Reis

Lesers vertel: Uit die boks uit!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Alles loop (meestal) reg

2016 TOYOTA HILUX 2.8 GD6 4x4

Afgesien van 'n paar klein dingetjies wat pla, het hy nog net pret gehad met sy Toyota Hilux, sê Lourens Greyling van Louis Trichardt.

Ek het voorheen met 'n Fortuner gery en toe vir omtrent 'n jaar 'n Hilux Legend 45 gehad.

Die Legend het klein probleempies gehad en ek het twee jaar terug begin jeuk om vir my die splinternuwe Hilux vir R570 000 te koop. Hy is gemaklik, betroubaar, veilig en het hope krag.

As geld nie 'n probleem was nie, sou jy my nou agter die stuur van 'n Land Cruiser 200 VX gesien het, maar ek is doodtevrede met my Hilux, wat ek op 'n daaglikse grondslag bestuur.

Met my 2014-model Wildebeest Exclusive op die standaardhaak verbuik die 2,8 l-enjin 11,76 l/100 km en die syfer daal tot 9 l/100 km wanneer ek nie sleep nie.

Die enjin het genoeg krag om gemaklik teen 120 km/h op die snelweg te sleep, maar ek probeer om altyd effens stadiger as die nasionale spoedperk te ry.

Daar is nie veel wat my van die Hilux pla nie, buiten 'n geraas by die windskerm en die feit dat die radio altyd van die stasie af spring wanneer ek 'n foonoproep met die Bluetooth-stelsel maak.

Die beste bestemming wat ek al met dié sleepkombinasie besoek het, is Shingwedzi in die Kruger. Ek geniet die rustigheid en vreedsaamheid daar.

Everest stel hoë standaard

2014 FORD EVEREST 3.0 TDCI

Daar was dalk gewilder sleepvoertuie beskikbaar toe hy gekoop het, maar sy Ford Everest het hom nog nooit in die steek gelaat nie, sê Willie Jordaan van Krugersdorp.

Ek het eers 'n bietjie rondgekyk voor ek besluit het om 'n splinternuwe Ford te koop.

Ek het egter teen 'n Nissan of die gewilder Toyota besluit (my droomvoertuig is 'n Land Cruiser) - en dit wil voorkom of die Everest uiteindelik 'n betroubare keuse was. Hy is beslis sterk genoeg, en teen R240 000 is hy ook baie meer bekostigbaar.

Ek het twee jaar 'n 2012 Sprite Tourer SP met die Everest gesleep, maar het sedertdien vir my 'n 2017 Jurgens Xcape aangeskaf waarmee ek die laaste jaar kamp.

Niks maak die Ford bang nie en hy kon albei waens maklik teen 120 km/h sleep. Op die oomblik gee hy my gemiddeld 14,29 l/100 km met die Xcape en ongeveer 11 l/100 km daarsonder.

Ons buurlande is hoog op my lys van gunstelingbestemmings, veral die Caprivi in Namibië, dele van Botswana en ook Mosambiek. Die omgewing is altyd mooi en daar is heelwat om te sien en doen. Dit is beslis die moeite werd om daarheen te reis.

Yankee staan sy man

2013 CHEVROLET TRAILBLAZER 2.5 LT

Hy dagdroom oor 'n Ford Everest 3.2 XLT en het selfs 'n Toyota Fortuner 3.0 D-4D oorweeg, maar Gustav Engelbrecht van Centurion is heel in sy noppies met sy Chevrolet Trailblazer.

Ek het my 2013-model Trailblazer as 'n demonstrasiemodel gekoop vir R320 000 en ry al die laaste vyf jaar met hom. Ek gebruik hom ook om my Jurgens Exclusive te sleep.

Ek het net een doelstelling gehad, en dit was om 'n sleepvoertuig te koop wat die meeste wringkrag uitskop wanneer ek teen 100 km/h sleep. Ek het die Toyota Fortuner ook oorweeg, maar besef hy steek af by die Trailblazer wat binneruim, bekostigbaarheid en werkverrigting betref.

Die 2,5 l-turbodieselenjin se optimale wringkrag skop net-net in op 100 km/h; dus verkies ek om teen 105 km/h te sleep. Sodoende het ek altyd die meeste krag tot my beskikking.

Ek is verras met hoe goed die enjin is, veral as jy sy grootte in ag neem en wanneer hy vervaardig is. Die Trailblazer ry ook baie gemaklik. Al wat pla, is die feit dat dié model se radio nie met Bluetooth aan my foon gekoppel kan word nie. En sy standaardbande is effens frustrerend wanneer die lus my beetpak om 'n bietjie in die veld te ry.

Wanneer ek die Exclusive sleep, kyk ek na brandstofverbruik van tot 15,35 l/100 km, maar sonder iets op die haak is dit 8,33 l/100 km. Ons mik gewoonlik Jeffreysbaai toe vir lang vakansies en kamp dan amper op die strand.

Vir korter wegkomkanse verkies ek om in die rustigheid van die Krugerwildtuin te kamp.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM