Reis

Damara-roete: Tweedagstap van De Mond na Arniston langs die kus

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Foto's Fiona Mcintosh en Matthew Holt

"Geen dokter kan 'n voorskrif hiervoor skrywe nie," sê die visserman met 'n glimlag.

Dis net die regte woorde om ons te lawe. Ons groepie stappers is moeg van die 4 km se gesloeg op sagte sand.

Ons sit die swaar rugsakke neer en kyk terug. Die son skyn, die goue sand strek so ver as wat jy kan sien, die see vonkel blou en mnr. Visserman is die eerste mens wat ons teëkom sedert ons gister begin stap het.

Die eerste stapdag begin met 4 km op sandstrand, en later word die kuslyn rotsagtig met voorgebergtes en kranse.
Die eerste stapdag begin met 4 km op sandstrand, en later word die kuslyn rotsagtig met voorgebergtes en kranse.

Die Damara-roete is 'n tweedagstaproete wat strek van die De Mond-natuurreservaat tot by die kusdorpie Arniston in die Overberg.

Ons het gister in die reservaat weggespring en 'n plankiespad al langs die Heuningnesrivier gevolg en die omgewing vir damarasterretjies bespied.

Die riviermonding van die Heuningnes is 'n Ramsar-gebied en 'n belangrike broeiplek vir dié voëls waarna die roete genoem is.

Die paadjie het deur die reservaat gekronkel, verby rooikappies en kleurryke vygies. Ons het by 'n uitkykpunt stilgestaan om eers die Indiese Oseaan gade te slaan voordat ons die oornagkampie bereik het.

Die oornagkamp tussen die duine.
Die oornagkamp tussen die duine.

Daar het ons vinnig die rugsakke afgegooi en oor die duine oortrek met gousblomme geloop vir 'n vinnige seeswem.

Daarna is ons terug om kampsake te bekyk: Die tente en die nodige kook- en eetgerei was onder die dek gebêre, en toe die vuurtjie knetter, suiker ons weer terug strand toe vir skemerkelkies. Later het ons aandete onder die helder maan geniet.

'n Buitelugete by die oornagkamp.
'n Buitelugete by die oornagkamp.

Die eerste dag is net 5km se stap, dus het ons allerhande lekker eetgoed ingepak. Ons skouers was vodde, maar die braaivleis - en die wyn - was die swaardra werd.

Vroeër vanoggend het die voëls ons wakker gekwetter en die son was helder. 'n Boggelrugwalvis het sta-a-adig verbygevaar. In die eerste uur was daar nie veel meer te sien nie, en elkeen het in stilte gestap... diep ingedagte.

Ons het darem later in ons geboortepakkies gaan swem.

Ná ongeveer 4 km - toe ons die visserman ontmoet het - verander die landskap en die sagte sand is skielik skerp kalksteendagsome. Van die kranse af kyk ons af na diep maalgate wat oor eeue heen op die rotsplate deur die branders uitgekalwe is.

Die see hier is wispelturig, en die rotsagtige kuslyn het al talle skepe oor die eeue heen geëis. Een hiervan is die Arniston, 'n Britse skip wat in 1815 aan die kus gesink het.

Die roete eindig by die gelyknamige vakansie-dorpie. Selfs op 'n windlose dag slaan die branders in die sloepe vas en 'n mens moet mooi tred hou om nie sopnat te word nie.

Terwyl ons om en oor die rotsblokke en klippiestrande stap, laat swarttobies van hulle hoor en seemeeue swiep rondom ons koppe neer. Hoog teen 'n rotswand raas 'n kransvalk-paartjie en hulle kuikens.

Die Baken, met die visfuike na links.
Die Baken, met die visfuike na links.

Net voor Struispunt swenk die roete noord, maar ons draai vinnig af na die geskiedkundige visfuike by die Baken; dis 'n historiese baken wat eens 'n koperbal ingespan het om sonlig te weerkaats en skepe gewaarsku het teen die gevaarlike Saxon-rif.

Nog 'n trekpleister langs die roete, die Waenhuiskransgrot, kan net met laaggety besoek word. Die geluksgodin is aan ons kant en ons stap oor die rotse na die yslike grot toe.

Daarna is dit 'n kort stappie kranslangs tot op Arniston. Op pad trek 'n suidelike noorkapper en haar kalfie ons aandag af.

Die Waenhuiskransgrot het eintlik twee grotte wat aan mekaar verbind is. Hierdie is die ingang na die kleiner een.
Die Waenhuiskransgrot het eintlik twee grotte wat aan mekaar verbind is. Hierdie is die ingang na die kleiner een.

Ons het vooraf besluit om 'n ekstra aand op Arniston deur te bring sodat daar genoeg tyd is om die grot en dorpie behoorlik te verken, eerder as om te jaag om betyds te wees vir die pendeldiens terug De Mond toe.

Op die Damara-roete sien jy mooi plante en voëls, en kry 'n goeie skoot geskiedenis in. Dis 'n gawe roete om saam met vriende te stap, en 'n vinnige wegbreek uit Kaapstad.

En waar anders kan jy stoksielalleen reg langs die see kamp, met 'n ganse natuurreservaat net vir jouself?

Hoe werk dit? Die Damara-roete is 'n tweedag-staproete van die De Mond-natuurreservaat na Arniston. Die totale afstand is 16,5 km. Daar is veilige parkeerplek by De Mond. (Die reservaat is 26 km van Bredasdorp en 210 km van Kaapstad af.)

'n Pendeldiens terug na jou voertuig vertrek op Dag 2 teen 12.30 nm. van Arniston af (of Dag 3 as jy nog 'n ekstra dag wil bly). CapeNature stuur 'n lysie blyplekke op Arniston wanneer jy bespreek. Daar is hope kothuise om van te kies, maar die Arniston Spa Hotel (arnistonhotel.com) op die seefront is 'n goeie keuse. Daar is allerlei kamers; die meeste het private balkonne met 'n see-uitsig. 'n Dubbelkamer kos vanaf R1 710 p.n., met ontbyt.

Moeilikheidsgraad? Dag 1 is net 5,5 km - dis 'n maklike stappie tot by die oornagpunt. Moet egter nie dat Dag 2 se 11 km jou flous nie. Indien die gety en wind teen jou is, gaan dit maar moeilik met 'n rugsak. Begroot ten minste vyf ure om by die Waenhuiskransgrot te kom.

Wanneer? Stappers kan enige dag begin, buiten Sondae en openbare vakansiedae.

Koste? R580 p.p. Minimum ses stappers; maksimum agt. Kinders ouer as 8 kan saamstap. Bewaringstarief: R55 per volwassene per dag; R35 per kind. Gratis met 'n Wild Card. Klik hier om te bespreek.

Oornagplek Tente, braaitoerusting en eetgerei word voorsien en die pendeldiens is ingesluit. Die tente word opgeslaan onder 'n dak op 'n verhewe platform. Hier is 'n kompostoilet en JoJo-tenk. Die sitplekke en braaiplek is nie bedek nie (ingeval dit reën). Bring jou kampstoof, matras, slaapsak, kussing en handdoek.

Kontak 087 087 8250; capenature.co.za

Wat nog? Indien die gety julle kelder, is dit 'n kort stappie van die Waenhuiskransgrot na Arniston. Stappers kan dan vir 4 km strandlangs stap na die Arniston-monument, wat die Arniston-skeepswrak gedenk.

Fiona McIntosh