Smaakmakers

Smaak jy mense se smaak? Wen só!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Is jy 'n smaakmaker (influencer) wat sosiale media aan die gons het?

Of weet jy van 'n persoon wat mense in Afrikaans op platforms soos TikTok, Facebook en Instagram inspireer oor onderwerpe soos tuinmaak, kos, boeke, reis, wyn, komedie en gesondheid?

Dan is Netwerk24 se Smaak­maker-kompetisie net vir jou. Suid-Afrika se voorste inteken-nuusdiens span kragte saam met Media24 se koerante en tydskrifte sowel as Landbou.com, kykNET en VIA om erkenning te gee aan die beste smaakmakers in Afrikaans.

Daar is 14 kategorieë waarin smaakmakers elkeen R25 000 kan wen en die algehele wenner sal met nóg R25 000 huis toe gaan.

Rapport is spesifiek op soek na smaakmakers wat hulle besig hou met plante en tuinmaak. Kuier wil inspirasie-mense op die platforms vereer, terwyl WEG! en Weg Ry& Sleep op soek is na smaakmakers wat fokus op buitelewe en reis.

Inskrywings sluit middernag op 14 Januarie 2024. Jy kan jouself of iemand anders inskryf.

Die finaliste word op 22 Januarie bekend gemaak op Netwerk24 en op die sosialemediaplatforms van al die vennote. Lesers kan dan vir hul gunstelinge stem.

Lesers se stemme is nie finaal nie, maar word in ag geneem wanneer die beoordelaarspaneel die uiteindelike wenners aankondig.

Stemme sluit op 15 Februarie en die wenners word op 29 Februarie in Kaapstad aangekondig.

Onthou dat net Afrikaanse inhoud beoordeel sal word. Smaakmakers wat inhoud in Engels skep, kan inskryf, maar daar moet genoeg Afrikaanse inhoud wees om dit te kan beoordeel.

Die smaakmaker moet die eienaar van die sosialemediablad wees, dit kan nie deur 'n agentskap besit of bestuur word nie. Slegs een sosialemediaplatform word in ag geneem - kies daarom die een wat elke smaakmaker se primêre kommunikasiekanaal is, of dit nou Instagram, Facebook of TikTok is.

Bepaalde kriteria geld vir elke kategorie en elke smaakmaker moet daaraan voldoen om vir pryse in aanmerking te kom.

• Gaan na Netwerk24 vir meer inligting oor die afdelings en die bepalings en voorwaardes.