Reis

Sterreweg: Vanjaar se mini-maan

Die wentelbaan van die Maan om die Aarde is nogal ingewikkeld. Dit wyk af van 'n perfekte sirkel en is ellipties, met die Aarde effens weg van die middelpunt. Om dinge verder te kompliseer beïnvloed die aantrekkingskrag van die Son ook die Maan se beweging.

Naaste en verste

Die punt op die wentelbaan waar die Maan op sy naaste aan die Aarde is, word die perigeum genoeg en die punt waar hy die verste van die Aarde af is, die apogeum.

Vanjaar was die Maan op 26 Mei die naaste aan die Aarde (357 209 km) en gaan draai dit op 19 Desember die verste (406 604 km) - 'n verskil van byna 50 000 km! Hierdie punte waar die Maan op sy grootste en kleinste is, val vanjaar naby nuwemaan (25 Mei en 18 Desember onderskeidelik), wanneer ons nie die Maan kon/kan sien nie.

Tweede naaste en tweede verste

Toevallig val die tye wanneer die Maan op sy tweede verste en tweede naaste is, baie na aan wanneer die Maan vol is. Vanjaar se "supermaan" is op 3 Desember, slegs 16 uur voor die Maan by sy tweede naaste punt aan die Aarde gaan draai (357 500 km weg). Die "mini-maan", of kleinste volmaan van die jaar, is dié maand, op 9 Junie, slegs 14 uur na sy tweede verste draaipunt vir die jaar (406 400 km weg).

Kry jou kamera reg

Soos ons altyd tydens die supermaan verduidelik, gaan jy nie sommer die verskil agterkom nie. Dit is egter 'n ideale geleentheid om nou 'n foto van die mini-maan te neem, wat jy met presies dieselfde kamerastellings herhaal op 3 Desember met die supermaan. As jy dan hierdie twee foto's langs mekaar plaas, kan jy die verskil in grootte en helderheid mooi vergelyk.

Willie Koorts

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM