"Ons ken 'n 88-jarige oom wat nog sy eie motor bestuur. Tot almal se misnoeë," skryf 'n leser vroeër die maand aan Huisgenoot. "Ons is bekommerd. 'n Mens wil nie die oom se onafhanklikheid van hom wegneem nie, maar ons senuwees is gedaan."
Baie van ons het so 'n familielid: Iemand wie se reflekse nie eintlik meer is wat dit moet wees nie, maar wat aandring daarop om self te bestuur.
Of dalk is jy self ouer en onseker oor of jy nog op die pad behoort te wees. Vir watter tekens moet jy jou oë oophou? En hoe benader 'n mens so 'n gesprek met 'n ouer familielid? Hier is raad.
'n Verlies aan onafhanklikheid
Mense wat ouer as sestig is en nie meer kan bestuur nie, verloor hul onafhanklikheid, vertel Marilyn Hallett, stigter van die plaaslike You've Earned It, 'n aanlyn organisasie wat na die belange van ouer mense omsien.
"Dit moet in gedagte gehou word wanneer iemand se sleutels afgevat word. Daar moet ander opsies wees om sonder 'n motor oor die weg te kom," voeg sy by.
Om op ander se skedules staat te maak, is vir enige seniormoeilik om te aanvaar, vertel Marilyn. Soms het seniors egter absoluut geen idee dat hulle onveilig bestuur nie, vertel Irene Snell-Caroll, bestuurder van die Suid-Afrikaanse bemagtigingsgroep Age-in-Action.
Ouer mense moet noodgedwonge soms hul motors gebruik in noodgevalle as niemand anders beskikbaar is nie, meen Irene, daarom moet families ook help om planne te maak sodat daar altyd iemand sal wees wat kan help om na die hospitaal of ander plekke toe te bestuur - sou die ouer person ophou bestuur.
In stede is Uber 'n bekostigbare vervoeropsie wat met enige slimfoon gereël en gevolg kan word. Sommige privaat maatskappye bied 'n gratis diens of afslagtariewe aan seniors.
Stel 'n lys met opsies op sodat jou geliefdes kan sien hulle sal nie geïsoleerd wees as hulle nie meer self bestuur nie.
Om op te hou bestuur, hoef nie 'n krisis te wees nie. Dit is eenvoudig tyd om ander moontlikhede te ondersoek. Al is dit swaar om van jou vryheid in te boet, is daar heelwat vervoerdienste wat seniors help om onafhanklik te bly.
Of jy nou van openbare vervoer gebruik maak, van 'n diens wat spesiaal op seniors gemik is, of toelaat dat vriende en familie jou rondry, dis steeds moontlik om te kom waar jy wil wees.
Waarskuwingstekens dat jy moet ophou bestuur

Sekere gesondheidstoestande of medikasie kan dit moeiliker maak om te bestuur. Al voel jy steeds gemaklik agter die stuur, is dit dalk nie veilig genoeg om jou ongeluksvry te hou nie. Wees op die uitkyk vir hierdie gevaartekens:
- Jy verdwaal op plekke wat jy vroeër goed geken het.
- Jy het ál meer noue ontkomings op die pad.
- Jy kry ál meer verkeersboetes.
- 'n Onvermoë om sirenes of ander padgeluide te hoor.
- 'n Onvermoë om padtekens te sien of te lees.
- Jy ondervind probleme met basiese padreëls, soos om vinnig van baan te verander, 'n sitplekgordel te dra, en verkeersligte en padtekens te gehoorsaam.
- Onthou, sekere medisynes het newe-effekte wat dit onveilig maak om te bestuur, soos lomerigheid. As jy nie wakker genoeg voel om dit tot by jou bestemming te maak nie, behoort jy nie te bestuur nie. Wag totdat die lomerigheid verby is of vra iemand anders om jou te neem.
Waarskuwingstekens aan geliefdes om in te tree

