Matrieks: Eksamenwenke wat werk

Voel jy effens oorweldig oor dit wat voorlê? Ons het by kenners vir 'n paar studiewenke gaan aanklop.

Anton Böhmer, 'n kliniese sielkundige van Stellenbosch, stel die volgende voor:

  • Werk vir jou 'n roetine en rooster uit en hou sover moontlik daarby.
  • Breek die werk in kleiner stukkies op. Merk op 'n kaart of bladsy af waarmee jy klaar is sodat jy die klein stukkies sukses kan sien.
  • Probeer om vrae deur te werk en dit so vinnig moontlik te antwoord. Dit maak die horlosie minder van 'n vyand tydens vraestelle.
  • Wanneer jy 'n breuk neem, moet jy iets aktiefs doen. Stap, draf, swem, speel met jou hond of kook iets in die kombuis. Doen iets wat jou liggaam en brein suurstof gee, want dit is die hoë-oktaan-petrol wat ons aan die gang hou.
  • Probeer elke dag 20 tot 30 minute oefen. Dit ontlaai nie net stres nie; dit stel ook endorfiene vry, wat ons gelukkige hormone of happy hormones noem.
  • Probeer negatiewe gedagtes en negatiewe mense vermy. Dit maak jou onnodig bang en as jy gespanne raak, verloor jy fokus.
  • Sit sosiale media eenkant. Dit neem meer tyd op as wat jy besef en dit keer dat jy afskakel en ontspan.
  • Maak seker dat jy alles wat jy nodig het reeds die vorige aand gereed kry. Jy wil nie op die nippertjie spartel en spook en dan laat wees vir jou eksamen nie.
  • Probeer ontspan. As jy angstig raak, stel jou brein kortisol vry. Dit laat jou minder helder dink, want jou brein dink hy is in gevaar.
  • Onthou om asem te haal in die eksamenlokaal.
  • Glo in jouself!
Dit is belangrik om verbind te bly aan maats tydens die eksamen, maar wees versigting om nie te veel sosiaal te wees nie.Foto: Gallo Images/Getty Images
Dit is belangrik om verbind te bly aan maats tydens die eksamen, maar wees versigting om nie te veel sosiaal te wees nie.Foto: Gallo Images/Getty Images

Esmarie Cilliers, 'n sielkundige met 'n spesiale belangstelling in ontwikkelingsielkunde en persoonlike groei van die South African College of Applied Psychology (Sacap), stel voor:

  • Moenie te veel onderwerpe op een slag studeer nie en fokus op die vak of onderwerp wat jy op jou rooster uitgemerk het.
  • Skep vir jou 'n studieruimte in 'n plek wat stil is en omring jou met alles wat jy nodig het.
  • Jou geheue kan net met sewe tot 10 stukke inligting op 'n slag werk. Die idee om jou tyd in blokke op te deel sal jou help om jou tyd te struktureer sodat jou brein inligting kan verwerk.
  • Sy beveel die Pomodoro-tegniek aan. Blok byvoorbeeld 25 minute uit vir 'n spesifieke deel werk. Rus 5 minute. Begin daarna weer met 'n 25 minute-blok. Een so 'n blok word 'n Pomodoro-blok genoem en jy kan verskeie van die blokke vir verskillende onderwerpe in jou studietyd hê.

Dalena van der Westhuizen, kognitiewe ontwikkelingsspesialis van BrainAbility, sê:

  • Slaap is 'n noodsaaklike komponent van leer. Daar is selfs 'n formele naam daarvoor: ‘slaap-leer'. Die geheue-konsolidasieproses vind die beste plaas wanneer jy slaap. Met ander woorde, wanneer jy slaap, herstel en heraktiveer jou brein. Volgens sekere navorsers help jy jou brein om te leer en te onthou as jy vinnig voor slaaptyd deur jou leerwerk gaan. Die les om hieruit te leer is om seker te maak jy kry genoeg slaap in en vergeet van deurnag leer.
  • Navorsing wys studente onthou en herroep beter wanneer hulle inligting leer met die verwagting dat hulle dit aan iemand anders moet verduidelik. Nog studies dui daarop dat studente meer betrokke is en instinktief metodes vir die herroep en organisering van inligting sal uitsoek wanneer van hulle verwag gaan word om die ‘onderwyser'-rol aan te neem. Maak seker jy kan in jou eie woorde aan iemand anders verduidelik wat jy geleer het.
  • Om teks te lees en te herlees is nie leer nie. Dit lei bloot daartoe dat leerders dink hulle ken die werk beter as wat werklik die geval is aangesien die werk reg voor hulle is. Gebruik eerder 'n metode genaamd aktiewe onthou. Om werklik langtermyn te memoriseer, moet jy jou boek toemaak en probeer herhaal en in jou eie woorde verduidelik. Om jou werk neer te skryf bly maar die heel beste manier van leer.
  • Boeke is steeds beter as 'n skerm. Navorsing dui daarop dat gedrukte materiaal soos boeke steeds beter as digitale materiaal soos 'n tablet, rekenaar of foon is. In 'n groot meningspeiling het meer as 90% van studente aangedui hulle verkies 'n boek bo 'n rekenaar wat leer betref. Daar is verder bevind dat leerders wat op 'n skerm lees, meermale werk moet herhaal as leerders wat uit 'n boek lees.
Die is belangrik om kalm te bly tydens die eksamen, asook wanneer jy voorberei. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die is belangrik om kalm te bly tydens die eksamen, asook wanneer jy voorberei. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nog wenke

Anton gee ook bykomende raad oor wat om te eet of drink, of jy musiek moet luister en hoe belangrik vriende in dié tyd is.

Wat om te eet, of nie?

Vermy energiedrankies en kitskos. Energiedrankies en koffie kan jou meer angstig maak.

Beste kosse

  • Rou groente, soos wortels, komkommer en seldery.
  • Neute verskaf energie en is vol magnesium, wat stres verminder.
  • Aarbeie is vol vitamien C wat jou immuunstelsel sterk hou.
  • Piesangs is goed vir vitamine B6 wat serotonien vrystel en jou bloeddruk verlaag.
  • Hawermout stel energie stadig vry en sal keer dat jy in die middel van 'n vraestel honger raak.
  • Donker sjokolade! Die soort wat 70% of meer kakao bevat, bevat ook endorfiene, verhoog bloedtoevoer na die brein en gee net genoeg kafeïen om jou aan die gang te kry.

Hoeveel water moet jy drink?

Drink ses tot agt glase water per dag. Dit keer dat jy dehidreer, wat tot uitputting en gebrekkige konsentrasie kan lei.

Moet jy na musiek luister?

Moenie iets beproef wat jy nie in die verlede gedoen het nie. Dit kan jou aandag van jou boeke laat wegdwaal.

Vroeëre navorsing het aangedui dat klassieke musiek die beste impak het op die brein se vermoë om nuwe inligting te berg. Maar dit word nou betwyfel.

Kies musiek waarvan jy hou, indien jy dit saggies op die agtergrond wil speel of wat by die ritme van jou studie pas, soos as jy byvoorbeeld inligting hardop herhaal.

Vir die meeste mense is stilte of musiek sonder lirieke die beste.

Verbintenis met ander

Dit is baie belangrik om te weet jy pak nie die eksamen alleen aan nie en dat vriende en familie daar is om jou moed in te praat.

Beperk jou sosiale tye aangesien dit baie tyd in beslag neem. Jy moet nou op jou studie en jou eksamen fokus.

Stuur vir jou beste vriende een of twee kort bemoedigende gedagtes per dag.

Die matriekeksamen begin op Donderdag 5 November. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die matriekeksamen begin op Donderdag 5 November. Foto: Gallo Images/Getty Images

Stel jouself reg in

"Een van die sleutelaspekte oor hoe 'n matriekleerder en sy ouers die matriekjaar benader, lê in hul houding en perspektief oor die uitdagings," sê Esmarie. "Hierdie uitdagings is nog groter gemaak met die steurings wat die pandemie gebring het.

"Aan die een kant het dit angstigheid en teleurstellings gebring en aan die ander kant het dit 'n uitsonderlike lewenservaring gebring waartydens leerders hul groeiende onafhanklikheid kon aanvaar en meer kon put uit karaktereienskappe soos veerkragtigheid en moed.

"Jy het die keuse om hierdie ongelooflike uitdagende tyd as 'n geleentheid te beskou en om jou dissipline te verbeter, asook jou tydsbestuur en studiemetodes."

Die is belangrik om kalm te bly tydens die eksamen, asook wanneer jy voorberei. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die is belangrik om kalm te bly tydens die eksamen, asook wanneer jy voorberei. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kyk na jou emosionele welstand

Dr. Diana de Sousa, die hoof van onderrig en leer by Sacap se kampus in Johannesburg, sê:

  • Kry 'n plan. Skep vir jou 'n gebalanseerde rooster wat vir jou werk en sluit in genoeg tyd om te slaap, oefen en gesond te eet. Maak seker daar is tyd om met jou onderwysers te praat oor hulpbronne en kyk na die departement van onderwys se webtuiste vir hulpbronne om jou te help leer.
  • Gebruik die sosiale media vir ondersteuning en om vriendskappe in stand te hou wanneer jy nie mense kan ontmoet nie. Skep WhatsApp-studiegroepe saam met vriende om kontak te hou met klasmaats en jou geestesgesondheid en emosionele welstand in stand te hou.

Lauren Martin, beradingsielkundige en hoof van toegepaste sielkunde by Sacap:

Kyk na verskillende roetes en maniere om jou toekomsdoelwitte ná matriek te bereik.

  • Moenie jouself met jou maats vergelyk nie, want jy is uniek. Wanneer jy jouself met ander vergelyk, verhoog die onnodige emosionele ongemak en dit dra nie tot jou sukses by nie.
  • Moenie jou geliefdes se emosionele probleme met jou saamsleep nie. Kinders moenie die las van hul ouers se emosionele probleme hanteer nie. Jou emosionele welstand moet vir jou 'n prioriteit wees.
  • Reik uit vir hulp. Jy weet gewoonlik wanneer dinge vir jou te veel raak. Jy kan verwag dat die matriekjaar uitdagend sal wees, maar dit moenie daartoe lei dat jy jou waarde, toekoms of lewe bevraagteken nie. Vra vir professionele hulp as jy hiermee sukkel.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok,en teken gerus in op onsnuusbriewe.

Marelize Grbich

SPELETJIES VANDAG

CTA