Blomme is nie ál wat 'n mens in die Weskus- nasionale park te sien kry nie. Tydens 'n onlangse besoek het Sophia van Taak 'n skilpad in 'n, wel, effense penarie aangetref...
Daar in die omgewing van Abrahamskraal het ek iets uit die hoek van my oog gewaar, iets wat nie pluis is nie. Maar my brein het dié skramse waarneming eers etlike honderde meter verderaan raakgevat: Ja, dit wás 'n rooipensskilpad daardie, bene-in-die-lug.
Ek het omgedraai en stadig so al aan die verkeerde kant van die pad teruggekruie tot ek hom vind. Of altans, háár vind - want van naderby kon ek duidelik sien hoe die halfpad gelêde eiertjie tussen die spartelende agterpootjies uitsteek!
Hoewel 'n mens mos nou nie met die natuur se sake moet inmeng nie, kon ek eenvoudig nie my beteuterde, uitasem medevrou in nood net so aan haar lot oorlaat nie. Die rooipensie het 'n goeie twee treë weg gelê van die netjiese gaatjie wat sy vir haar eiertjie gegrawe het. Selfs al sou sy haarself met groot inspanning weer omgedop kry, het daardie eier nie 'n kat se kans gestaan om weer die gat te haal nie.
Was dit nou 'n film, sou iemand dadelik met mediese kundigheid begin raakvat en met groot gewigtigheid beveel "gaan kry handdoeke en kook solank water!" Maar dit was net ons tweetjies daar - Mevrou Rooipens in kraam en ek, haar onervare vroedvrou.
Met mooipraat en kloekgeluidjies (hoe kalmeer 'n mens 'n skilpad?!) het ek haar versigtig terug op haar pootjies gedraai - stert na bo sodat gravitasie kon help keer dat die eier uitval. Sy't lank net eers gesit en hyg na asem, duidelik oorstuur. (Wat moes die stomme ding nie vroeër die dag deurmaak nie? Sou dit 'n kraai wees wat haar probeer gryp het? Of dalk 'n wildekat?) En toe sy weer begin stoot aan daai eier, het ek haar sagkens, millimeter vir millimeter, terug tot by die gat geskuif, haar boude netjies in lyn met die opening.
Dit het steeds 'n hele paar minute gevat om die eier uiteindelik gelê te kry, en ek weet nie wie van ons twee meer verlig was toe sy uiteindelik die gaatjie kon begin toeskop nie!
Daar was g'n bleekgesig-pa wat buite in die gang wag nie. G'n ruikers of gelukwensings nie. Net die wete dat 'n kosbare episodetjie vir ons albei vandag hier uitgespeel het.
Ek het nooit gedink 'n mens kan so ná aan 'n skilpad voel nie.













