Die Amerikaanse popster Ariana Grande het onlangs haar kenmerkende bruin hare grys gekleur. En ons dink dit lyk pragtig! Die 24-jarige sanger het die naweek 'n foto van haar nuwe haarkleur op Instagram gedeel. Ná meer as drie jaar as 'n brunet is dié nuwe kleur 'n aangename verrassing vir haar aanhangers.
Ariana het ook dié foto van haar en haar pelle gedeel waarin sy met haar nuwe grys hare pronk.
Met haar silwergrys hare volg Ariana in die voetspore van talle Hollywood-bekendes wat die afgelope paar maande hul hare verskillende variasies van platinumblond, silwer en grys gekleur het. Dis beslis dié haarkleur van die jaar.
Voel jy ook lus om so 'n gewaagde kleur uit te probeer? Dís wat jy moet weet:
* Eksperimenteer met een van drie skakerings: staalgrys ('n helder skakering wat neig na silwer), grys met 'n effense pers ondertoon of 'n wit-platinumblonde skakering. Dié skakerings is pret en nou hoogmode.
* Wanneer jy jou hare was, gebruik 'n bevogtigende sjampoe en opknapper om vog terug te sit, omdat die bleikproses die haarkutikel (die buitenste deel van jou hare) beskadig en veroorsaak dat vog makliker uit jou hare ontsnap.
* Platinumblonde en silwer hare kan ná 'n ruk geel begin lyk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe 'n sjampoe en opknapper (soos 'n silwer of pers sjampoe) wat geelheid teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.
* Die haarkleure lyk veral mooi op 'n douvars gelaat. Wend 'n pienkerige blosser op jou wange aan om jou gesig lewe te gee. Jy kan ook 'n bietjie verbronser aantik vir 'n warmer gelaat.
* Kies saam met jou platinum of silwer hare helder kleure vir jou lippe, soos rooi, pienk of koraal. Dis die maklikste manier om jou voorkoms op te helder en skep 'n fokuspunt op jou gesig.
Die model Karlie Kloss se douerige gelaat en helderrooi lippe komplementeer haar platinumblonde hare perfek.
Die werklikheidster Kim Kardashian se warm, verbronsde vel keer dat haar gelaat nie uitgewas lyk saam haar silwer hare nie.













