Stompies-oord | Kry staan aan wal
Die Stompies-oord lê langs die Stompdriftdam, die grootste dam in die Klein-Karoo met 'n oewer van 25 km. Die dam in die Olifantsrivier is teen 1965 voltooi en die wal staan 'n allemintige 37 m hoog en 400 m lank. Die water word hoofsaaklik vir besproeiing gebruik.

Die dam en geriewe vir kampeerders en dagbesoekers word deur die Stompdrift Kammanassie-watergebruikersvereniging namens die departement van waterwese en sanitasie bestuur, verduidelik die oordbestuurder, Dolly du Plessis. Dolly sien ook om na die besprekings.

'n Mens kan hier kamp, hengel, ski en swem. Hengelaars kom soek hoofsaaklik karp en baber, en ons verneem soetdeeg met heuningmielie is die aaskombinasie wat goed werk hier. As jy saam met jou hengelaarvriende kamp en 'n ander voorliefde het, is hier 'n groot verskeidenheid voëlsoorte wat jy met jou verkyker kan soek.

Die kampplek is aan die noordepunt van die dam, sowat 400 m van die water af. Dit bestaan uit drie grasbedekte terrasse met 21 staanplekke waarvan 7 vir tente bedoel is en 14 vir woonwaens.
Elke staanplek het krag, water en vuurmaakplek, maar jy moet jou eie rooster saambring.
Die staanplekke op die voorste terras het koelte in die middag, terwyl die middelste terras oggendskaduwee kry.

Die mans- en vrouebadkamers is volledig toegerus met opwasgeriewe. Stompies-oord is troeteldiervriendelik op voorwaarde dat honde te alle tye onder beheer en aan 'n leiband moet wees.
Jy moet uit die aard van die saak ook skoonmaak agter jou vierbeenkinders.
Hier geld 'n streng beleid dat niemand jou musiek mag hoor nie.
Kortliks | Stompies-oord
Vis Karp en baber.
Kampplek 21 staanplekke langs 'n dam - op 'n grasperk met drie terrasse.
Ablusiegeriewe Mans- en vrouebadkamers met storte, toilette, wasbakke en opwasplek.
Aankoms- en vertrektyd 14:00 en 10:00 as dit besig dit is, maar jy kan vooraf bel en hoor of dit moontlik is om vroeër aan te kom.
Kontak 082 978 1763; stompiesoord.co.za; stompiesoord@gmail.com
Naaste dorp De Rust 8 km.
Hoe lyk die pad? Teerpad tot in die oord.
Ry & Sleep sê Die selfoonontvangs is op plekke in die oord taamlik goed.
Hengeltoerusting

Duiker van formaat
Die sogenaamde crankbait is die nabootsing van tipiese klein aasvissies. Een so 'n voorbeeld is die Kamatsu Reaper, 'n kunsaas van Adrenalin.
Die aas het twee soliede los staalballetjies binne wat 'n klank afgee soos dit in die water beweeg (soortgelyke aas gebruik meestal kleiner balletjies). Hierdie een maak dus 'n dieper klank, en boonop kan jy die aas lekker ver en akkuraat ingooi.
Tweedens is die ogies waar die twee hoeke en die lyn kom, in der waarheid deel van dieselfde draad.
Dit is ook ongewoon; by die meeste van dié soort aas wat op swartbaars gemik is, is die lyn se ogie nie aan die hoeke verbind nie. Dit is dus so sterk soos kan kom en selfs 'n tiervis sal les opsê.
Afhangend van hoe vinnig jy inkatrol en die lyndikte, duik die aas 3-5 m diep. Dit weeg 23 g en is sonder die lip 7 cm lank. Beskikbaar in hengelwinkels landwyd - ook in Namibië.
Prys Vanaf R130 (beskikbaar in 5 kleure).
Kontak catches@4adrenalin.co.za; adrenalinfishing.co.za
Visgereg

Tuna met 'n sesamkors
Vars tunasteak is koningskos en verg weinig gaarmaak. As jy daarvan in die vrieskas het, is dié resep 'n heerlike en veelsydige manier om dit te geniet. Ontdooi dit stadig in die yskas en druk dit behoorlik droog.
Jy benodig (genoeg vir 4 as snoephappie)
- 2 eetlepels sesamsaad
- 1 teelepel seesoutvlokkies (ons gebruik maldonseesout)
- ½ teelepel varsgemaalde swartpeper
- ½ teelepel bruinsuiker
- 'n knippie droë Italiaanse kruie (opsioneel)
- 400 g tunasteak - vars óf bevrore en ontdooi
- 2 eetlepels olyf- of sesamolie
Só maak jy
1 Meng die sesamsaad, sout, swartpeper, bruinsuiker en kruie saam. (Ek hou van sout in my kos; jy kan 'n raps minder gebruik indien jy dit verkies.)
2 Sny die tunasteak in kleiner porsies van omtrent 2,5 cm dik. Vir my is dit makliker om met kleiner stafies te werk - dit gee 'n groter oppervlakte bros kors.
3 Vryf die tuna oraloor met die helfte van die olie en druk dit dan in die bereide sesammengsel tot die vis oraloor bedek is.
4 Verhit die res van die olie en braai die sesambedekte visvingers vir 1 minuut aan 'n kant - braai al vier die kante. Die gedagte is om dit reg rondom mooi goudbruin te braai met 'n pienk binneste, net soos goeie steak. Gebruik jou beste dikboompan en beheer die hitte soos nodig.
5 Rus die gebraaide vis vir 'n minuut op die snybord. Sny dit dan met 'n vlymskerp mes in dun skyfies en sit die happies voor saam met komkommerskyfies en jou gunsteling- Oosterse doopsous.
Ry & Sleep sê
Die gebraaide tunaskyfies is ook heerlik in 'n vars slaai met tamatie, komkommer, gekookte eier en olywe. My gunstelingmanier om dit voor te sit is saam met sriracha-mayonnaise, piekels en koolslaai in taco's.




