1. Hul motor het vars duike en skrape
'n Goeie plek om te begin is om die ouer persoon se motor te ondersoek. Is daar onlangse duike en skrape? Sien jy enige skade aan hul posbus, heining, oprit-area of motorhuisdeur? As jy kan, probeer om uit te vind of hul motorversekeringbydraes verander het of hulle enige verkeerskaartjies of waarskuwings gekry het.
2. Hulle bestuursgewoontes het verander
Beduidende veranderings in bestuursgewoontes is definitiewe rooi vlae. Byvoorbeeld, rol hulle deur stoptekens wanneer hulle tot stilstand kom? Verander hulle bane sonder om selfs op hul blindekol te kyk? Hou hulle skielik op om veiligheidsgordel te dra nadat dit ‘n lewenslange gewoonte was?
3. Hulle is besig sig te verloor
Om goed te kan sien is noodsaaklik vir veilige bestuur. As jou ouer 'n visieprobleem het, soos makulêre degenerasie of gloukoom, sal hulle beslis nie veilig agter die stuur wees nie, ongeag wat hulle sê.
Ander probleme kan ook inmeng met hul vermoë om te sien. Kan hulle oor die stuurwiel sien? Osteoporose of 'n geboë ruggraat kan dit 'n uitdaging maak. As hulle styf of in pyn is, kan dit vir hulle moeilik wees om hul blindekol of agteraansig na te gaan ná laanveranderinge of agteruitry.
4. Bestuur het stresvol, verwarrend of uitputtend geword
As die ouer persoon baie fisieke uitdagings moet oorkom, kan bestuur stresvol en uitputtend raak. Hulle kan ook tekens van verwarring of woede toon, of maklik afgelei word.
5. Hulle het noue ontkomings
As die persoon al 'n paar keer net-net nie in 'n ongeluk betrokke was nie, is dit 'n teken dat hul ryvaardighede versleg. Dit kan gebeur omdat hulle verkeerstekens mislees, of die spoed van aankomende motors onderskat.
6. In die nag ry maak hulle senuagtig
As jou ouer huiwerig is om in die nag te ry, is dit 'n teken om beter aandag te skenk aan hul algehele bestuursvaardighede.
7. Ander mense word bang
As jou ouers se vriende of ander familielede nie meer gemaklik saam met hulle in hul motor ry nie, let daarop. Dit is nie 'n goeie teken nie.
Hoe om met 'n geliefde hieroor te praat

Wanneer jy met 'n ouer persoon moet gesels oor hul bestuursvermoë, doen dit sagkens en met respek. Gee spesifieke voorbeelde.
Dit help soms om nog iemand, soos 'n broer of suster, 'n kleinkind of ander geliefde daar te hê om jou te ondersteun en die ouer persoon te laat insien dat jy nie besig is om hom of haar aan te val nie.
"Ouer mense kan hardkoppig wees en vasklou aan hul motor en vryheid om enige tyd agter die stuur te klim," vertel Susan Eksteen, Imago-verhoudingsterapeut van Krugersdorp.
"Praat daaroor. Jy kan met sy of haar dokter saamwerk en uitwys dat die pille wat hulle drink hul oordeelsvermoë om veilig te bestuur kan beïnvloed.
Baiekeer is ouers toeganklik as jy presies kan noem wat dit is wat jou bekommer en dat jy hulle nie sommer net wil dwing om iets te doen nie," vertel Susan.
Noem faktore op wat jou bekommer, soos dat sy sukkel om knope aan te werk, of dat hy in die stort geval het, dat hulle dikwels deurmekaar is, sonder petrol gaan staan of nie afsprake nakom nie.
"Hou boek hiervan met datums en tye sodat jy meer oortuigend is wanneer jy sê dis dalk nie meer so 'n goeie ding dat hulle bestuur nie," meen Susan.
Bronne: goeiehuishouding.co.za; dailycaring.com; womenonwheels.co.za


















