaar? En vir wie is watter model die regte keuse?

Audi Q8 55 TFSI Black Edition: Luukse pierewaaier

Audi Q8 55 TFSI Black Edition: Luukse pierewaaier. Foto: Verskaf
Audi Q8 55 TFSI Black Edition: Luukse pierewaaier. Foto: Verskaf

Die Q8 is die parade-perd van Audi se sportnutsreeks - 'n vyfsitplek-koepee met die lyne van 'n renwa en die luuksheid van 'n straler wat selfs die keurigstes van keurig sal beïndruk. Dit lyk futuristies, en met 'n prys van R2 281 900 (insluitend opsies) verwag jy niks minder as uitsonderlikheid nie.

Onder die enjinkap skuil 'n kragtige 3,0-liter V6-turboenjin wat 250 kW en 500 Nm lewer - goed vir 'n 0-100 km/h-tyd van 5,6 sekondes. Die agtspoed ratkas is fyn ingestel en werk soomloos saam met Audi se staatmaker quattro-vierwielaandrywing.

Die brandstofverbruik (9,9 l/100 km gekombineerd) kan dalk die oë laat rek, maar dit is heeltemal aanvaarbaar vir die grootte en krag van die voertuig.

Wat die Q8 egter onderskei van ander sportnutsvoertuie in hierdie kategorie, is sy ontwerp en afwerking. Met 22-duim Audi Sport-wiele, koolstofvesel-sierpanele en 'n binnekant wat oortrek is met leer en kontrasterende rooi stikwerk, is hierdie Audi allesbehalwe subtiel.

Die digitale OLED-agterligte, kopskerm, en vol suite van Audi se "pre-sense"-veiligheidskenmerke maak van hierdie model 'n motor wat nie net in voorkoms nie, maar ook op die pad, selfvertroue inboesem.

Die bagasieruim (605-1 755 liter) is prakties genoeg vir 'n aktiewe gesin, maar die vyfsitplek-uitleg beteken jy moet tussen styl en funksionaliteit kies.

Agter die stuur voel die Q8 soos 'n ruimteskip - jy beheer alles via twee raakskerms of stemopdragte. Dit laat jou amper vergeet hoe groot die voertuig eintlik is. Die rit is sag, stil en indrukwekkend sportief, veral met die opsionele lugvering.

  • Pryse begin by R1 968 700

Audi Q7 55 TFSI Black Edition: Die pragmatiese pragwa

Audi Q7 55 TFSI Black Edition: Die pragmatiese pragwa. Foto: Verskaf
Audi Q7 55 TFSI Black Edition: Die pragmatiese pragwa. Foto: Verskaf

Terwyl die Q8 fokus op styl en sportiewe flair, is die Q7 die praktiese boetie met dieselfde V6-turbo-vermoë en luukse standaard. Dit lyk minder arrogant as die Q8, maar dit vertoon baie elegant.

Binnelangs besef jy ook dit staan vir niks terug nie.Met sy 7-sitplek uitleg, groter bagasieruim (780-1 908 liter) en brandstofverbruik van 9,3 l/100 km, is die Q7 die ideale metgesel vir langpad-avonture of kinders rond te rits.

Die 0-100 km/h-tyd van 5,6 sekondes wys dat dié pragwa allesbehalwe 'n lomp wa is met 'n agtspoed -ratkas wat sorg vir egalige versnelling.Opsies soos aanpasbare spoedbeheer, hoë-definisie Matrix-hoofligte met lasertegnologie, plaas hom in dieselfde luukse klas as die Q8.

Wat regtig beïndruk, is hoe stabiel en rats hy ry vir 'n voertuig van sy grootte - die vierwiel-stuurstelsel en lugvering laat hom maklik draai en sorg vir 'n gladde rit, selfs oor ongelyke teer.

Binnelangs is die paneelbord dieselfde as die Q8, terwyl dit ultra-luuks voel danksy topgehalte afwerk, leer en tegnologie.Pryse begin by R1 958 000

Twee boeties, twee benaderings - maar dieselfde DNS

In 'n wêreld waar luukse sportnutsvoertuie deesdae al hoe meer kers moet vashou met die jongste tegnologie, treffende ontwerp en dinamiese verrigting, bied Audi se jongste Q7 en Q8 'n gebalanseerde kombinasie van al drie. Foto: Verskaf
In 'n wêreld waar luukse sportnutsvoertuie deesdae al hoe meer kers moet vashou met die jongste tegnologie, treffende ontwerp en dinamiese verrigting, bied Audi se jongste Q7 en Q8 'n gebalanseerde kombinasie van al drie. Foto: Verskaf

Die Audi Q7 en Q8 deel dieselfde kragbron, ondersteltegnologie en aandag aan detail - maar spreek verskillende kopers aan. Die Q7 is vir vir die gesin wat waarde heg aan ruimte, veelsydigheid en daaglikse gerief, sonder om aan verrigting in te boet - en dit natuurlik kan bekostig.

Die Q8 is die keuse vir dié wat 'n bietjie meer "wow"-faktor soek - sy sportiewe houding, skerp ontwerp en tegnologiese flair maak hom die ideale metgesel vir bestuurders wat hul voertuig as deel van hul identiteit sien.

As dit op waarde neerkom, is die Q7 die meer praktiese keuse, veral met sewe sitplekke en ruimer laairuim. Maar vir die bestuurder wat elke keer iets besonders wil ervaar wanneer hy of sy uit die motorhuis ry, bied die Q8 'n premium-ervaring wat moeilik geëwenaar word.

Die beste nuus? Jy hoef nie kompromieë aan te gaan nie - watter een jy ook al kies, kry jy topklas Audi-ingenieurswese, veiligheid en luuksheid. Jy moet net besluit: wil jy die gesinsheld wees, of die stylvolle rebel?

Wilmer Müller

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM