Verlede maand het ek vertel hoe ek op 'n onlangse besoek aan Namibië in die sand vasgeval het. Dit was baie warm terwyl ek in die sand gegrawe het, en ek het my voorgeneem om ondersoek in te stel na die wetenskap van sandry wanneer ek weer by die huis is.
Om dit in die toekoms te voorkom moet jy verstaan hóékom jou voertuig - ondanks jou beste pogings - in die sand vasval. Ek het meestal op banddruk gefokus, maar het toe tot my groot ontsteltenis uitgevind daar steek meer daaragter. Jy moet jou banddruk verlaag wanneer jy in die sand ry - ons almal weet dit. Die meeste van ons is egter onder die indruk dat dit vastrap verbeter, en dit is in wese waar.
Die kenners sê egter die eintlike rede vir die verlaagde banddruk is om rolweerstand te verminder. As jou bande te hard gepomp is, sink hulle in die sand weg, wat beteken jy ry déúr die sand eerder as daarop. Deur jou banddruk te verlaag vergroot jy jou band se voetspoor. Dit word effens breër, maar aansienlik langer.
Die groter voetspoor verhinder dat die band in die sand wegsak en verminder dus die rolweerstand. Daar is ook meer vastrap omdat 'n groter deel van die band in aanraking is met die grond. As jou bande egter nie opgewasse is teen die sand se rolweerstand nie, gaan hulle begin tol en hulle in die sand begin ingrawe.
As jou bande te hard gepomp is, sink hulle in die sand weg, wat beteken jy ry déúr die sand eerder as daarop.
Die rolweerstand verhoog dus namate jy wegsak. Met hierdie basiese beginsel in gedagte is die vraag dus: Wat is die korrekte banddruk? Dit hang van baie dinge af, waaronder die soort voertuig, hoeveel hy weeg, watter tipe bande hy op het, die grootte van die bande, die soort sand, die temperatuur van die sand en selfs die tyd van die dag. Dis makliker om op 'n nat strand te ry as op droë woestynsand. As jy jou banddruk vroegoggend verlaag, terwyl dit nog koel is, gaan jy later in die dag weer so moet maak as die omgewing, omliggende temperatuur en die bande self warmer is.
Daar is dus nie een enkele korrekte banddruk vir alle sandrytoestande nie. Ek het al gevind dat selfs die kleinste verandering in banddruk, selfs 0,2 bar, die verskil kan beteken tussen sukkel en salig ry.
Die kenners meen ook jy het 'n sekere hoeveelheid wieltol nodig sodat jou bande die sand se rolweerstand kan oorkom. Hier is egter 'n fyn lyn, want te veel wieltol sal daartoe lei dat jou bande hulle ingrawe. Dit is een van die redes hoekom brandstofverbruik hoër is in sagte sand. Die spoed waarteen jy ry is, ook belangrik.
Rolweerstand verhoog namate jy vinniger ry, tot op 'n punt waar dit weer verminder en jy makliker vorder. Daar is 'n klompie ander wenke om te onthou wanneer jy in die sand ry.
Bly in die spoor van die voertuig voor jou - die sand in die spoor is reeds effens vasgetrap, wat beteken jy gaan makliker vorder. Wanneer jy in sagte sand moet draai, verhoog die rolweerstand onmiddellik. As jy móét draai, probeer om 'n konstante snelheid en vastrap te behou terwyl jy veilig van rigting verander.
Wees net versigtig dat die band nie van die velling afklim nie. Wanneer jy moet stilhou, doen dit geleidelik sonder om jou remme te gebruik. En as dit moontlik is, probeer om op 'n afdraande stil te hou. Dit sal die wegtrekslag makliker maak.
Soos met die meeste uitdagings in die lewe leer 'n mens al doende.
Ek reken ek is sommer binnekort weer op pad na die Namib se duine.




















