Reis

Viëtnam, jou lekker ding!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Abigail sê die Bana Hills-handbrug in die Hòa Vang-distrik van Da Nang is een van die gesogte trekpleisters vir toeriste in Viëtnam.
Abigail sê die Bana Hills-handbrug in die Hòa Vang-distrik van Da Nang is een van die gesogte trekpleisters vir toeriste in Viëtnam. (Foto's: Verskaf deur Abigail Brown.)

Viëtnam is 'n Suidoos-Asiese land wat bekend is vir sy strande, riviere, Boeddhistiese pagodes en bedrywige stede. Danielle Daniëls het by Abigail Brown gaan uitvind oor haar besoek aan dié land.

Vir byna twee weke vroeg in Mei verlede jaar het Abigail Viëtnam gaan verken. "Ek het saam met my vriend en reismaat Douglas Christians gereis, maar ons het ook 'n reismaat van Indonesië, Hatima Sahra, gehad wat by ons aangesluit het."

In 2023 is Abigail en Douglas na Parys toe. Hierna het hulle besluit om in 2024 'n Asiatiese land te besoek. Hulle het uiteindelik op Viëtnam ooreengekom.

"Ons het Suid-Afrika op die vooraand van 4 Mei 2024 verlaat en vroeg die volgende oggend in Dubai aangekom vir ons aansluitingsvlug na Ho Chi Minh-stad.

"Ons het omstreeks 20:00 op 5 Mei in Viëtnam aangekom. Ons totale verblyf in Viëtnam was 10 dae, wat gestrek het van 5 tot 14 Mei."

Abigail en Douglas neem 'n blaaskans in 'n kokosneut-boot.
Abigail en Douglas neem 'n blaaskans in 'n kokosneut-boot.

Abigail beskryf Viëtnam as 'n absolute genotvolle ervaring.

"Ons was meer as bly om die koue Kaapstadse winter te verlaat, en om begroet te word deur warm, sonnige weer, aangesien dit daardie tyd van die jaar somer in Viëtnam was.

"Ons het SA sonder enige verwagtinge verlaat en besluit om te go with the flow of met ander woorde, ‘When in Vietnam, do as the Vietnamese do'."

"Elke dag het ons 'n paar verskillende toeriste-attraksies verken. Ons het probeer om verskillende kosse te eet, alhoewel ek nie die paddabene wou eet nie," skerts sy.

Beplanning en reistyd na Viëtnam

Volgens Abigail het hulle heelwat self navorsing gedoen en só op die omgewings besluit wat hulle wou besoek. Nadat hulle dit identifiseer het, het hulle gebruik gemaak van 'n reisagent.

"Sy het vir ons kwotasies gestuur en name van stede om na te reis. Van daar het ons ons finale besluite met haar hulp gemaak."

"Ons het via Dubai gevlieg, met minimale layover, en dit was redelik maklik om die onderskeie lughawens te navigeer, veral Dubai. Maak net seker jy het genoeg tyd om betyds by jou volgende vlug uit te kom."

Aktiwiteite

"Ons het niks vooraf beplan nie en het dit dag vir dag gevat, afhangende van die afstand wat ons moes aflê.

"Ons het die meeste van die gewone toeristebestemmings en -aktiwiteite besoek, waaronder die War Remnants-museum, Ho Chi Minh-stad op die Rooi Bus, die Onafhanklikheidspaleis, asook die ‘Lady Buddha'," vertel Abigail.

Hulle het plaaslike markte besoek, en die verskillende straatkosse probeer, veral snags.

"In Da Nang het ons 'n daguitstappie na Bana-heuwel en die Marble Mountain-grotte geneem. By Coconut Village het ons geleer hoe hulle hul lekkers van begin tot einde met kokosneut maak, en 'n lekker bootrit op hul ronde kokosneut-bote geneem."

In Viëtnam is daar uiteraard talle beelde van die Boeddha. Hierdie is die glimlaggende Boeddha in Ho Chi Minh.
In Viëtnam is daar uiteraard talle beelde van die Boeddha. Hierdie is die glimlaggende Boeddha in Ho Chi Minh.

