Zelda Bosch van Vanderbijlpark skryf:
My dogter, Nerike Bosch (14), het in ons tuin laventelblomme gepluk toe sy op dié pienk spinnekop afkom wat pas 'n by gevang het - die spinnekop is amper kleiner as die by. Sy het dadelik 'n makrolens op ons kamera gesit en 'n paar foto's geneem. Watse spinnekop is dit en watse vliegies sit op die by?
Die insekkenner Duncan MacFadyen antwoord:Dis 'n krapspinnekop (Thomisus daradioides). Die eerste twee paar bene is gewoonlik langer en sterker as die laaste twee, en het stekels. Die naam is afkomstig van hulle krapagtige manier van beweeg. Hulle lig ook - nes 'n krap - hulle langer bene as iets hulle bedreig.
Die spinnekoppe het dikwels treffende kleure wat wissel tussen wit, geel en pienk. Hulle kan oor 'n paar dae van kleur verander om saam te smelt met die blom waarop dit sit.
Die hinderlaagjagter sit en wag vir sy prooi - dié een het 'n niksvermoedende by gevang. Hulle gif werk blitsig op insekte, wat maak dat hulle 'n heelwat groter prooi kan vang.
Hulle vermorsel nie hulle prooi nie, maar steek gaatjies in met hulle slagtande en suig die liggaamsvloeistowwe uit. Krapspinnekoppe kom algemeen voor in tuine en speel 'n belangrike rol in insekbeheer.
Die jakkalsvliegies aas op die sappe van die spinnekop se prooi. Hulle is kleptoparasiete op roofinsekte en word ook in Engels freeloader flies genoem.
Klik hier vir nog Vraag & Antwoord-briewe uit ons Februarie-uitgawe.













