Reis

V & A: Wat sit daar op die tak?

n Kenner verduidelik watse spinnekop dit is...

ELOISE COSTANDIUS van Kaapstad skryf: Ons het onlangs die Wolhuter-wildernisstaproete in die Krugerwildtuin gestap. Een van die hoogtepunte was om te sien hoe 'n basspinnekop byna haar hele web opvreet - net die ankerdraad gespan tussen twee bome of bosse bly oor. Sy gaan sit dan vir die dag op 'n tak. In die aand spin sy weer die web van voor af. Ons was gelukkig genoeg om op een af te kom net toe sy die onderste punt van die web losgemaak het en die web begin versamel het. Binne sewe minute was net die ankerdraad oor!

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:Eloise is reg, dit is die algemene basspinnekop, Caerostris sexcuspidata. Die nagtelike wawielspinnekop kan 'n web spin wat strek oor'n afstand van tot 1,5 m! Hulle vang meestal motte en ander vlieënde goggas.

Die spinnekop vreet elke oggend die hele web, behalwe die ankerdraad, op. 'n Spinnekop gebruik baie energie om 'n web te spin. Deur die web op te vreet herwin sy die meeste van die sy en vul sy haar energie weer aan. Net 'n paar spinnekopspesies gebruik die doeltreffende metode.

Sy gaan sit dan op 'n nabygeleë tak. Die rug het horingagtige uitsteeksels wat help dat sy uitstekend met haar omgewing saamsmelt.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM