Lesers kan uitsien na inligting oor bykans 40 roetes reg oor SA, sowel as in Namibië en die Koninkryk van eSwatini.
Ons skryf oor dagstappe, naweekstappe, van die knewels soos die Amatola, Otter en Visrivercanyon, sowel as roetes waarop jou hond mag saamdraf of iemand anders die swaar goed tot by die volgende oornaghut karwei.
Lesers kan uitsien na inligting oor bykans 40 roetes reg oor SA, sowel as in Namibië en die Koninkryk van eSwatini
Ons wys jou ook hoe om 'n rugsak ordentlik te pak, watter noodhulpgoedjies régtig nodig is en hoe om smulkos uit jou rugsak op te tower. én gesels met van die mees gesoute stappers oor hulle gunstelingroetes, die beste toerusting en waarom stap goed is vir die siel. En as 'n bonus gesels ons ook met 'n Camino-kenner oor alles wat jy van die lewe langs dié pelgrimsroete wil weet.
Kry die gids, knoop jou veters en mik iewers heen vir 'n bietjie hoogte bo seespieël. Jy weet jy wil!
Hier's 'n voorsmakie van wat jy kan verwag in die Weg! Stapgids:
'N PUIK DAG IN DIE DRAKENSBERG
Tugelaravyn (14 km), Koninklike Natalse- nasionale park

Hier's 'n stuk of 20 staproetes in die reservaat, maar die Tugelaravynroete bly koning. Die roete in die ravyn op is nie moeilik nie, en ook nie te lank nie, maar omdat jy telkens vassteek om die veld en kranse te betrag is dit 'n goeie plan om vroegdag te wikkel.
Die voetpad van die Thendele-kamp af volg eers die Vermaanrivier se loop op 'n kontoer langs en neem jou kort-kort deur 'n klossie inheemse woud. Dan vurk die stroom en swenk 'n mens saam met die Tugelarivier in die rigting van die Amfiteater se groot klipmuur wat vinnig nader skuif.
Daar is talle swemgate langs die pad en die berg - met die bekende Tugelawaterval daarvoor - skuif vinnig nader. Maar 'n mens stap nie sommer trompop in die waterval vas nie: Jy kom eers te staan voor 'n smal klipgang wat oor eeue heen tussen die reuse-rotse uitgekalwe is. Hier het jy 'n keuse: óf déúr die tonnel (in die somer is swem jou voorland!) óf bó-oor met 'n kettingleer teen die regterkantste wand uit. Déúr is 'n groter avontuur. Stewels en sokkies uit!
Die gladgespoelde rotse is seepglad en die ysige water word al hoe dieper. Naderhand is 'n mens halflyf in die water en jy hyg behoorlik van die koue terwyl jy vorentoe beur. Bo in die gang steek 'n rotsblok tussen die twee flanke vas. As die water vlak genoeg is, kan jy onder deur swem, maar wanneer dit soos 'n waansinnige wasmasjien se spoelsiklus bruis, moet jy liefs omdraai en met die kettingleer bolangs klim.
ánderkant die wasmasjien is dit nog net sowat 500 m tot by die waterval en 'n gróót genoegdoening. Die Tugelaravyn is loshande een van die mooiste en maklikste stappe in die Drakensberg!Waar? Volg die R74 noordwes uit Bergville vir 30 km en draai dan net voor die Oliviershoekpas links. Volg die aanwysings van hier af - die reservaat is nog 19 km verder.
Koste: Dagbesoekers betaal R40 p.p. (R20 per kind)
Kontak: *036 438 6411; * kznwildlife.com
- Sophia van Taak
Amatola - berug én betowerend

Hierdie sesdagroete naby Hogsback in die Oos-Kaap is alsbehalwe 'n rustige Sondag-wandeling. Jy wérk vir al die mooi wat jy beleef. Maar die tientalle watervalle, welige inheemse woud en uitsigte soos skilderye is die moeite werd - selfs al reën jy papsopnat.
Die Visriviercanyon

Om by die Hobas-uitkykpunt te staan en af te tuur in die majestueuse Visriviercanyon is een ding. Maar om vyf dae lank ín hom te stap en te slaap is 'n ervaring wat jou 'n leeftyd sal bybly.
Die Otter

Hierdie staproete is só gewild dat 'n mens 'n jaar vooruit moet bespreek. En dis g'n wonder nie - dié 45 km hoort op elkeen met 'n staprugsak se wenslysie.
Ja, jy kán stap én smul!

'n Stapspyskaart hoef nie eentonig te wees nie. Met 'n paar slim bestanddele in jou rugsak en 'n bietjie voorbereiding tuis kan jy selfs diep in die Drakensberg steeds aan dié lekker disse weglê.
Woef vat óók die wandelpad

As honde eers deel van jou vriendekring geword het (en ons almal weet hoe maklik dít gebeur), breek dit 'n mens se hart om hulle by die huis of hondehotel te los wanneer jy vir 'n naweek iewers avontuur soek. Op hierdie twee roetes in Mpumalanga is jou viervoetmaats welkom om na hartelus saam te stap en swem.
Die Camino de Santiago

'n Dekade gelede het weinige Suid-Afrikaner van die Camino geweet; deesdae ken almal iemand wat dit al gaan stap het óf jy droom daarvan om self die pelgrimsroete te volg. Maar wat maak dit so 'n merkwaardige ervaring?
KRY DIE WEG! STAPGIDS AANLYN

Nou op die winkelrakke beskikbaar. Prys: R70













