Ek het eendag 'n snaakse storie gehoor van 'n buitelandse gas by'n safarikamp wat die personeel gevra het om 'n "akkedis" uit haar kamer te verwyder. Sy moes toe hoor dis waarskynlik 'n geitjie en is terug kamer toe. 'n Halfuur later het sy teruggekom en geëis dat die reptiel verwyder word, anders gaan sy huis toe. Eers toe is besef die "geitjie" is 'n veldlikkewaan van meer as 'n meter wat haar aangluur!
In der waarheid is veldlikkewane naas die waterlikkewaan die grootste akkedis in Afrika. Die veldlikkewaan se kenmerkende eienskappe is dat sy stert effe korter as sy lyf is en dat sy lyf silindervormig is. Waterlikkewane se stert kan tot 1,5 keer so lank soos die lyf wees en die lyf is platter. Die veldlikkewaan is nogal grondgebonde, maar sal ook bome klim en dikwels skuiling vind in gate in verrotte hout. Hulle is bedags baie aktief en lê groot afstande af op soek na prooi, soos ongewerweldes, slange, ander akkedisse, knaagdiere en voëleiers.
Eers toe is besef die "geitjie" is 'n veldlikkewaan van meer as 'n meter wat haar aangluur!
As hy vasgekeer is, sal 'n veldlikkewaan nie huiwer om homself te beskerm nie. Die eerste stap is om te intimideer deur die keel op te blaas. Daarna sal Ta sy stert inspan. Die stert sal nie sommer jou vel stukkend maak nie, maar dis genoeg om jou die hasepad te laat kies, soos ek al 'n paar keer moes uitvind op 'n stappie in die bos... As 'n laaste uitweg kan hulle dalk byt. Hulle is nie giftig nie en hulle tande is relatief kort, maar die kanse is goed dat die bloed gaan loop.
Veldlikkewane lê 10 tot 40 eiers op 'n slag. Die wyfie grawe 'n gat op 'n veilige plek, lê die eiers, bedek die gat en verkas. As hulle tot tien maande later uitkom, moet die kleintjies na hulleself kyk.
Likkewaanvet en -vel is gesog as medisyne onder tradisionele genesers en hulle word daarvoor gejag, maar dit kom steeds wydverspreid voor en is nie 'n bedreigde spesie nie.













