TEKS EN FOTO'S TOAST COETZER
Die Gariepdam en Norvalspont-omgewing is vir baie binnelandse Suid-Afrikaners 'n gerieflike oornagplek op pad kus toe, maar met die petrolprys wat meer mense deesdae tuis hou, kan jy dié streek as jou eindbestemming begin sien. Lees hier hoe om die beste van jou besoek aan "die dam" te maak.
Ek het in die Oos-Kaap grootgeword en ons gesin het byna elke wintervakansie die langpad noorde toe gevat om vir familie in die Transvaal te gaan kuier.
Die eerste skof van ons tog het ons altyd gebring na die uitkykpunt oor die Gariepdam, tóé die Hendrik Verwoerddam.
By "die dam" het ons uitgeklim, bene gerek en dan toebroodjies geëet en fleskoffie gedrink terwyl ons ons aan die damwal vergaap.
"Die dam" is 'n belangrike tema in die lewens van baie Suid-Afrikaners in hierdie sentrale deel van die land. Sien, "die dam" se invloed strek veel verder as net die 374 km² aarde wat dit bedek op die grens tussen die Oos-Kaap en die Vrystaat. Water uit die Gariepdam word met 'n ingewikkelde stelsel tonnels en kanale gelei na die Visrivier by Cradock, en ook die Sondagsrivier Kirkwood se kant toe, waar besproeiingsboere al vir sowat 40 jaar die vrugte pluk (en lusern sny) van hierdie waterprojek. Die dam voed ook besproeiing stroomaf van die wal, laer af in die Oranjerivier.
Die dorpie (eers genoem Verwoerddam, maar nou Gariepdam) wat uitgelê is om werkers aan dié reuse-bouprojek te huisves staan vandag nog sterk. Gariepdam is vir baie net 'n plek waar jy aftrek van die N1 om tenk vol te gooi, maar hier's genoeg blyplek en doendinge in die dorpie en die omgewing om jou vir 'n langnaweek besig te hou.
Enkele kilometer stroomaf is die geskiedkundige dorpie Norvalspont. Behalwe vir die hotel is daar nie veel van die dorpie oor nie, maar hier rond het jy toegang tot die Oranjerivier by 'n hand vol goeie blyplekke.
Stap binne-in die damwal
'n Mens sou nooit kon raai dat die damwal vol gangetjies is nie - daar's selfs trappe en 'n hysbak! Die ouens van Waterwese wat verantwoordelik is vir die daaglikse instandhouding van die damwal - 'n span van omtrent 15 - stap heeldag op en af in die damwal om lekplekke te kontroleer en aan te teken.

Joseph Alexander van Waterwese ontmoet my by die uitkykpunt (nr. 1 op foto) en ons ry die kort entjie saam na waar ons toer begin. Joseph wil eers 'n bietjie in die son staan. Hy werk heeldag binne die damwal en dis koud daar, winter én somer.
Binne dié strukture (nr. 2) is 'n sort hyskraan wat na links en regs kan beweeg op 'n spoortjie. Dit word gebruik tydens roetine-inspeksie van die sluise - swaar "stopblokke" word met kabels van bo laat sak in die waterpype in om die watervloei af te sny sodat inspeksie gedoen kan word.
Ons gaan by 'n deur in, klim 'n paar trappe na onder en klim dan in 'n hysbak so groot soos 'n dubbeldeur-yskas. Daar is agt verdiepings binne die damwal, vertel Joseph, en as jy al die gange en trappe stap en klim, dan kan jy 'n volle 13 km binne die betonmaag van die wal aflê.
Die wal, wat in 1971 voltooi is, bestaan eintlik uit net 63 (enorme) betonblokke. Hulle is genommer, en jy behoort die nommers teen die wal (3) te kan raaklees van die uitkykpunt af, mits jy 'n verkyker het.
Ons eerste stop is 'n groot saal reg bokant die vloedsluise (4). Die vloedsluise is groot - elkeen is 8 m hoog en die beweegbare dele van die sluis weeg sowat 95 ton! In die saal is ook plakkate wat die bou van die dam uitbeeld - skoolgroepe kom lê gereeld besoek af.
Daarna daal ons verder af, stap verby 'n enjinkamer (vir wanneer die Eskom-krag af is, en sluise oopgedraai moet word) en bereik 'n tonnel groot genoeg vir 'n bakkie om in te ry - die ingang hiervan is by nr. 5 op die foto. Ons stap nou na buite en kom tot reg teen een van die slikuitlate (6). Nog laer af is die rivieruitlate (7), waar ons omdraai, weer die koue damwal binnestap en stadig terug na bo beweeg. Die hidro-elektriese kragstasie is by nommer 8 en die waterverdelers 9. Die brug is by nommer 10.

Grawe in die geskiedenis
Norvalspont was in die 1800's een van die belangrikste plekke in Suid-Afrika. Dit was 'n kruispad, 'n rusplek, 'n plek wat help vorm het aan die geskiedenis van ons land.
Die plaas waar die dorpie nou staan, het eens Dapperfontein geheet, maar die dorpsnaam kom van die Skot John Norval, wat saam met sy vrou in 1817 al na Suid-Afrika geïmmigreer het.
Die Norvals was aanvanklik in die kambedryf (ja, vir jou hare), want destyds is skilpaddoppe gebruik in die vervaardiging daarvan - en skilpaaie was volop hier rond. Hulle het ook hoede gemaak (jy was net iemand as jy 'n ordentlike hoed gedra het), maar weldra hulle aandag verskuif na verblyf (die Glasgow Pont Hotel), asook die bedryf van die pont self, om mense, diere en voorraad oor die rivier te kry.
Norval se eerste ordentlike pont het hy "The Glasgow" gedoop en dié was hoe jy oor die Oranjerivier gekom het tot die treinbrug in 1889 gebou is en die pont nie meer so nodig was nie.
Tydens die Anglo-Boereoorlog was Norvalspont van uiterste strategiese belang. Een van die blokhuise wat in die oorlog opgerig is, staan nog. Om die waarheid te sê, iemand bly daarin. Dis ongelukkig nie oop vir toeriste nie, maar Zettie en Paul Johns het my genooi om te kyk (goed, ek' t myself genooi…).
Paul het in die 1960's na Suider-Afrika gekom en het eers die Karibadam help bou, en toe ook die Verwoerddam. Hier het hy vir plaaslike nooi Zettie ontmoet en later het hulle saam die hotel in Norvalspunt bestuur.
Tussendeur het Paul die blokhuis omskep in 'n drieverdiepingwoonhuis.
Die vakmanskap is verstommend: elke verdieping voel amper soos die binnekant van 'n luukse woonwa, met elke sitplek en pakplek pasgemaak vir die hoekie waarin dit moet pas.
Norvalspont is nie meer veel van 'n dorpie nie, maar maak seker jy loer in by die hotel om sy vergange glorie te ervaar.
Besoek ook die konsentrasiekamp wat in 1900 suid van Norvalspont uitgelê is. Teen 1902 was hier byna 3 500 mense in aanhouding, en ten minste 412 mense het gesterf van die haglike toestande waaronder hulle aangehou is.
GPS S30.64516 E25.45598 (konsentrasiekamp)
Neem daai klassieke foto
Daar is drie goeie plekke waarvandaan jy die damwal kan afneem. Die maklikste een is die parkeerplek waar meeste mense stop wanneer hulle oor die dam ry.
Foto gemerk A is daarvandaan geneem. As jy tyd het, ry na die brug (10 op foto hierbo) waarvandaan jy 'n foto soos die foto gemerk B kan neem - albei dié foto's is in 2010 geneem toe die dam oorgeloop het.
Maar die beste fotohoek waarvandaan jy die hele damwal kan sien, is die een vanaf 'n koppie wat 'n mens maklik misry. Dis teerpad tot by die parkeerplek (GPS S30.62971 E25.49785) en dan volg jy 'n voetpad (in die rigting van die damwal) vir sowat 140 m tot by die fotoneemplek.

Hierdie artikel fokus op dié deel van die Gariepdam rondom die damwal en Norvalspont. Hierdie deel is naby die N1, en dus maklik bereikbaar wanneer jy see se kant toe ry uit die binneland. (Die ander damdorpies - Bethulie, Oviston en Venterstad - lê aan die ánder punt daarvan.)













