Styl

Britse supermodel se een groot skoonheidsgeheim

FOTO: Instagram (@rosiehw)
FOTO: Instagram (@rosiehw)

Die Amerikaanse tydskrif Vogue reik gereeld video's uit waarin hulle bekendes 73 vrae oor hul lewe vra. Dikwels laat val hulle interessante staaltjies en wenke in die onderhoude … soos nou onlangs weer toe die Britse supermodel Rosie Huntington-Whiteley haar grootste skoonheidsgeheim onthul het. Sy is gevra wat die een supermodel-skoonheidsgeheim is wat sy bereid is om te deel. En haar antwoord? Slaap op 'n kussing met 'n satynsloop!

Maar maak dit rêrig so 'n groot verskil as jy jou katoensloop vir een van satyn (of sy) verruil?

Hoewel 'n nuwe kussingsloop jou nie oornag gaan laat jonger lyk nie, kan dié eenvoudige kop(kussing)skuif wel 'n paar voordele vir jou vel én hare inhou …

#1 Meer vog vir jou vel

Die vesels van sy- en satynstowwe absorbeer minder vog as dié van katoenmateriale. Daarom word minder vog uit jou vel getrek, veral as jy geneig is om op jou maag of sy te slaap. En 'n goed bevogte vel is 'n gesonde vel.

#2 Die kans vir onsuiwerhede is minder

Sy- en satyndraadjies word stywer en nader aan mekaar geweef as dié van die meeste katoenstowwe. Die kans dat mikroskopiese deeltjies, stof, bakterieë en onsuiwerhede tussen die draadjies vasgevang word, is daarom kleiner. Dit kan 'n geneigdheid tot puisies verminder.

#3 Hare wat blink

'n Kussingsloop van sy of satyn hou boonop dieselfde voordele vir jou hare in. Wanneer jy beweeg, gly jou hare makliker oor die sagte tekstuur van hierdie stowwe as oor die effens growwer tekstuur van katoen. Omdat daar dan minder wrywing op jou hare is, sal jou hare minder geneig wees om gesplete punte te vorm of te breek. Daar word ook minder vog uit jou hare getrek en dit kan kroeserigheid en statiese elektrisiteit verminder, veral in die droë wintermaande.

Kyk hier na Rosie se volledige video-onderhoud met Vogue:

Bronne:www.huffingtonpost.ca, www.thebeautybrains.com, www.marieclaire.com, www.lovasilk.com, www.instyle.com

Monica Pienaar

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM