Reis

Uile: 1; Warm water: 0

Nico Engelbrecht van Pretoria skryf in 2017 aan Weg:

Ons het 'n familieplaas anderkant Dwaalboom, wes van Thabazimbi. Wintermaande boer die familie oor naweke daar.

Daar is 'n kuierlapa en 'n donkie sorg vir warm water. In April is ons genoop om 'n gróót opoffering te maak: Twee nonnetjiesuile het nes gemaak in die donkie se skoorsteen. Hoe nou?

Daar word gestem en die uiltjies wen loshande. My broer Stephan kom tot ons redding. Hy bring sy handstort wat met sonkrag werk en ons maak die water in 'n jerriekan warm in die boma.

Naweek ná naweek druk ons deur. Die vyf uiltjies broei middel-Mei uit en lyk pragtig in spierwit donsies. Ma en Pa dra fluks muise aan en teen die einde van Mei kom die veertjies uit. Die koddige wit gesiggies blaas en sis behoorlik as iemand van bo af inloer.

Op 12 Junie raak die geduld op! Gewapen met een van die kinders se visnetjies skep Oupa Nico die uiltjies versigtig uit die skoorsteen en plaas hulle in 'n uilhok wat langsaan opgerig is.

Wat 'n gelukkige uiteinde: Al vyf lewe en boer nou in die bome op die erf. Dit was die opoffering werd. En die skoorsteen is afgeseël.

Nico het laat weet dié wyfie-uil het weer sewe eiers gelê. Dié keer gelukkig in die uilhuis. - Red.

Die brief het in September 2017 (#155) in Weg verskyn.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM