Reis

Weg Botswana 2017/’18 is nou beskikbaar!

Weg Botswana 2017/'18 is nou te koop teen R59 (ook beskikbaar in Engels). Jy kan dit bestel: winkel.weg.co.za (webblad); verkope@media24.com (e-pos); 021 443 9866

Die eerste Botswanagids het in 2016 verskyn - waarom weer een doen?

Toast: Ons het besef daar's 'n aanvraag. Weg bring jaar na jaar 'n Namibië-gids uit en Botswana is ook 'n topbestemming onder Weg-lesers. Boonop toer heelwat mense deur beide Namibië en Botswana in dieselfde vakansie. Dit maak sin om elke jaar 'n bygewerkte gids oor Botswana die lig te laat sien, en sodoende die kennis wat ons as Weg-joernaliste oor die land opdoen met lesers te deel.

Elke keer wanneer ons terugkeer na Botswana besef ons ook weer: Hier's báie om te sien! Ons gaan nooit sukkel om vars stories in Botswana te gaan haal nie...

Kaarte speel 'n groot rol in die gids - watter kaarte verskyn in die nuwe uitgawe?

François: Vanjaar se nege kaarte is bygewerkte weergawes van gunstelingbestemmings, asook splinternuwe kaarte van onder meer die Tuliblok en Palapye-distrik.

Hier's kaarte van die Zambesi- nasionale park (wat Victoria Falls en Livingstone insluit), Moremi-wildreservaat, Chobe- nasionale park en Nxaipan- nasionale park, sowel as twee dubbelblad-kaarte van die hele Botswana waarmee jy met 'n geruste hart kan toer.

Op watter dele van Botswana fokus die gids?

Toast: Ons gee blootstelling aan die klassieke parke soos Moremi en Chobe én minder bekende parke soos Nxaipan. Dit is ook belangrik om sinvolle roetes voor te stel vir mense wat nie 4x4's het nie. Die Botetirivier is byvoorbeeld 'n deel van die land waar jy deesdae maklik kan uitkom - 'n teerpad loop oral byna parallel met die rivier. Die vryskutjoernalis Willem van der Berg het die Boteti vir ons gaan verken.

Baie mense dink Botswana is 'n intimiderende bestemming, maar daar's soveel wat jy met 'n gewone kar kan bereik. Ons gee wenke vir beginners en sluit weer ons klassieke 12 dae lange roeteplan deur die noorde van Botswana en Namibië se Zambesistreek in.

Ons gee wenke vir beginners en sluit weer ons klassieke 12 dae lange roeteplan deur die noorde van Botswana en Namibië se Zambesistreek in.

Waarom sluit julle die Zambesistreek van Namibië by die Botswanagids in?

François: Jy kan maklik jou hele vakansie in Botswana deurbring. Hel, jy kan 'n hele vakansie lank net in die Moremi-wildreservaat wees sonder om verveeld te raak! Die land is egter so sentraal geleë in Suider-Afrika, dat dit heeltemal sin maak om ook van sy bure te besoek.

As jy in Kasane kuier, kan jy Victoria Falls (Zimbabwe) vir die dag besoek - dit is net 81 km se ry. Deur die Zambezistreek deel te maak van jou toerplan, sien jy nie net dié mooi uithoek van Namibië nie, maar dit stel jou ook in staat om meer van Botswana te sien terwyl jy 'n netjiese sirkelroete ry.

Die Kafue- nasionale park in Zambië is heelwat verder noord, maar indien jy meer tyd het kan jy dit maklik aanlas by jou volgende Botswana-toer.

Wat van die suidelike dele van Botswana?

Toast: Weg-lesers wat in Suid-Afrika se noordelike provinsies soos Noordwes, Noord-Kaap, Limpopo en Gauteng woon, het maklike toegang tot die suidelike en oostelike dele van Botswana - jy kan sommer vir 'n langnaweek gaan!

Ons artikels oor die Tuliblok, Palapye en Francistown behoort jou 'n paar idees te gee, en ek dink die artikel oor die Khawa-deel van die Kalahari gaan by baie mense aanklank vind. Dié onontdekte boskamp is in 'n stuk ongerepte veld.

Vertel ons van die uitgebreide verblyfgids.

François: Ons maak elke jaar seker dat die plekke wat ons in die verblyfgids noem, plekke is waar ons self al aangedoen het. Hierdie jaar gee ons 133 verblyfplekke, elk met kontakbesonderhede, GPS-koördinate en huidige pryse. Ons het ook ons lesers gevra wat hulle voorstel en dit by die lys ingesluit, sowel as ekstra brokkies waardevolle inligting soos waar kan jy vleis koop, 'n paar lekker eetplekke, doendinge, roete-inligting en parktariewe.

Waar is julle gunstelingplek in Botswana?

Toast: Ek sal seker elke vyf minute anders antwoord op dié vraag! Maar op hierdie presiese oomblik sal ek daarvan hou om op my kampstoel te sit by die Khawa Rhino Sanctuary, net noord van Serowe.

Ek sal sommer net bly wees as 'n geelbekneushoringvoël vir my kom skeel kyk, en daar later 'n familie katlagters kom kuier...

François: Ek het 'n sagte plek vir die Moremi-wildreservaat waar jy die Okavangodelta op sy wildste kan ervaar.

Hier is ook doodlooppaadjies, waterkruisings, afdraaitjies, eilande, versteekte roetes en 'n netwerk seisoenale paaie waar jy maklik kan verdwaal - 'n kaartman se droom!

Foto: Shelley Christians
Foto: Shelley Christians

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM