Reis

Veldfeite: Dié kat het nie fiemies nie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Luiperds in dié stad het ook al mense aangeval. Dis 'n ander prentjie as die een waarvan baie wildkykers droom: Om dié pragtige dier (verkieslik 'n ma met 'n welpie of twee!) in die natuur te sien.

'n Luiperd het hom 'n rukkie tuisgemaak aan die buitewyke van Phalaborwa, my buurdorp, en jag gemaak op die plaaslike honde. Sover ek kon agterkom, het die dier 'n goeie lewe onder die radar gelei totdat hy ontdek en uiteindelik gevang is. Hy is toe na 'n nabygeleë wildrehabilitasiesentrum geneem.

Dis fassinerend om te sien hoe dié dier aangepas het by die stadslewe. Maar dit behoort ons nie eintlik te verbaas nie: Luiperds is van die mins gespesialiseerde grootkatspesies. Ek verwys hier na die groot verskeidenheid habitats waar 'n mens dié dier aantref, en na hoe hulle nie kieskeurig is oor wat hulle eet nie.

Luiperds kom nie net in Afrika voor nie, maar ook in Oos-Asië, waar 'n mens verskillende subspesies kry. Die diere se habitats wissel van tropiese woude, berge en grasveld tot fynbos en woestyn. Dit lyk asof hulle enigste vereiste terrein is waar hulle 'n mate van beskerming het.

Hulle spyskaart wissel ook: Al verkies 'n luiperd om klein en middelslagbokke te jag, sê hulle nie nee vir verskeidenheid nie. Dis ook een van die roofdiere wat ander roofdiere sal eet - ek het al gesien hoe hulle dooie jakkalse en sivetkatte eet.

Luiperds se wisselende habitats en gewoontes maak dit moeilik om presies seker te wees hoeveel van dié diere daar is. Wat ons wel weet, is dat hulle getalle besig is om skerp af te neem - ondanks hulle aanpasbaarheid. Mense jag hulle vir vleis en hulle word dikwels vasgevang in lokvalle wat eintlik vir ander diere bedoel is.

Hulle word ook onwettig gejag vir hulle pels en ander liggaamsdele. Luiperds in Afrika het reeds verdwyn uit 49% van die gebiede waar hulle voorheen voorgekom het, en die spesie word as "kwesbaar" op die IUCN se Rooilys geklassifiseer.

Bykomende bron: panthera.org

Hierdieartikel het oorspronklik in November 2018 verskyn. Feite en geite kon intussenverander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.http://panthera.org

Albie Venter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM