Reis

“Wat is ’n ‘lekker’ kampplek?” vra Neels

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Gettyimages.com
Foto: Gettyimages.com

Eens op 'n tyd was 'n kampplek bloot 'n ruimte waar jy tent opslaan, kosmaak, 'n vuurtjie bou en dan die natuur beleef met 'n glasie vreugde in die hand.

Tegnologiese vooruitgang het egter die kamplewe heelwat gemakliker gemaak. Natuurlik is daar nog puriste wat glo 'n ware kampeerder maak vuur deur stokkies teen mekaar te skuur en dan die verskietende vonkies aan te blaas totdat dit die dun takkies laat vlam vat. Die puriste glo ook selfone en televisie is taboe wanneer jy kamp.

Maar dan kry jy weer mense wat net sal kamp as daar wifi is en hulle kan nuus kyk en in 'n oogwink per e-pos kampfoto's aan vriende en familie by die huis kan stuur. Hulle is gewoonlik ook die mense wat nie sonder lugreëling gaan kamp nie.

Die meeste van ons bevind ons iewers tussen dié teenpole. Dit is mos in ons menslike aard om innoverend te wees en deur die benutting van nuwerwetse kampskeppings ons lewe op te kikker. 'n Moderne fokuspunt van kamp is byvoorbeeld om in 'n japtrap watertand kampkos voor te sit; vuurblokkies blitsig te laat vlam vat sodat selfs effense nat sekelbos in 'n japtrap in 'n bosveldtelevisie omskep kan word; en om veldgidse op jou foon aan te skakel om die boom of voël naby jou staanplek uit te ken.

Die tegnologie het die aard van kamp onherroeplik verander omdat die mens se interaksie met die omgewing onherroeplik verander het. Innoverende kamptoerusting en -ervarings skep nuwe en opkomende marksegmente en die benutting van innovasies bou 'n brug tussen die beginner en die ervare kampeerder. Dit is ook in ons aard om onnodige tierlantyntjies aan te skaf, maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

Wat wel van belang is, is dat die tegnologie nooit gesonde verstand vervang en die perke van kampetiket moet oorskry nie.

Die tegnologie moet nooit gesonde verstand vervang en die perke van kampetiket oorskry nie.

Enkele voorbeelde van slim tegnologie wat ons mark binnekort op 'n drafstap gaan tref, is toestelle wat die hitte van 'n houtkaggeltjie inspan om slimtoestelle te herlaai; en die aanwending van groen tegnologie om groen produkte te ontwerp wat van herwonne materiale vervaardig word.

Ons sien reeds tentmateriaal wat behandel word met waterdigting wat nie skadelike chemikalieë soos poliuretaan bevat nie. Nie net is die materiaal meer waterdig nie, maar die behandeling help ook om sonstrale beter te weerkaats en só die tent heelwat koeler te hou.

Met die koms van koepeltente is die middelpaal uitgeskakel sodat water nie bo-op kan opdam nie. In die moderne kampplek is daar 'n behoefte aan moderne kampervarings wat sorg vir 'n "gevoel van lekkerte" wanneer mense kamp.

Ongelukkig weet ons nog te min oor wat presies 'n "lekker" kampervaring behels. Op sosiale media is daar daagliks mense wat verwysings na 'n "lekker" kampplek soek. Die menings is uiteenlopend, en jy sukkel om te weet wat met "lekker" bedoel word.

Die bietjie wat ek wel van hierdie plasings verstaan, noop my om "lekker" in breë trekke te beskryf as 'n plek waar daar iets vir die kinders is om te doen (dit sluit in toegang tot wifi), wat nie 'n plaas se geld kos nie (die grootskaalse verhoging in die prys van elektrisiteit, voortsnellende bedryfskostes en skerp stygende arbeidskoste het die begrotings van kampplekke al van lankal af erg geknou), waar die staanplekke koelte en gras bied, en waar daar hulp beskikbaar is om tente op te slaan.

'n Meer omvangryke beskrywing van wat 'n lekker kampplek is, moet nog neergepen word. Kampplekke wat dit in die toekoms regkry om hulle in meer diepte as 'n lekker plek te posisioneer en waar kampeerders tegnologie kan benut of inspan, het 'n beter kans om op langer termyn te oorleef.

Hierdie artikel het oorspronklik in Maart 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM