Reis

Ses bobaas plankiespaaie

(Sam Reinders)

'n Plankiespad is nie meer net 'n plek waar jy roomys eet en soentjies steel soos in "Under the boardwalk" nie. Deesdae kan jy langs watervalle, hoog bokant 'n woud of óm 'n boom stap.

1. Dlinzawoud, Eshowe

Kranige voëlkykers kan hier 10 m bo die bosvloer stap op die 125 m lange plankiespad. Hier is jy ooghoogte met die voëls. Wat meer wil jy hê, vlerke? Plek-plek is bankies waar jy kan wag vir 'n skaars withalsbosduif, bloukuifloerie en die skugter bosloerie om gesig te wys.

Aan die einde van die plankiespad klim jy met 'n stel staaltrappe tot by 'n 20 m hoë uitkykdek waar jy bo-oor die boomtoppe kan tuur! Wees op die uitkyk vir die twee inwonende kroonarende wat op die luggolwe sweef.

Waar? Die ingang is in Kangelastraat.

Prys: R40 p.p.; R10 per kind jonger as 18

Oop: Somer van 6 vm.-5 nm., winter van 7 vm.-5 nm. Dis net gesluit op Kersdag.

Kontak 035 474 4029

- Esma Marnewick

2. Laeveld- nasionale botaniese tuin, Nelspruit

Hier stap jy oor 'n stuk aarde wat eers behoort het aan Percy Fitzpatrick, die skrywer van Jock of the Bushveld. Loop onder die boomtonnel van die enorme Raphia australis-palms - die plante met die langste blare ter wêreld. Luister vir die "kok-kok-kok-kok" van die bloukuifloerie en "trrp-trrrrrrrr" van die bosveldvisvanger. Die 500 m lange plankiespad loop met 'n hangbrug oor die Krokodilrivier, voor jy moet moet omdraai en jou eie spore terug volg. Bestel sommer iets by die Red Leaf Fig-teetuin voor jy die pad vat.

Waar? Oos van Madibaweg (R40) tussen Nelspruit en Witrivier, hou jou oë oop vir die bruin inligtingsborde.

Oop Daagliks. Somer van 8 vm.-6 nm.; winter van 8 vm.-5 nm.

Kontak: 013 752 5531; sanbi.org/gardens/lowveld

- Annemarie van der Walt

3. uMthoma-plankiespad, iSimangaliso-vleilandpark

Voëls, kleurryke skoenlappers, miskruiers en selfs 'n olifant of twee kom groet terwyl jy op die sementpaadjie van die parkeerterrein af stap tot by die rand van die water. Van hier af klim jy op 'n verhewe plankiespad deur die bos tot by 'n ruim uitkykdek, wat heel vernuftig rondom 'n enorme Kaapse eshoutboom gebou is.

Eet jou toebie hier in die koelte van die boom en droom oor waarheen in die mooi park jy volgende gaan: Kosibaai, Sodwana, Charters Creek...

Waar? Dis in die Western Shores-deel van die park. Mik vir die Dukuduku-hek, sowat 2 km wes van St. Lucia op die R618.

Oop Somer van 7 vm.-7 nm., winter van 6 vm.-6 nm.

Kontak * 035 590 1633; isimangaliso.com

- Tamlyn Jolly

4. Summerstrand-plankiespad, Port Elizabeth

Die pad is dalk nie héélpad van plankies nie, maar dis steeds die moeite werd om hier 'n ent te kom stap. Dit begin sowat 500 m van die Something Good Roadhouse af. Parkeer jou voertuig hier en mik in die rigting van Hobiestrand.

Dinge raak aansienlik stiller wanneer jy Hobie agterlaat. Jy suiker verby 'n rotspoel waarteen branders klots, eensame menseredderhuisies op stelte (ja, soos op Baywatch), 'n uitkyktoring, en skeerlemmetjieriwwe wat bloot lê teen laagwater. Ná 'n kilometer kom die plankiespad ietwat onseremonieel tot 'n einde by die Flat Rock-parkeer-en-braaiterrein.

Waar? Die plankiespad begin by Hobiestrand.

- Sven Hugo

5. Boomslang-plankiespad, Kirstenbosch- botaniese tuin

Die Boomslang-plankiespad styg geleidelik van die bosvloer af en kronkel deur die Towerwoud tot bokant die boomtoppe, met sy pens wat net-net teen die immergroen blaredak skuur, en spoeg jou sowat 130 m verder weer tussen die boomstamme uit.

Inligtingsbordjies leer jou watter koppe en klowe jy teen dié kant van die Agterberg sien en as jy omdraai en oos kyk, lê die suidelike voorstede voor jou uitgestrek met Stellenbosch se berge op die horison.

Waar? Rhodesrylaan in Nuweland, Kaapstad.

Hektye Daagliks: somer van 8 vm.-7 nm.; winter van 8 vm.-6 nm.

Kontak 021 799 8899; sanbi.org/gardens/kirstenbosch

- Alice Inggs

6. Giant Kingfisher-roete, Wildernis

Die staproete (7 km uit en tuis) kronkel al langs die oostelike oewer van die Duiwerivier - dit wissel tussen 'n bospaadjie en stukkie plankiespad. Voëls en interessante goggas is volop. Wees op die uitkyk vir visvangers, Knysna-loeries en visarende.

Ná sowat 1,5 km trek jy jouself met 'n klein pont oor die Duiwerivier. Van hier af klim die paadjie geleidelik. Hier's 'n hele paar stelle steil trappe wat die knieë wérk. Plek-plek is hier bankies vir 'n bietjie rus. Uiteindelik loop die plankiespad dood by 'n waterval en 'n diep donker poel tussen die rotse. Onthou jou swembroek!

Waar? Draai van die N2 af na die Wildernis-deel van die Tuinroete- nasionale park.

Oop Daagliks van 7 vm.-6 nm.

Kontak 044 877 1197; sanparks.org

- Athane Scholtz

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM