Brandstofverbruik is vir die meeste mense, veral mans, 'n teer saak. 'n Mens kry soms die indruk daai kilometer-per-liter-syfer van jou ryding bepaal jou status - net soos jou kar, jou rugbyspan, jou posbeskrywing by die werk en hoeveel volgelinge jy op sosiale media het.
Hoeveel keer moes ek nie al luister hoe my pêlle stry oor wie se kar die beste brandstofverbruik het nie. En die verskonings as Willie s'n beter as Braam s'n is... windweerstand, wielgrootte, lugdruk, oktaan, banddruk... álles speel 'n rol.
Die een ding wat egter nooit verander nie, is die feit dat almal se kar ligter op brandstof raak soos die aand vorder, amper soos die gewig van daai vis wat weggekom het.
Jare terug het ek by 'n chemiese vervaardiger gewerk en ons het vakmanne, tegnici en ingenieurs intern opgelei. Die enkellopende vakleerlinge het almal in 'n hostel gebly, en uiteraard was dié blyplek 'n teelaarde vir kwajongstreke.
Veral een voorval sal my lank bybly, maar om dit behoorlik te verstaan is dit belangrik om te weet wat die kenmerke is van 'n vakleerling - of appy, soos hulle algemeen bekend is.
Eerstens verdien 'n appy nie baie geld nie. Ja, dit word elke jaar 'n bietjie meer as hulle die eksamen slaag, maar dit bly maar skraps. En dan is daar is 'n nie-amptelike rangorde onder appies: 'n Eerstejaar stap of ry fiets, 'n tweedejaar kom met 'n afgeleefde motorfiets of bromponie oor die weg, en die derdejaar ry met 'n ou tjor waarvan die enjinkap, een of twee van die deure en die kattebak gewoonlik van kleur verskil. Ook in die kafee is hulle maklik herkenbaar. Hulle is die ouens wat een bottel koeldrank koop en drie strootjies vat. En omdat 'n vol pakkie sigarette vir hulle 'n luuksheid is, koop hulle die rookgoed so een-een.
'n Windlawaai in die ware sin van die woord. En hy het nie 'n kans laat verbygaan om oor sy CLX te spog nie.
Maar onder die oppervlak van 'n appy skuil 'n obsessie met die dag waarop hy gaan kwalifiseer, 'n klomp geld begin verdien en die lewe kan geniet.
Só voltooi 'n kêrel genaamd Johan sy vakleerlingskap, en danksy die groter salaris en aansienlike voordele wat skielik na sy kant toe kom, is hy kort voor lank verloof. Hy skaf natuurlik vir hom 'n splinternuwe motor aan - die duurste wat hy kan bekostig. Dit was 'n Volkswagen Jetta - nie die vlagskipmodel nie, maar die een nét onder hom, die CLX.
Johan het baie vinnig 'n gedaanteverwisseling ondergaan. Skielik het hy anders gelyk, anders gestap en selfs anders gepraat, so asof sy stem 'n oktaaf of wat dieper geraak het. Aan sy arrogansie was daar geen einde nie. Hy't jou in die rede geval en met sy beterweterige houding mooi laat verstaan hy is jou meerdere as dit by kennis en intellek kom. 'n Windlawaai in die ware sin van die woord. En hy het nie 'n kans laat verbygaan om oor sy CLX te spog nie.
Al dié dinge kon 'n mens hom nog vergewe. Maar toe hy sy visier op die vakleerlinge stel, was dit net 'n stap te ver. Net die anderdag nog was hy een van hulle, maar nou verkleineer hy al wat 'n appy is.
Een van sy gunstelingtydverdrywe was om deur die opleidingsentrum te stap en goed kwyt te raak soos: "Julle blêrrie appies moet vinger trek, anders sal julle nooit 'n ryding soos myne kan bekostig nie." Ander kere het hy kom spog met hoe ekonomies sy Jetta is en dan enigiemand uitgedaag: Kyk of jou "blik met wiele" my kar se brandstofverbruik kan ewenaar.
