Reis

Shamballa Sanctuary, Tankwa

(Cyril Klopper)

Soek jy 'n stil plekkie om aan jou memoires te werk? Mik na Shamballa.

Terwyl jy tussen die veldblomme en vetplante stap, sien jy akkedisvalke, witkruisarende, en Kaapse suikervoëls bo jou vlieg terwyl dassies, ribbok en rooijakkalsies deur die lae Karoobossies draf.

As jy gelukkig is, kom snuffel 'n tierboskat saans op jou stoep rond vir 'n stukkie braaivleis. Wat jou egter gaan bybly, is die verstommende sterrehemel en die helder maan wat uit die ooste van agter die Roggeberg opkom.

Buiten stap, bergfietsry en voëlskyk is hier ook kunsklasse en selfverrykkingskursusse.

Waar bly ek? Hier is ses huisies redelik ver uit mekaar sodat jy en jou buurman se paaie nie sommer sal kruis nie.

Die Fort is 'n klipgebou wat lyk asof die Franse Vreemde Legioen dit opgerig het. Die Dragon Rock is die luuksste. Dié ruim huis vra vir musiek, wyn en samesyn. Die Sanctuary is 'n basiese rondawel met 'n dakstoep dieper die berg in wat slegs met 'n viertrekryding bereik kan word. Die Shack is 'n eenvoudige huisie met eenslaapkamer en basiese geriewe.

Al die huisies se elektrisiteit word deur sonpanele en windlaaiers voorsien. Die Fort en Dragon Rock het swembaddens.

Wat pla? Die Shack-huisie is te na aan die waenhuis. 'n Stukkende trekker, 'n plas olie en die hoop afgeloopte buitebande en plaasrommel doen afbreuk aan die andersins mooi landskap.

Pryse: Fort: R650 p.p. (hier's slaapplek vir 8 mense in 4 slaapkamers, kinders onder 12 betaal halfprys). Tierkloof: R600 p.p. (slaapplek vir 4). Sanctuary: R1 200 p.n. (slaapplek vir 6 mense) - gaste moet hulle eie linne en kampbeddens bring. The Shack: R450 (slaapplek vir 2 mense). The Dragon Rock: R660 (slaapplek vir 2 mense).

Waar? Shamballa is 55 km van Ceres af op die R355 op pad na Calvinia.

GPS: S33.12619 E19.76528

Klik hier vir meer inligting

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM