Foto's: Marzahn Botha
Een groot teaterstuk. Dís wat dié toer is, sê Phil van Wyk, toergids van Bhejane 4x4 Adventures. Elke dag het 'n ander soort drama waarin jy jou kan verlustig.
Sy Land Cruiser is gepak soos 'n trein in Indië. Langsaan staan 'n Hilux wat nét so kreun onder sy vrag van 750 kg. Dié behoort aan Harry Kielblock, Phil se vennoot. Saam met sy manskappe, Malcolm Gawie en Hansie Ruben, 'n Nama van Goghas, ry Harry daagliks vooruit om te sorg vir die gemak van die klante by die ses verskillende kampplekke op die roete.
Die voertuie dra elk 40 l diesel, yskaste, water, tente en kos vir 27 mense. Ons praat hier, vir die tien dae, onder meer van 70 kg vleis, 155 eiers en 10 kg kaas.
Arebbusch Travel-lodge, Windhoek, tot Grashoek | 600 km
Bymekaarkomplek
Dis maklik van Windhoek af tot by die Arebbush Travel-lodge. Kies koers op die B1 na Okahandja, dan na Otjiwarongo. Hier is 'n Spar en 'n groot Tops, maar pasop vir die ouens met die lang vingers - daar was al berigte van toeriste wat lelik deurloop.
Op pad na Otavi flits die granietkoppies en balrotse verby en jy sien koedoes langs die pad. Maak vol by Grootfontein en kies die B8 Noord tot by die C44 en draai regs. Hou stil by die pittige pienk woonwaentjie wat deur Bernard Shilongo beman word en koop rissiebiltong en droëwors. Jy gaan dit nodig kry op die 75 km sinkplaatpad na die Tsumkwe-bewaringsgebied.
Die makalanipalms (Hyphaene petersiana) staan in die noorde soos wolkekrabbers aan weerskante van die pad. Dis dieselfde palmbome wat wuif in die son waarna wyle André P. Brink in sy boek Anderkant die stilte verwys.
"Die sinkplaatpad is 'n goeie toets of jou wiele te hard of sag is. As dit te hard is, gaan jy lekker stamp," sê Phil.
By die westelike hek van die bewaringsgebied word besoekers herinner aan die rooi lyn wat al die pad oor die breedte van Namibië loop.

Dag 1 | Dagsê by Grashoek | 12 km heen en weer van die hek
'n Ou-ou kultuur
Nigao Niaici noem homself die wysheer van die Ju/'Hoansi-stam. Hy is een van die Boesmans wat besoekers op bosstaptogte vergesel. Nigao se bene is vol snye soos hy homself uitgebloei het toe 'n pofadder hom gepik het.
Dagbesoekers kan die Ju/'Hoansi San- buitelugmuseum besoek om saam met die Boesmans in die bos te stap. Dit kos R150. Jy kan ook saam met hulle dans en by die vroue sit as hulle krale maak van gekapte volstruiseiers. Nigao en die Namibiese toergids Werner Pheifer het die inisiatief in 2004 begin om die tradisionele Boesmankultuur te bewaar en vir die wêreld te wys.

Omdat dit 'n bewaringsgebied is, mag die Boesmans nie meer hier jag nie. Neem tyd om na die kunsvlyt te kyk en let 'n bietjie op na die name van die kunstenaars se ornamente. Die opbrengste gaan reguit na dié kunstenaar en R5 word in die Grashoek-beursie gesit.
Weerstaan asseblief die versoeking om vir die Boesmankinders lekkers te gee. Pak eerder potlode of tennisballe in.
Vandag is amptelik die eerste dag van die toer. As jy tot hier gekom het, het jy al amper 'n goeie twee dae lank gery. Phil ontmoet die groep by die hek en deel radio's uit. Met hoofligte aan ry die konvooi na Grashoek, waar die tentekamp reeds opgeslaan is. Hier is nie warm water vir stort nie en jy kook 'n skottel water oor die vuur om jouself skoon te kry. Die toiletgeriewe is ook spartaans.

Dag 2 | Grashoek tot Sikeretikamp, Khaudum | 267 km
Deur diep waters...
Teen 8 vm. is die konvooi gereed om die 147 km tot by Tsumkwe af te lê teen 80 km/h. Groot valsmopanies, mopanies en kameeldoringbome flits verby ons.
Phil sê koue wiele kan enigiets van 1,5 bar voor en 1,8 bar agter wees. Vir warm wiele is 1,8 bar en 2,1 bar reg. Op Tsumkwe draai die konvooi regs by die vulstasie. Honderde oopbekooievaars (Anastomus lamelligerus) roep naby die Naye-Nayepanne (30 km).

"Google Maps sê daar is 'n lekker piekniekplek by die Naye-Nayepan," roep Jacomi Hanekom oor die radio. "Google Maps moet 'n vrou wees, want dit maak nie saak hoeveel letters jy intik nie, sy gee vir jou tien opsies," skerts Phil.
Sowat 2,5 km voor die pan lyk die watervlak hoog. Phil klim op die radio en gesels met die bestuurders van die 11 voertuie agter hom. "Oukei, ek wil hê almal moet een spoed hou. Ry die golf. Bly in jou spoor en laat die momentum jou vorentoe vat."
Bakkies wat gebou is vir ry, surf hier. Haal asem en bly kalm. En stop wanneer jy deur die water is sodat jy die watergrasse onder jou voertuig kan verwyder - dit moenie warm word nie.
Dis nie raadsaam om die Khaudum alleen aan te durf nie. Twee voertuie is die reël; drie is veiliger.
Ons eet eers middagete by die Naye-Nayepan om moed te kry vir die tweede surf-sessie en die terugry na Tsumkwe. Wanneer jy by die vulstasie aankom, is geduld die wagwoord: Die voertuie is dors, die pompe min en die diens stadig.
Ry noord op die D3315 na die Sikeretikamp (60,8 km) in Khaudum.
Die kamp is besonder donker, maar die knetterende vuur hou die tjankende hiënas weg.

Dag 3 | Sikeretikamp tot Khaudumkamp | 114 km
Die Landie-drama
Die Khaudum-nasionale park is nie juis gewild vanweë 'n magdom wild nie. Dis eerder 'n reservaat vir die sandryentoesias of die karakter wat 'n bietjie die krag van sy voertuig wil toets.
Die belangrikste om te onthou is dat jy jou bande moet afblaas, want jy gaan lank in diep sand ry.
Ry van Sikereti af in 'n noordoostelike rigting tot by die Tarik Kora-watergat (64 km). Moenie in die winter te vroeg gaan nie, want die meeste diere kom eers van 11 vm. af watergat toe. Ry in 4x4 sodat die werkslading op jou voertuig minder is. As jy teen 8 vm. wegtrek en jou spoed op 22-25 km/h hou, behoort jy teen 12 nm. by Leeupan 2 te wees vir middagete. Wie weet, dalk verwelkom 'n olifant jou.
Dis nie raadsaam om die Khaudum alleen aan te durf nie. Twee voertuie is die reël; drie is veiliger. Soggens loop die voertuie gewoonlik seepglad in die sand. Smiddae is die sand warm en die voertuie sak weg. Dan is dit byna nog 'n volle 52 km tot by die Khaudumkamp.
Dis juis hier waar een van die voertuie in ons konvooi, 'n Land Rover Freelander, besluit genoeg is genoeg. Eers het hy erg gesweet - dalk oor 'n vuil verkoeler en die grasoorskot van die vorige dag se surf. Die ander krisis is die Landie se bedenklike grondvryhoogte. Hy val amper meer vas as wat hy ry. Danksy 'n Land Cruiser en Phil se vindingrykheid word die situasie beredder. Maar dit beteken ook die Cruiser moet die Landie vir 'n groot gedeelte deur die Khaudum sleep.

Dag 4 | Leeglê in die Omuramba by Khaudumkamp
Waar wild nog wild is
Ons vat vandag af. Dis 'n dag vir 'n vlugtige wildrit in die omuramba, 'n Hererowoord vir "vae rivier" (of antieke rivier tussen die sandduine).
Die vorige dag het twee leeus in die omurambagebied elkeen 'n satelliethalsband gekry, maar hulle kruip vir ons weg. Ons sien darem enkele olifante, troppe blouwildebeeste, gemsbokke en baie aasvoëls. Volgens Phil is die wild hier omtrent wild. Die diere staan nie nuuskierig rond nie, maar glip in die bos sodra hulle voertuie sien.
Harry en die kampspan sorg vir spek en eiers in die bos. Later kry ons kans om ons voertuie se verkoelingstelsel af te spuit, olie af te was en toue vas te maak. Laatmiddag ry ons uit om 'n skemerkelkie by 'n watergat te geniet, terwyl die son oor die omuramba gloei.
Dag 5 | Khaudumkamp tot Mobola Island-lodge | 120 km
Sand begrawe tyd
Die 8 km tussen die Khaudumkamp en die park se noordelike hek is vanoggend gesleep. Dit beteken die spoor is breër en bestuurders veg soms teen die middelman en die sykante. Blaas die wiele af tot 1,2 bar voor en 1,5 bar agter. Ry eerder in laestrek, 3de of 4de rat - selfs donkierat - want 4x4 kan rukkerig en stamperig wees.

In die ry na die noordelike hek glip padbordjies van olifante en wildehonde verby. Hou jou oë op die pad, want die swart stofwolk van die voertuig voor jou kom sit op jou voorruit. Draai regs by die hek, ry noord teen die draad af en volg die pad vir 46 km tot by die B8 of Trans-Caprivi-hoofweg. Dié afstand klink min, maar dinge kan erg skeef loop. Vergeet van tyd hier, want sand begrawe die tyd.
As jy naby Katere op die B8 kom, ry in Divundu se rigting. Skiet effens meer noord na die D3402-grondpad wat parallel met die Kavangorivier loop.
Welkom in Kavangoland, die plek van die Kavango's en hulle lewenslyn, die magtige Okavangorivier. Die rivier vorm vir meer as 350 km die noordelike grens tussen Namibië en Angola voor dit vir 50 km deur die Zambesistreek na Botswana en die Okavangodelta loop.
Die kampplek vir die aand is die Mobola Island-lodge, genoem na die mobolapruimvrug. Dit is op die oewer van die Okavango en behoort aan die Duitser Alexander Both. Swem in die swembad, stap oor die hangbrug en gaan drink 'n skemerkelkie by die Mobola-eilandkroeg. Ná Khaudum se aksie voel Mobola soos 'n salige verposing. 'n Veel rustiger bedryf van die toer, die Vier riviere-roete in die Zambesistreek, lê voor.

Dag 6 | Mobola Island-lodge tot Mukolokamp | 245 km
Hoor die uilesus
Die Vier riviere-roete kry sy naam van die vierriviere-ekostelsel - die Okavango, Kwando, Zambesi en Chobe - wat deur die Kavango- en Zambesistreek vloei. Dit strek van die dorpie Nkurenkuru in die noordooste van die Caprivi tot by Livingstone se magtige waterval in Zimbabwe.
Maak vol by die Hombe-supermark se vulstasie op Divundu en neem 'n groepfoto. En koop sommer 'n paar koue biere of 'n bottel goeie Suid-Afrikaanse wyn. Buite Divundu is die Popawaterval ("plek van water") in die N||goabaca-bewaringsgebied. Voor die Okavangorivier in Botswana vloei (dis 1,2 km breed hier), val dit 4 m en veroorsaak 'n stroomversnelling in die vorm van die Popavalle. Toegang is R20 p.p.p.d.
Klim weer op die B8 en ry sowat 180 km na die oostelike oewer van die rivier tot by die ontvangs van die Bwabwata- nasionale park (voorheen die Caprivi- nasionale park). Kry jou permit en skiet in 4x4 tot by Fort Doppies, voorheen 'n Reccebasis. Fort Doppies kry sy naam van 'n blouaap wat lief was om patrone van die soldate te steel. Terry, die mak leeu, het glo ook hier die soldate se skoene rondgedra. Drink 'n doppie op Fort Doppies se mak diere van ouds. Vandag is hier 'n klompie skugter lechwes wat rondplas.
Fort Doppies kry sy naam van 'n blouaap wat lief was om patrone van die soldate te steel.
Bwabwata se hoofhek is sowat 7 km van Kongola af. Ry deur Kongola en draai regs na die vultasie op die C49. Die afdraai na die Mukolokamp is sowat 8,5 km van die vulstasie af, regs van die C49.
Die kamp het 'n heerlike dek wat uitkyk oor die Kwandorivier. Twee krokodille hou die gaste dop en twee woelige Jack Russells staan wag. Die afsonderlike stort en -badkamergeriewe van die kampterrein is groot en ruim. 'n Mens slaap altyd rustiger by water - dalk is dit die nonnetjiesuil of Afrikaanse bosuil wat almal aan die slaap sus.

Dag 7 | Bwabwata-nasionale park | 80 km
Kyk al die diere!
As jy in die winter in dié geweste is, hoef jy nie te vroeg uit die vere te wees nie. Teen 9 vm. is die lig in Bwabwata nog nie te skerp nie en die diere sak stadigaan af na die Kwandorivier toe. Dis net die groot katte wat douvoordag kom drink.
Besoekers kan die heeldag in die park wees. Jy kan al langs die rivierloop afry óf die Perdeskoenroete aandurf. Die dierevonds is indrukwekkend: sebras, 'n groot trop buffels, seekoeie, olifante en hope rooibokke. Hier's ook wildehonde naby. Volgens ons toergids, Gift Liembani, sal die eerste leeus kom as die buffels hier is. Hulle migreer gewoonlik van Angola, Botswana en ander dele van Namibië af.
Dis moeilik om te begryp presies hoe groot die watermassa van die Vier riviere-gebied is.
"As dit reën van November tot Maart, is die bos 'n moeras, en dan is dit moeilik om die diere te sien. Sodra dit droog word, kom hulle gewoonlik na die rivier toe."
Hengelaars wat met 'n tiervis wil stoei, kan saam met die eienaar van die Mukolokamp, Hennie Köhne, deur die sytakke van die Kwando vleg. Sy rivierboot vertrek gewoonlik om 2 nm. met ses mense aan boord. Dit kos R900 per boot om te gaan hengel - dus R150 p.p.

Dag 8 | Bootrit op die Kwando
Pasop vir die seekoei
Stapgeesdriftiges kan saam met 'n gids langs die sytakke van die Kwando stap. Dis moeilik om te begryp presies hoe groot die watermassa van die Vier riviere-gebied is. Die Kwando ontspring in die Angolese hoogland en vloei suid in die Caprivistrook na die Linyanti-moeras op die grens van Botswana. Onder die moeras loop die Linyantirivier saam met die Chobe, wat dan die Zambesi word. Die stroomgebied in Angola, Zambië, Botswana en Namibië is 'n allemintige 96 778 km2 groot.
Verruil laatmiddag die binnekant van jou 4x4 vir 'n vier uur lange bootrit op die Kwando saam met Hennie en sy Jack Russell. Iewers nurk 'n seekoei in die rooi water - dit lyk so weens die ysteroksied op die bodem. 'n Kwaai seekoeibul storm die boot van die wal af.
Hennie sê die Capriviane eet graag die pitte van die rietknolle as 'n bykos saam met hulle vleis.

Dag 9 | Mukolo na Nkasa Rupara-eilandkamp | 60 km
'n Warm stort!
Ry op die C49 na die Mudumu- nasionale park (40 km). Dis 'n intieme park met sanderige dele, oop savanne, mopanieplantasies en die Kwandorivier wat die westelike deel van Botswana vorm. Hier is geen drade nie, wat beteken olifante kan vrylik oor die grens beweeg.
Ry in 4x4 sodat jou voertuig nie te hard hoef te werk nie. ('n Viertrek is 'n móét.)
Phil ken van spoorsny. Ná 'n uur stop hy by die moeras aan die westekant van die park. Dis asof die twee troppe olifante die verste uithoek gesoek het om in vrede aan die papirusplante te vreet.
Hier is geen drade nie, wat beteken olifante kan vrylik oor die grens beweeg.
As jy weer op die C49 kom, draai regs op die D3518. Hou sowat 30 km aan tot by die Nkasa Rupara- nasionale park. Kamp by die Nkasa Rupara-eilandkamp onder die grootvy en -jakkalsbessiebome wat die nodige koelte gee. Die water roep, maar moenie swem nie. Die kampe is warm en die donkie word laatmiddag gestook sodat almal 'n warm stort kan geniet.
Dag 10 | Nkasa Rupara- nasionale park | 22 km
Die wêreld is nat!
Die Nkasa Rupara- nasionale park (voorheen Mamili) het die grootste vleiland binne 'n bewaringsgebied in Namibië. In die reënseisoen (November tot Maart) is alles nat - sowat 80% van die die park is onder water. Dit beteken dis 'n veilige hawe vir al die diere wat in die rietruigtes, vleiland en moerasse van die Linyantimoeras leef.
Nes by Mudumu is dié park vir die fynproewer. Jy kan nie te ver deur die park ry nie, omdat dit merendeels onder water is. Groot diere kruip weg. Rooibokke, lechwes en seekoeie is volop. 'n Poekie hier en daar. Dis voëlhemel in die watereilandstelsel - meer as 450 spesies bly hier. Nonnetjieseende, dwergganse, ralreiers is oral.
Drink 'n skemerkelkie by een van die panne met makalanipalms op die horison. Dis 'n oase vir troppe nuuskierige seekoeie. Dis ook hier waar jy nadink oor die kontraste in die Caprivi - kontraste van nat en droog, sand en water, mens en dier, vaal en groen...
Dag 11 | Die laaste dag
Sien julle weer
Dis tyd om te groet. Vreemdelinge het vriende geword. Die Bhejane-span pak ook op om oor drie dae 'n volgende hotel-op-wiele in Kaokoland te laat rol. Daar sal sonder twyfel minder sand en water wees as in dié natuurtoneel.

Ek wil ook gaan!
Jy het 'n 4x4 met laestrek nodig vir dié roete. In die winter is dit nie nodig om malariapille te drink nie, maar in die somer is dit veiliger. Sorg dat jy twee noodwiele en 40 l diesel of 60 l petrol saamry. Gaan jou grondvryhoogte na.
Parktariewe Toegang by die meeste parke is R40 vir buitelanders, R30 vir Suid-Afrikaners en R10 vir 'n voertuig met minder as 10 passasiers. Jy kan 'n dagpermit koop by die hek.
Besprekings info@namibweb.com; namibweb.com
GPS S18.115336 E 21.669272 (Bwabwata) S18.100000 E23.600000 (Mudumu) S18.351927 E23.669466 (Nkasa Rupara)

Bly hier
Arebbusch Travel-lodge
Gerieflik as jy net wil oorslaap en vinnig op die B1 wil klim.
Kampering kos R135 p.p. en 'n selfsorgeenheid R1 240 p.n. vir 2. 'n Dubbelkamer kos R1 340 p.n. (ontbyt ingesluit).
Kontak 00 264 61 252 255 arebbusch.com
GPS S22.61175 E17.08641
Ju/'Hoansi-San by Grashoek Dit is 152 km wes van Tsumwe. Kampering kos R40 p.p.p.n. Hier is 2 puttoilette en bosstorte, en die water is skraps (en nie warm nie!). Hout is te koop. Jy kan teen R150 saam met 'n Boesman gaan stap of, ook teen R150, gaan kyk hoe hulle sing en dans.
Kontak lcfn.info/juhoansi
GPS S19.23969 E19.24302 (Grashoek)
Khaudum- nasionale park Toegang tot die reservaat is R10 p.p.p.d. vir Namibiërs en R30 vir Suid-Afrikaners. Dit kos R10 per dag vir jou voertuig. Die Sikeretikamp is basies met 'n warmwaterdonkie (bring jou eie hout) en toilette. Die kamp is R100 p.p.p.n. en R100 per voertuig.
GPS S19.10452 E20.70557
Khaudumkamp Hier is 6 nuwe kampplekke sonder elektrisiteit. Kamp teen R300 p.p.p.n. Elke voertuig moet 100 l water hê, kos vir 3 dae en 40-60 l ekstra diesel en 60 l ekstra petrol.
Kontak 00 264 66 255 403; namibweb.com
GPS S18.50390 E20.75409
Mobola Island-lodge Dit is sekerlik die mooiste kampterrein op die oewers van die Okavongorivier. Geniet die hangbrug en die kroeg op die eiland. Hier is elektrisiteit en besoekers kan op 'n bootrit gaan teen R200 p.p. Jy kan ook gaan skouers skuur met die Kavongo- mense teen R200 p.p. Hier is 6 kampplekke teen R100 p.p.p.n. en 4 rondawels teen R500 p.p.p.n. wat deel.
Kontak 00 264 81 230 3281; mobolalodge.com; mobolalodge@gmail.com
GPS S17.990966 E21.330570
Mukolokamp Hier is 5 selfsorgeenhede en 3 luukse kampplekke met ruim storte (en warm water). Drie van die kampplekke is teenaan die Kwandosytak. Hier is wi-fi by die ontvangskantoor, elektrisiteit, 'n kroeg en 'n swembad.
Kontak 00 264 81 124 0403 of 00 264 66 250 408; mukolocamp.com; mukolo camp@mtcmobile.com.na
GPS S17.875240 E23.341358
Nkasa Rupara- eilandkamp Kamp onder groot jakkalbessiebome. Die donkie word laatmiddag gestook vir warm water. Die rivierloop is yl, maar die kampplekke kyk op die rivier uit. Dit kos R180 p.p.p.n. Selfsorgeenhede kos R900 p.n. en gesinseenhede R1 600 p.n.
Kontak 00 264 81 553 4616 of 00 264 81 147 7798; info@nkasalupalalodge.com
GPS S18.351644 E23.669540












