Reis

Stap die roete van ’n leeftyd!

Foto: Sandra Berning
Foto: Sandra Berning

Die roete word bestuur deur die Sanparke-ereveldwagters en jy moet op 'n veiling bie om te kan deelneem - jy kan ook telefonies bie. Slegs vyf groepe (van agt stappers elk) kan per jaar begin stap. Die roete word in ses skofte van sowat 100 km elk oor drie jaar gestap. Die veiling vir skof een begin by R54 500 per groep (sowat R6 800 p.p.).

Die vyf hoogste bieërs kry toegang tot die staproete. Indien julle bod suksesvol is, stap julle twee skofte per jaar vir die volgende drie opeenvolgende jare - jy kry die datums 'n jaar vooruit. Skofte twee tot ses het 'n vaste tarief van R54 500 per skof wat elke jaar met 10% styg.

Wat behels die stap? Twee gidse stap saam. Jy moet selfvoorsienend én fiks wees. Die skofte strek oor ses dae, julle slaap in die veld en dra alles self. Natuurlike bronne, soos fonteine, sorg vir water. Jy stap elke dag tussen 15 en 20 km, maar geen twee roetes is dieselfde nie - dit hang af wat die diere doen.

Kontak: 082 929 0244 (Louis Lemmer); thekrugertrail.com

Foto: Esma Marnewick
Foto: Esma Marnewick

Wat sê die stappers

Die eerste groepe het in 2018 begin stap. Weg het met van dié stappers gesels.

Lourens van Aardt, Centurion

Lourens en sy dogter, Jennifer
Lourens en sy dogter, Jennifer

Skof 1 en 2

Hoe het jy op die roete beland? Ek en my oudste dogter, Jennifer, oorweeg al lank om een van die roetes in die Kruger te stap. Ek het toevallig op Facebook iets oor The Kruger Trail gelees en toe tydens die veiling een van die vyf groepe gekoop. Vriende het by ons aangesluit en van die ander stappers het via die Sanparke-ereveldwagters by ons uitgekom, dus het ons sommer nuwe vriende ook gemaak. Ons groep se naam is die Pantheras.

Hoogtepunt tot dusver? Op die eerste een in die Pafuri-omgewing het ons naby 'n fontein geslaap. Die diere het heelnag kom drink. Net voor slaaptyd het 'n trop buffels kom drink. Een was nuuskierig en het baie naby aan ons gekom. In die nag het die buffels neffens ons verbygehardloop, sebras het rumoer en olifante getrompetter - alles binne sowat 50 m van ons af!

Wat maak die roete spesiaal? Die gidse is kundig en 'n mens leer baie. Jy stap ook in dele van die wildtuin waar jy andersins nooit sal kan kom nie.

Wenke? Ná skof 1 het ek 'n grondseil gekry, anders sit jy op altyd die grond as dit rustyd is. 'n Bosstort is relatief goedkoop, lig en die moeite werd. Dis ongelooflik hoe 'n koel stort jou verfris ná 'n lang warm dag.

Die Pantheras
Die Pantheras

Mohammed Bana, Durban

Skof 1 tot 4

Hoogtepunte? Ek het gedink ons sal verveeld raak na die tweede skof. Glad nie, die Kruger het 'n uiteenlopende landskap - elke liewe dag is anders! Gidse is kundig en hulle liefde vir die bos is aansteeklik.

Wat maak die roete spesiaal? Die park se ongelooflike diversiteit. Ons het op skof 3 die eerste keer by 'n sterk rivier uitgekom ná meer as 180 km van droë rivierbeddings. Op skof 4 stap jy deur die vlaktes vol wild by Satara. Jy besef opnuut die omvang van die park.

Daar is geen ander plek in die wêreld waar jy heeldag deur ongerepte wildernis stap, laatmiddag na water soek en dan in 'n dun tentjie gaan slaap. Dít terwyl jy deurentyd op die uitkyk is vir gevaarlike diere - wat 'n ongelooflike voorreg.

Wenke? Jy moet fiks genoeg wees om lang ente in die hitte te stap. Almal in ons groep het in 'n stadium blase gekry. Sorg dat jou skoene ingestap is, smeer twee keer 'n dag Vaseline aan jou hakke en pak 'n rolletjie kleefpleister in.

Mohammed en sy seun Yusuf
Mohammed en sy seun Yusuf
Rustyd in 'n droë rivierbedding op skof 3.
Rustyd in 'n droë rivierbedding op skof 3.

Sandra Berning, Rosetta

Skof 1 en 2

Hoogtepunte? Alles! Dit klink dalk cheesy, maar ek geniet elke oomblik. 'n Mens voel springlewendig in die middel van die ongerepte wildernis.

Wat maak die roete spesiaal? Dis die kans van 'n leeftyd - jy stap op plekke waar ander mense nooit sal kom nie.

Wenke? Jy moet stapfiks wees. Dra gemaklike skoene en pak so lig as moontlik.

Sandra en James Berning
Sandra en James Berning

Esma Marnewick het die verkenningstog van die laaste skof - van die Onder-Sabie- tot Malelane-ruskamp - op uitnodiging saam met die Sanparke-ereveldwagters gestap.

Lees haar storie hier.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM