Gooi dié goed reg weg

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Getty/Gallo Images
Foto: Getty/Gallo Images

Daar is maar net sekere dinge in die lewe waarvan jy makliker ontslae kan raak as ander.

Ou klere kan aan liefdadigheidsorganisasies, welsynprojekte of tweedehandse klerewinkels geskenk word. Ou boeke vind hul weg maklik tot in 'n tweedehandse boekwinkel of 'n biblioteek. Maar hoe gemaak met goed wat nie sommer net in die asblik gegooi kan word nie?

Ruk jou medisynekassie reg

"Medisynekassies moet gereeld opgeruim word want sekere medikasie kan met die verloop van tyd verswak en doeltreffendheid verloor. Dit kan self gevaarlik raak," sê Gerda Potgieter, 'n apteker van die Medipost-apteekkoerierdiens in 'n verklaring.

Volgens Gerda moet jy alles in die medisynekassie deeglik nagaan, van salf tot vitamienes en aanvullings. "Gooi enige medikasie waarvan die vervaldatum reeds verby is, weg," sê sy.

Sy meen jy moet ook oplet of die medisyne verkleur het, snaaks ruik of melkerig lyk. "Dit is belangrik omdat die chemiese samestelling, die doeltreffendheid en dus die veiligheid van die produk beïnvloed word," verduidelik Gerda.

Tog kan jy nie net die klomp pille sommer so in die asblik gooi of by die toilet af spoel nie.

"Dit kan gevaarlik wees omdat ashope en watervoorraad besmet kan word met die weggooi-medisyne," sê Gerda.

Die veiligste manier om van jou ou medikasie ontslae te raak, is om dit na jou naaste apteek te neem. Die apteek sal dan op 'n veilige en omgewingsvriendelike manier daarvan ontslae raak. Daar is selfs apteke wat ou medikasie wat reeds verval het, by jou huis sal kom oplaai.

Maak só met jou ou onderklere

Ou klere kan vir iemand anders nog iets beteken wanneer jy daarmee klaar is. Jy kan dit by jou kerk of 'n liefdadigheidsorganisasie skenk. Jy en jou vriende kan dit selfs onder mekaar uitruil as die klere nog in 'n goeie toestand is.

Maar ou onderklere is nou nie eintlik iets wat 'n mens sommer net kan weggee nie en die meeste mense gooi dit in die asblik.

Tog kan ou onderklere ook 'n tweede lewe kry.

Was dit, knip dit oop en omskep dit 'n stoflap. Of skenk jou ou kouse en onderklere aan groot kettingwinkels met herwinningsprojekte of liefdadigheidsorganisasies.

  • Die Sweedse klerereus H&M het 'n wêreldwye projek wat mense aanmoedig om ou klere in 'n drom by hul betaalpunte te gooi. Volgens die klerereus se webblad word ou kledingstukke wat nie weer gedra kan word nie (soos ou onderklere) in ander produkte soos stoflappe of isoleermateriaal omskep. In ruil vir jou skenking, kry jy 'n afslag-koepon.
  • Die organisasie Clothes to Good in Pretoria herwin ook 'n verskeidenheid ou klere en bemagtig sodoende mense in lae-inkomste huishoudings en veral mense met gestremdhed deur hulle te help om mikro-ondernemings op die been te bring. Kledingstukke wat nie meer gedra kan word nie, soos ou onderklere, word onder meer versnipper en gebruik om sagte speelgoed vir kleuterskole te vul, verduidelik Jesse Naidoo, stigter van dié organisasie.
  • Ou onderklere, veral bra's, kan aan die ZABRA AfriBra inisiatief geskenk word. Dié projek versprei ou, maar bruikbare onderklere aan behoeftige vroue in verskillende lande reg oor die wêreld, veral ook in Suid-Afrika. Vrywilligers help om die onderklere in verskillende lande, ook in Suid-Afrika, in te samel en te versprei.

'n Plan met elektronika

E-afval is enigiets wat met 'n kragbron werk, soos 'n radio, televisie, rekenaarskerm of kabels. Daar is verskeie afleweringspunte in Suid-Afrika waar jy van jou stukkende elektroniese toestelle ontslae kan raak.

Dit is baie belangrik om seker te maak jy gooi dié toestelle nie net bloot in die asblik nie. Elektroniese afval bevat skadelike materiale soos onder meer lood, suur en kwik wat tot binne-in die grondwater kan lek as dit aan die elemente blootgestel word. Selfs al word dié besmette water gefiltreer kan dit ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak.

Jy kan op die webblad Mywaste.co.za na afleweringspunte vir byna enige weggooi-goed soek, van elektronika en batterye tot mediese afval en selfs brille.

Die kettingwinkel Pick n Pay het voor in hul winkels 'n herwinningswaentjie waar ou inkhouers van drukkers, batterye en gloeilampe veilig weggegooi kan word.

Bykomende bronne: Environment.co.za; Mywaste.co.za; Ewasa.or

Charlea Sieberhagen-Grey

SPELETJIES VANDAG

CTA