Sy het ook die poskantoor besoek en 'n poskaart gepos. "Die persoon het dit glad nie tydens ons vakansie ontvang nie en ook nog nie toe ons terug in SA was nie. Hulle het dit maande later op Vrydag 11 Oktober 2024 eers ontvang!"

Wenke vir 'n gemaklike vakansie. Abigail stel die volgende voor:

  • Dra gemaklike skoene. "Niemand dra hakskoene nie."
  • Sonskerm en 'n hoed. "Die hitte is op 'n ander vlak in vergelyking met ons Suid-Afrikaanse warm somers."
  • Leer plaaslike frases of gebruik 'n app wat kan vertaal. "Die plaaslike inwoners praat baie min Engels."
  • Beplan jou reise voordat jy jou vervoer reël.
  • Maak seker jy het kontant, verkieslik Viëtnamese dong, die plaaslike geldeenheid.

Hoogtepunte in Viëtnam

Abigail meen 'n groot hoogtepunt was om Bana-heuwel vir 'n dag te besoek.

"Dit is ook 'n pretpark en ek is mal oor pretparke. Ons het daar een van die beste lunches geniet. Ek is mal oor feetjies, daarom was die feëtjietuin vir my ook 'n hoogtepunt.

"Nog 'n hoogtepunt was om 'n Suid-Afrikaner te ontmoet wat in Viëtnam woon. Ons het mekaar leer ken deur 'n aanlyn kos-groep waaraan ek behoort. Sy het op Facebook gesien dat ek in Viëtnam was en het vir my 'n Facebook-boodskap gestuur.

"Ons het 'n ontmoeting gereël by 'n restaurant wat sy gekies het. Dit was wonderlik om 'n vriendin daar te maak, en nou hou ons kontak."

Van die plaaslike kos wat hulle geniet het.
Van die plaaslike kos wat hulle geniet het.

Wenke vir reis en kos tydens jou vakansie

"Ons het gebruik gemaak van hul plaaslike ‘Uber' genaamd Grab - hulle is baie goedkoop," sê sy.

"Ek het selfs 'n bromponie probeer vir 'n kort reis terug na my hotel vanaf die strand, net vir die ervaring, en dit was nogal lekker."

Abigail stel voor jy probeer elke dag plaaslike kosse, maar maak seker dat jy vra wat op jou bord is.

"Ek het eendag paddabene op my bord ontdek!

"Ek het selfs hul plaaslike slangwyn probeer - dit is 'n wyn wat hulle maak met 'n kobraslang of 'n skerpioen in die bottel. Dit lyk skrikwekkend, en die wyn het soos sterk hoesmedisyne gesmaak, maar dit is iets wat jy beslis moet probeer," vertel sy.

Hierdie was die eerste keer dat Abigail Viëtnam besoek het, en sy beveel beslis 'n reis na hierdie land aan.

Die Draakbrug oor die Hàn-rivier in die stad Da Nang.
Die Draakbrug oor die Hàn-rivier in die stad Da Nang.

"Ek sal weer wil terugkeer en graag ander stede soos Hoi An verken, waar ons nie gedurende ons besoek kon uitkom nie."

Belangrik om saam te neem

  • Sy sê jy benodig nie veel nie, maar jy moet die volgende hê:
  • Om aansoek te doen vir 'n e-visum is baie maklik. Jy kry dit binne 'n week en dit kos minder as R500.
  • Jou paspoort, verblyf- en vlugbesonderhede is die dokumente wat jy benodig.
  • Somerklere (so lig as moontlik), maar maak seker dat jy bedek is met baie sonskerm en verkieslik 'n sonhoed.
  • Geen gesondheidstoetse soos Covid-19-toetse is meer nodig nie.
  • Koop 'n plaaslike simkaart met data sodra jy by jou bestemming aankom. Probeer om dit nie by die lughawe te koop nie, want dit is nogal duur daar. As jy in 'n groep reis, is dit makliker om op hierdie manier in kontak te bly.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM