Die Marakele- nasionale park in Limpopo is een van die Prinsloos se gunsteling-kampplekke - hulle kamp nou al jare lank een keer per jaar hier en kombineer dit gewoonlik met die Septemberkamp van hulle woonwagroep, die Golden Oldies Oranjevaal, wat dikwels by die Dube-woonwapark-en-wildplaas naby Brits gehou word.
Joggie en Ria hou van Marakele se rustigheid en van die natuur- en dierelewe om die kampplek. Maar jaar ná jaar het die olifante hulle bly ontwyk, totdat hulle uiteindelik geglo het hulle sal seker nooit in hulle lewe Marekele se grootvoete sien nie.

Joggie vertel van die groot dag...
Dis vroeg in September, 'n Maandagaand so skuins ná sewe. Die volmaan lê soos 'n groot geel kaas bo die boomtoppe in die ooste. Waar daar verlede Saterdagaand oral om ons gesellige kampvure gebrand het, is dit vanaand net ons eie vuurtjie, maar in die windstilte sukkel hy om aan die gang te kom.
Dis eers as 'n ligte bries uit die noorde opstaan dat die sekelhout begin vlam vat, en binne oomblikke speel die vlamme soos wildsbokkies wat water geruik het.
Dit is stil in die kamp vanaand en die enkele woonwaens staan groot ente uitmekaar.Ek en Ria sit en staar in die vuur en ons gedagtes loop ver paaie. Die maan het nou al hoog in die hemelruim geklim en 'n silwermaan geword. 'n Kriek sing sy aandgesang by die waterkraan, maar kry nie reaksie nie.
Ria vra of ek die naguile hoor, maar ek hoor niks nie. (Dis tyd om my gehoorapparaat weer 'n slag te gebruik sodat ek die naggeluide beter kan hoor.)
'n Volstruis besluit dis tyd vir 'n maanligdans, en die getjank van jakkalse wat laataand kom water drink, klink uit verskillende rigtings op. Die aand stap aan en die bome gooi nou korter skaduwees.
Ek is ingestel op die naggeluide: Ek hoor 'n witkoluil uit die suide roep en kiewiete by die dam wat duidelik deur iets gepla word. Die kriek raak stil en 'n enkele sebra blaf van die een kant af - en dan laat die jakkalse weer van hulle hoor.
Die troppie rooibokke wat vroeër vanmiddag kom suip het, het naby die kamp kom uitspan vir die nag en af en toe is daar 'n gesnork van hulle kant af.Van ons gesellige vuurtjie is daar nou nog net 'n paar flou kooltjies oor.In die helder maanskyn sien ek 'n beweging en ons stap versigtig nader. Dis vier springhasies wat in die maanlig kos soek.
Hulle laat ons toe om hulle van nader te bekyk. Die maan het reeds ver beweeg op sy reis na die weste en dis inkruiptyd. Ja, vandag was die dag van die springhase en die volmaan.
én van die olifante. Ons beleef Marakele op sy beste.
Twee-in-een
Die Marakele- nasionale park, noordwes van Thabazimbi, is 'n goeie alternatief as jy te laat geslaap het met jou besprekings vir die Kruger, maar ook as jy, soos ons, van die rustiger atmosfeer in Marakele hou.
Die park word deur die Rooibergpad in twee verdeel, met die hoofingang by die Marakelehek, sowat 11 km van Thabazimbi af op die Almapad.
Om die noordoostelike deel te besoek moet 'n mens 'n klompie kilometer deur die eerste deel van die park ry en dan deur 'n tonnel onderdeur die Rooibergpad.
Gevaarliker diere soos olifante, buffels en leeus hou hier in dié noordoostelike deel en jy ry deur 'n elektriese hek wat met 'n afstandbeheerder oop- en toegemaak word.

Mik na die bome toe
Die woonwapark is in die Bontle-kamp, sowat 2 km van die hoofingang af, in die eerste of suidwestelike deel van die park.
Die 38 woonwastaanplekke het almal 'n kragpunt, lig en braaiplek met 'n rooster. Die kampplek is in drie verdeel: die Rhino- (10 staanplekke), Tsessebe- (12) en Sablesirkel (16), elk met sy eie ablusieblok met was- en opwasgeriewe. Die ablusieblok in die Tsessebebesirkel maak ook voorsiening vir gestremde besoekers.
Ons mik altyd vir die middelste staanplek, tussen die ablusieblokke van die Tsessebe- en die Rhinosirkel, omdat daar 'n pragtige ou raasblaar- en blinkblaar-wag-'n-bietjieboom is wat hulle blare blykbaar eers in die lente begin afgooi.
Saam met hulle ou maat, 'n immergroen karee, gooi hulle lekker skaduwee teen die geniepsige westeson.In die Rhinosirkel is ook 'n gawe staanplek waar ons al voorheen kamp opgeslaan het, by 'n blinklaar-wag-'n-bietjie en 'n miershoop. Die woonwapark het baie vaalbome en ander bladwisselende bome, maar in die winter is die skaduwee maar skraps.
In die somer is dit natuurlik anders en moet jy jou staal teen die hitte. Van hitte gepraat: Van die ou besoekers sal vir jou vertel as jy hier kamp, moet jy maar in jou pasoppens wees as die slange ná hulle winterslaap begin prooi soek.
Dis bosveld hierdie - mamba- en pofadderwêreld.

Wildkamp by uitstek
Op die westelike staanplekke die naaste aan die paaltjies wat die kampplek in die Rhino- en Tsetsebesirkel afbaken, het jy die beste uitsing oor die Bontledam. Dié staanplekke is gesog onder woonwakampeerders, en oor naweke is daar altyd 'n geskarrel vir 'n staanplek met koelte én 'n stoeptentuitsig oor die dam waar die diere regdeur die dag én nag kom water drink.
Die witrenosters sorg altyd vir groot opwinding. Dié pragtige reuse stap dikwels nadat hulle water gedrink het, rustig en al peuselend deur die woonwapark.
Ons besoek die park al etlike jare jaarliks en het vroeër elf renosters getel. Hierdie keer sien ons net 'n koei met 'n opgeskote bulletjie, en twee bulle wat hulle eenkant hou.

Onder die ander welkome en gereelde besoekers tel kameelperde, mooi koedoebulle met hulle draaihorings, koedoekoeie en -jongelinge, baie rooibokke en enkele waterbokke en rooihartbeeste. En dan is daar die vlakvarke met hulle immer aktiewe antennas wat ál knielende iets te ete soek.
Net ná donker hoor jy die sebras se geblaf en later begin die jakkalse uit alle rigtings roep.
Geveerde gaste
En dan is daar daardie gebrul onder by die dam... Van die besoekers ken nie die gebrul van 'n volstruismannetjie in die laatnag nie en wil dan soggens by die badkamer by jou weet of jy ook die leeus gehoor het.
'n Klompie volstruise is daaglikse besoekers aan die kamp. Een van die wyfies is só astrant, sy haal sonder huiwering jou steak of wors voor jou oë van die braaier af, slinger dit eenkant toe om effens af te koel en dan verorber sy dit met een sluk.
Tarentale en enkele bosveldpatrysies kom skrop gereeld hier om die woonwa, en een jaar is ons selfs verras deur 'n swempie-familie wat elke oggend en aand kom kyk het of daar nie dalk krummels rondlê nie.
Soggens word jy wakker met die gekwetter van koringvoëltjies en die bosveldklanke van rooi- en geelbekneushoringvoëls (wat 'n bietjie klink soos 'n dieselenjin wat nie wil vat nie). Twee rooiborshoutkappers val ook gereeld in met 'n duet in die oggendstilte, en so tussendeur hoor jy 'n tortelduif en 'n kwêvoël.
Vir die voëlkykers is daar 'n gawe voëlskuiling by die Bollonotodam in hierdie suidwestelike deel se bosveldsavanne. In dié doringboomwêreld is nie 'n oorvloed voëlspesies nie, maar as jy geduldig is, kan jy darem 'n klompie op jou kyklys afmerk. By die skuiling is ook 'n toilet.
Gawe geriewe
Sanparke is bekend vir sy netjiese ablusieblokke en ook hier is dit die geval. Dis altyd skoon en netjies, die wasbakke het almal proppe én jy het altyd warm water en toiletpapier in die badkamer.
By die hek is 'n kuriowinkel waar jy vir jou 'n Marekele-plakker, hout, roomys en die nodigste proviand kan koop. Thabazimbi is ook net 11 km van die hek af en het nie net drie groot supermarkte nie, maar ook enigiets van 'n Steers tot 'n Ocean Basket waar jy kan gaan aansit vir iets te ete.
Ongeveer 3 km van die woonwapark af is 'n netjiese piekniekplek met braaiplek en skoon toilette.
Jy kan jou vuurmaak- en braaigoed inpak en dit jou ontbyt- of middagetestop maak op een van jou wildsritte.

So wrintiewaar!
Waar die suidwestelike deel meer bosveldsavanne is, is die noordoostelike deel van die nasionale park bergwêreld - die Kransberg - met grasbedekte heuwels en diep valleie.
In dié deel van die park is 'n klomp toeristeroetes, maar van hulle is net vir 4x4-voertuie.'n Rit na die Lenong-uitkykpunt bo-op een van die bergkruine is die moeite werd.
Die pad soontoe is wel baie smal, met vreesaanjaende afgronde reg links van jou. Hier is nie verkeerbeheer nie en jy moet maar altyd op die uitkyk wees vir aankomende verkeer. As 'n voertuig van voor af kom, moet julle mooi meet en pas om verby mekaar te skuur... met daardie afgrond hier rég langs jou. Moet eerder nie met 'n ryhuis hier probeer opry nie.
Baie van die grootwildspesies soos olifante, buffels, swart- en witrenosters en die groot katte is in hierdie deel van diepark gevestig. Dié deel is egter baie ruig en al die kere wat ons nog hier rondgery het, het ons net koedoes en enkele rooibokke teëgekom.
Ons het al witrenosters in die savannedeel by die woonwapark gesien, maar begin glo ons sal nooit een van Marakele se gesogte spesies sien nie.So ry ons op hierdie besoek weer sonder veel verwagting deur die hek noordwaarts.
Ons vat die teerpad in die rigting van die uitkykplek bo-op die berg. Langs die pad staan die wit kolle bloeisels van doringbome uit in die landskap.
En skielik roep Ria uit: "Kyk daar!"
So wrintiewaar: 'n Groot trop olifante van alle groottes stap voor ons oor die pad. Ons tel tot by 70, maar daar kan meer wees. Toe wéét ons: Marakele het tog olifante.
Hierdie artikel het oorspronklik in November 2016 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.




















