Night-Sky buite Bonnievale is 'n gewilde bestemming vir sterrekykers, maar die donker en stilte hier is eintlik reg vir enigiemand wat hulle batterye wil herlaai.
Op die plaas Oudekraal buite Bonnievale boer Jurie en Gesina de Wet met druiwe, appelkose en perskes. In Februarie en November is vrugte egter nie die rede hoekom 'n vyftig stuks mense na dié plaas toe opruk nie. Oudekraal is een van die donkerste plekke in die Wes-Kaap (Selfs donkerder as plekke wat van Eskom afhanklik is. - Red.) en twee keer per jaar is Jurie-hulle die gasheer en -vrou vir die Southern Star Party vir amateur-sterrekundiges.
Len Foster is die organiseerder van dié byeenkoms en sê Night-Sky, die De Wets se kampterrein, is een van die beste plekke om die nagruim te aanskou en te bestudeer. "Ons verkies Night-Sky omdat dit so naby aan Kaapstad is. Vir dieselfde vlak van donkerheid moet 'n mens Sutherland toe ry, en dít is nie net heelwat verder nie, maar jy gaan ook sukkel om verblyf daar te kry teen dieselfde tariewe as Night-Sky," vertel hy. "Daar is bittermin ligbesoedeling en 'n mens kan jou verlustig in die nagruim - mits dit natuurlik nie reën nie."
Met die maan gepla
Natuurlik hoef jy nie 'n sterrekyker te wees om die stilte en donker by Night-Sky te geniet nie. Die hoofrede vir 'n naweek-wegbreek is immers om van die stad se gejaag en geraas te ontsnap. Hier, 17 km buite Bonnievale, kan jy dit behoorlik doen.
Jy kan met die N1- óf N2-snelweg uit die Kaap ry, maar probeer 'n uur of twee by die werk afknyp sodat jy darem die ergste naweekverkeer misloop. Ná 'n bietjie meer as twee uur se ry, waarvan net die laaste 200 m grondpad is, draai jy by Oudekraal in.
Sake is effens verwarrend as jy die eerste keer kom kuier, want die pad vat jou reguit plaashuis toe. Dit is wel waar die ontvangskantoor is, maar die pad na die kampterrein self is die tweede pad links nadat jy deur die plaashek is. Moenie skrik as Gesina nie daar is om jou te ontvang nie - sy is dalk net gou dorp toe. Een van haar personeellede stuur jou in die regte rigting en Gesina kom groet dan 'n rukkie later by die kampeerterrein en wys waar om jou tuis te maak. Die pad daarheen is goed en jy sal nie sukkel om jou woonwa met 'n Jetta daarheen te sleep nie.
Die kampterrein is aan die linkerkant van die plaasdam uitgelê soos jy inry - hier is lowergroen gras en meer as genoeg koeltebome. Die beste staanplekke is voor teen die water, maar in die winter is hulle ook die koudste. Jy kamp tussen die chalets en deel ablusiegeriewe met die mense wat daar tuisgaan.
Die staanplekke is nie afgebaken nie en jy kan nie vooraf 'n plek kies nie. Dit is dus maar beter om vroeër eerder as later op te daag. Gesina sê sy laat nie meer as 72 mense in die terrein toe nie, en dit sluit die mense in die houtchalets in.
Daar is 24 kragpunte met driepuntproppe, en as jy 'n 20 m-verlengkoord ingepak het, gaan krag nie 'n probleem wees nie. Onthou net om álles wat jy die naweek nodig gaan hê saam te bring, want daar is nie 'n winkel by Night-Sky nie. As jy egter per ongeluk jou deodorant vergeet het, doen almal eerder 'n guns en ry gou die 17 km teerpad Bonnievale toe om die sakie reg te stel.
Nadat jy jou kamp opgeslaan het, kan jy vir jou 'n vuurtjie aanmekaarslaan in een van die braaiers-met-wiele of vuurdromme wat daar rondstaan. Jy moet egter jou eie hout, rooster en braaigereedskap saambring. As die vuur dan hoog brand, kan jy agteroor sit en jou verkyk aan die Riviersonderend- en Langeberg. Dis nou terwyl jy wag vir die hoofvertoning... die nagruim.
Selfs al kan jy ná 20 landsdienskampe nog nie die Suiderkruis vind nie, kan 'n mens nie anders nie as om meegevoer te raak met die sterreruim bo Night-Sky. Probeer dus maar om 'n bietjie op te swot sodat jy jou Boogskutter van jou Kreef kan onderskei - en neem 'n sterreboek saam. Die wêreld word stil en donker hier en selfs met die blote oog kan jy hemelliggame waarneem wat jy nie in die stad kan sien nie.
Wanneer die son skyn
In die daglig het Night-Sky 'n ander bekoring. Sit vroegoggend op die jetty met jou koffie en beskuit en kyk hoe die son opkom, en sleep daarna jou verkyker en voëlboek nader. Gesina sê 'n Duitse gas wat onlangs vir omtrent twee maande hier gebly het, het 94 voëlspesies uitgeken. Jy kan alles van 'n muisvoël tot 'n janfrederik hier te siene kry.
As jy jou visgerei ingepak het, kan jy in die plaasdam lyn natmaak en probeer om swartbaars of blouvinkurper kant toe te lok. Jy moet die outjie net weer loslaat nadat jy jou foto's geneem het.
Jy kan selfs by Night-Sky se "hawe" vir jou 'n kano kry en uitroei op die dam. Maar wees versigtig as die kleintjies kano wil vat, want die water is op plekke só diep dat 'n grootmens nie kan regop kan staan nie en daar is nie reddingsbaadjies op die kano's nie.
Buiten die bedrywighede in en om die plaasdam is daar nie veel te doen vir kinders nie. Hier is nie 'n swembad, trampolien of minigholfbaan nie, en die een swaai wat hier is, het al 'n hele paar somers agter die blad. Die selfoonontvangs knor ook maar en jy gaan sukkel met Facebook en Twitter - selfs met 'n SMS of Whatsapp om vir tannie Ina geluk te wens met haar verjaardag. As jou kinders egter hou van stap, fietsry en ander buitelug-aktiwiteite, is jou kop deur.
Die kanse is goed dat een, twee, drie of al vier katte wat ook Night-Sky hulle tuiste noem, by jou gaan kom inloer. Gesina sê die katte gee haar grys hare, hoewel besoekers verskillend voel oor hulle. Die outjies is nogal knaend, en Gesina se pleidooi dat besoekers hulle nie moet kosgee nie, val gereeld op dowe ore. Moet dus nie kos buite los nie, selfs al is dit mooi in 'n Tupperware-bakkie toegemaak. Die katte sal met daai bak stoei tót hulle hom oop het. Gesina sê sy weier om die katte name te gee, maar ten minste hou hulle die muise en slange in en om die kampeerterrein in toom.
Gaan jy gou stort?
Gesina sê 'n tweede ablusieblok is pas klaar gebou aan die verste kant van die kampterrein. Die plek is modern afgewerk en in 'n L-vorm gebou met drie badkamers en toilette wat deur mans én vroue gebruik kan word. Die ander ablusieblok staan aan die kant die naaste aan die ingang. Dié grysbaksteengebou staan reg voor jou soos jy inry en daar is een toilet en badkamer elk vir mans en vroue. (Bring jou eie toiletpapier.)
Die stort werk met 'n gasgeiser en is ruim, geteël, skoon en netjies. Daar is 'n wasbak, spieël, stortrak, stoel en genoeg hake om te keer dat jou goed nat word. Die badkamer sluit egter nie van binne nie, wat beteken jy moet maar fluit of sing of iets om te seker te maak mense weet jy is daar. Aan die regterkant van die gebou is 'n waskamer met twee skottelgoedwasbakke en een diep wasbak vir klerewas. Daar is nie 'n gemeenskaplike kombuis met ys- of vrieskasgeriewe nie.
Hulle sê:
Die broers Robert en David Fourie van Kaapstad is amateur-sterrekykers wat met hulle Meade RCX400 14"-teleskoop by Night-Sky kom staan het.
"Ons hou van Night-Sky want dit is die beste plek naby aan die Kaap om die nagruim te bestudeer. Ons is hier om die Eta Carinae Nebula-stelsel af te neem."
Kortliks | Night-Sky
Kampplek: Staanplek vir maksimum 72 mense met gras, volop skaduwee, krag, braaiers (sonder roosters), krane en vullisdromme.
Ablusiegeriewe: 2 ablusiegeboue. Een het aparte geriewe vir mans en vroue, terwyl die ander vir albei se gebruik is.
Pryse: R170 p.n. per staanplek vir 4 mense (elektrisiteit ingesluit).
Kontak: 032 616 2661; nightsky@breede.co.za
Aankoms- en vertrektyd: Tussen 2 nm. en 6 nm.; en 1 nm.
Hoe lyk die pad? Meestal teerpad. Die laaste 200 m is goeie grondpad.
GPS: S34.0125 E19.9951 (kampterrein)
WegSleep sê: Dis donker hier, maar ná 'n naweek se rus, vrede en stilte sal jy heel verlig wees as jy teruggaan stad toe.













