
Maar wat beteken dit in die praktyk? Eerstens gaan jy nou al jou Afrikaanse koerante (Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport), asook 30 gemeenskapskoerante én al die bogenoemde tydskrifte in een digitale tuiste vind. Dit beteken dat jy vir die eerste keer ons kosbare tydskrifinhoud ook op selfoon, tablet of rekenaar sal kan lees.
En net soos mense nog altyd moes betaal vir hul tydskrif en koerant, sal 'n mens betaal om al hierdie inhoud in een plek te kan lees. Vanaf 1 November sal 'n Netwerk24-intekenaar R99 per maand betaal vir toegang tot al hierdie nuus en en leefstylinhoud wat geskep word deur ons tydskrifte en koerante se beste joernaliste. Goeie joernalistiek kos geld, maar vir die prys van een koppie cappuccino per week is dit nie baie nie.
Baie van julle wil dalk weet wat word van die stories wat julle tans op www.netwerk24.com/weg/ lees - die stories wat spesiaal vir die webwerf geskep word? Meeste van hierdie stories gaan ook agter die betaalmuur wees. Jy sal dit kan lees as jy 'n Netwerk24-intekenaar is, en ook as jy geregistreer het vir jou 30 dae gratis proeftydperk op Netwerk24.
Daar sal steeds elke dag gratis inhoud op www.netwerk24.com/weg/ wees, maar nie so baie soos in die verlede nie.
Julle sal die tydskrifinhoud vind deur te gaan na 'n blokkie bo-aan ons webwerf wees wat sê "Tydskrif". As jy daar klik, kry jy stories in ons jongste uitgawe in webformaat - dieselfde woorde en inhoud as op papier, net met 'n ander uitleg om dit maklik te maak vir jou om op jou rekenaar, tablet of selfoon te lees.
Of jy kan op E-tydskrifte klik en dan sal dit jou neem na 'n digitale biblioteek waar jy die jongste uitgawe kan lees presies net soos wat dit op papier lyk, met dieselfde uitleg. Jy klik net en dan blaai jy om of jy vee met jou vinger op jou selfoon of tablet se skerm as jy wil omblaai.
Onthou dat Weg!, Weg! Ry & Sleep en al ons spesiale uitgawes steeds op die winkelrak beskikbaar is. Niks het verander as jy steeds lief is vir papier nie!
Hoe word jy 'n Netwerk24-intekenaar? Gaan doodeenvoudig na www.netwerk24.com en vul jou besonderhede in. Dis doodmaklik.
Het jy nog vrae oor wat jy vir R99 kry? Lees meer hier.
Groete,
Pierre
Redakteur: Weg












