Vandag kondig ons die wenbruid vir Desember 2022 in Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie in samewerking met World Leisure Holidays aan. Baie geluk aan Dalene Rottier-Bennett van Lonehill!
Sy is op 15 Desember met Carl getroud. Dalene is 'n dieetkundige en Carl 'n grafiese ontwerper.
"Ons het ook ons eie ondernemings en ná Covid het Carl ook begin werk in verkope."
Die paartjie het op Tinder ontmoet, vertel Dalene: "Ná 'n paar maande se gesels het ons vir koffie gegaan by DC Coffee in Fourways. Ons het so lekker gesels dat ons ná drie koppies elk toe maar in die winkelsentrum gaan rondloop het, daar het ons bloed gaan skenk en toe middagete gaan eet. Dit was op 14 Januarie 2021."

Die paartjie het op 9 September 2022 verloof geraak en wou nog dieselfde jaar afhaak.
"Ná nog 'n lang, warm middag van een ná die ander venue besoek, wat almal pragtig is, maar net nie voel soos ‘ons' nie, besluit ons om te gaan vir middagete in Broederstroom by Bistro Nineteen69. Die oomblik toe ons instap, het die bekoorlike 1970's dekor, vintage-karre en goeie musiek my hart gesteel, dit was die plek waar ons wou trou. Albei van ons is mal oor die 70's, bellbottoms, blomme, kombi's, hippies en helder kleure.
"Dit was die perfekte plek vir ons, maar het baie werk, kreatiwiteit en kopkrap gekos om 'n troue hier realiteit te maak."

Dalene vertel hul troudag styl was toe natuurlik 'n 70's-tema.
"Ek wou 'n rok hê wat die moderne vereenselwig met die klassieke, dus die koper (vintage) romp met die moderne kant-bostuk. Die blommekransie om my kop het die tema mooi bymekaar gebring. My man het vir hom en sy strooijonkers stoofpypbroeke en onderbaadjies laat maak.
"Op die dag was ons albei oorweldig met emosie, daar was soveel dinge wat nie volgens plan verloop het nie en 'n magdom klein verrassings van lig, ironie en vreugde tussenin. Die dag het die hele spektrum van emosies gebring, waarvan ek nie 'n enkele een sou verander nie."
Die hoogtepunt vir haar was die feit dat hul gaste hulle deel gedoen het deur in die 70's-styl aan te trek.
"Van hulle het selfs baarde, hare en snorre laat groei, en die meeste het klere gaan huur.
"Ons het heerlik saam fees gevier, en omdat dit 'n klein troue was, kon ons met almal daar gesels."
Skryf só in
Die kompetisie vir 2022 is nou afgesluit. Volgende week word al 12 wenbruide gepubliseer, en die wenner sal tydens 'n gala-aand by Avianto op 2 Junie aangekondig word.
Meer inligting oor 2023 se kompetisie word binnekort bekend gemaak. Januarie en Februarie 2023-bruide is egter welkom om reeds hul inskrywings te stuur.
Hier is meer inligting oor hoe om in te skryf:
1. Verstrek die volgende in 'n Word-dokument:
a) Troudatum;
b) Bruid se naam en getroude van;
c) Bruidegom se naam en van;
d) Bruid en bruidegom se kontakbesonderhede (e-posadresse en kontaknommers);
e) Woonadres.
2. Antwoord die volgende vrae in dieselfde Word-dokument:
a) Waar het julle mekaar ontmoet?
b) Hoe lank ken julle mekaar?
c) Watter beroepe beoefen julle?
d) Wat is jul belangstellings?
e) Vertel ons van jou troue. Was daar 'n tema en wat was jou inspirasie?
f) Beskryf jou troudagstyl. Hoe het jy op jou rok en voorkoms besluit?
g) Wat was jou hoogtepunt van die troue?
3. Troufoto's: Heg kleur of swart-en-wit foto's aan in jpeg-formaat. Foto's moet elk 'n minimum van 1 MB groot wees.
- Bruid: kop-en-skouer-foto
- Bruid: vollengte foto
- Egpaar: foto
4. Dit is die persoon wat inskryf of namens 'n bruid inskryf se verantwoordelikheid om te verseker dat enige inligting wat verskaf word, akkuraat en volledig is.
5. Daar word nie e-pos-korrespondensie oor inskrywings gevoer nie.
6. E-pos-inskrywings moet vóór 12:00 op die sluitingsdag aan bruide@media24.com gestuur word. Ons maak geen uitsonderings vir laat inskrywings nie.




















