Die konsep het nog nie in Suid-Afrika posgevat nie, maar die Pretoriase wabouer Brandon Hardie het nou 'n reeks bekend gestel.
Toy Haulers het sewe jaar gelede die eerste keer plaaslik kop uitgesteek by Jurgens Ci se sestigste verjaardagvieringe. Hulle wou die Gypsey-handelsnaam met só 'n model laat herleef en hy is die Gypsey Toyhauler gedoop, maar die projek het nooit op dreef gekom nie.
Ná twee jaar en twee modelle - 'n enkelas, die SX, en dubbelas, die DX - het hulle verdwyn. Sedertdien het geen van die hoofstroom-woonwavervaardigers hulle hiermee bemoei nie. Nou het Brandon, 'n gesoute argitek, sy UniPod-reeks met drie modelle - die BikePod, BushPod en die vlagskip, die ToyPod - gebou.
As 'n mens na die ToyPod kyk, is die voorste deel van die wa die "woonwa", met die laairuim in die stert. Die stert is 'n deur wat afswaai en as oprit dien waarop jy jou quad- of motorfiets tot in die ToyPod kan kry.
Maar Brandon het dinge verder verfyn: As die vrag uit is, word die oprit laat sak tot dit parallel is met die grond. 'n Tent slaan dan oor die blad op en jy het slaapplek vir nog mense in 'n vertrek met 'n soliede vloer. As jy van die stert af vorentoe kyk, slaan 'n koningsgrootte bed links uit die paneel plat na buite, en jy slaap omtrent halflyf na buite.
Hiernaas en links teen die paneel staan die yskas met 'n eethoekie wat die voorste kant by die A-raam volstaan. Dit herinner aan 'n tipiese woonwa-eethoekie en het 'n bankie links en regs met 'n blad wat tussen die twee opslaan. Die eethoekie kan opslaan as 'n enkelbed, en nog 'n blad slaan bo dit van die muur af plat sodat jy 'n stapelbed het.

Die deur is regs voor, en die buitekombuis langs dit, bo die wiel. Die kombuis se kasdeur slaan plat as werkblad, maar jy het nie 'n gasstoof soos wat 'n mens gewoonlik in dié soort buitekombuis sien nie. Brandon sê mense het waarskynlik hulle eie gasskottelskaar.
Die ToyPod het 'n 12 V-220 V-kragstelsel met 'n diepsiklusbattery waarmee al die ligte werk. Brandon gebruik Roadque se onderstelle en die hele romp word van aluminium gemaak. As isolering gebruik hy 25 mm-hoëdigtheidpolistireen en elk van die panele se buitekante kry 'n laag 2 mm-veselglas oor. Dis een vel, wat beteken daar's buiten die rande geen lasplekke nie.
Die binnekant kry 'n 3 mm-skeepshoutlaag wat afgerond word met nog 'n glasvesellaag van 2 mm. Brandon kan ook die binne-uitleg aanpas as jy spesifieke behoeftes het. Verder kan jy self oor die kleur besluit - dit kos wel ekstra.

Die ToyPod is 4 m lank, 2,5 m breed en 2,6 m hoog, en Brandon verwag hy gaan die skaal rondom 'n ton trek en in die omgewing van R200 000 kos.
Die BushPod is gemik op slepers met 'n gewone ligtevoertuigrybewys en is effens korter (3,7 m) as die ToyPod, maar het 'n opwipdak. Buiten dat hy heelwat ligter is, pas hy ook in 'n standaardmotorhuis.
Die BushPod se uitslaanbed en buitekombuis is aan die teenoorgestelde kant as dié van die ToyPod, en voor kry jy net 'n enkelbed. Die wa weeg in die omgewing van 'n halwe ton en die prys begin by R100 000. Die BikePod pas tussen die ToyPod en die BushPod in en kos rondom R140 000.
Kontak: 072 192 2845; sales@unipod.co.za; unipod.co.za

Lees al die nuusbrokkies wat in ons Junie-uitgawe verskyn hier.