Johan se houding het diep gesny, en dit was nie lank nie voor die vakleerlinge besluit het genoeg is genoeg. In sy afwesigheid hou hulle 'n krygsverhoor en hy word terstond skuldig bevind aan appy-verraad. Sy vonnis word eenparig goedgekeur, maar voor dit voltrek kan word, moet hulle eers 'n bietjie konkel... by niemand anders nie as die veroordeelde se verloofde.
'n Hand vol van hulle gaan verduidelik die situasie aan die aanstaande mevrou, en hulle pleidooi - natuurlik met die aansporing van sjokolade - val nie op dowe ore nie. Sy oorhandig sonder verset die Jetta se duplikaatsleutel én 'n stukkie waardevolle inligting: Die kar se tenk word Maandagaande volgemaak nadat sy en Johan vir die naweek by haar ouers op die platteland gaan kuier het.
By die vulstasie loop die pomp... en hy loop... uiteindelik sluk die kar meer as 50 l.
Die Sondagaand kom die appies bymekaar en elkeen dra 'n geldjie by. Die plan is om elke week petrol te koop en die Jetta se tenk vol te maak vóór Johan vulstasie toe ry. Die eerste week gooi hulle 5 l by, die week daarna 10 l en nóg 'n week later 15 l. Natuurlik sien Johan in sy ritboek hoe sy kar ligter raak op brandstof namate hy die enjin inry. Dit het begin by 14 km/l, by 16 km/l en 18 km/l gaan draai, en nou staan hy al op 20 km/l! Dit het natuurlik tot gevolg dat sy ritboek en sakrekenaar hom nou op sy irriterende besoeke aan die opleidingsentrum vergesel. "Kyk net hier! Hoe meer ek ry, hoe ligter raak hy. Wie van julle kan dít sê?"
Eers het die manne hom so liggies agter sy rug uitgelag, maar hier teen week drie sê hulle in sy gesig vir hom hy is laf. Maar hy laat hom nie van stryk bring nie; hoe minder enigiemand hom wil glo, hoe meer wys hy sy berekeninge is korrek.
Teen die vierde week begin die wraakbende kla oor die petrolbydrae en die besluit word eenparig geneem: Betaaldag is om die draai en die Jetta gaan nog één keer volgemaak word, en dié slag gaan hulle dit ordentlik doen. Daardie naweek word al wat leë bottel en houer is, bymekaargemaak en die manne gaan vulstasie toe. Hulle koop 'n volle 32 l. Die Sondagaand word die Jetta ouder gewoonte volgemaak en Dinsdag pronk Johan alte windmakerig met sy kar se brandstofverbruik: 39 km/l!
Daarna word die tenk nooit weer volgemaak nie, en kort voor lank tref die werklikheid Johan. By die vulstasie loop die pomp... en hy loop... uiteindelik sluk die kar meer as 50 l. Johan gryp desperaat na die ritboek en probeer uitwerk wat dan nou aangaan. Die verbruik kán mos nie binne 'n week van 39 km/l tot by 13 km/l daal nie!
Hy bel die handelaar en boek die Jetta in. Die kar is vir byna 'n maand in die werkswinkel en alles - van die vergasser, instrumentpaneel, odometer en enjin tot die ratkas en banddruk word nagegaan. Die fabriek stuur selfs 'n verteenwoordiger om te kom kyk, maar nêrens is fout te vind nie. Johan dring aan op 'n nuwe motor, maar dít val op dowe ore.
By die werk lyk hy anders: Weg is die breëbros-grootprater, en in sy plek 'n knorpot wat sterk herinner aan 'n gekweste dier. As jy hom enigiets oor die Jetta vra, word jy afgejak. Dan begin hy brom hy gaan 'n ander kar koop.
Twee jaar lank het dit so aangehou, tot Johan uiteindelik 'n pos op 'n buurdorp aanvaar. Hy het nooit gehoor van die appies se vergelding nie, en hulle het eintlik sleg gevoel, want dit was nooit die plan om hom heeltemal te knak nie.
My pa was reg toe hy gesê het: As iets te goed klink om waar te wees, dan, wel, ís dit te goed om waar te wees!












