Styl

Die manspak regeer weer

Leiers kom en gaan, maar die pak sal altyd sy man in die werksplek kan staan, skryf Heindrich Wyngaard.

Die klere maak die man.

Of ek sou liewer sê die formele manspak maak die man.

Onlangs weer het ek opgemerk hoe prominent dié drag in die nuus vertoon, sowel hier in Suid-Afrika as elders in die wêreld, onder meer in Brittanje en in China.

Oor die algemeen, met wisselende skakerings, was dit 'n donker pak, afgerond deur 'n wit hemp en donkerrooi das.

In China was dit aan die lyf van pres. Xi Jinping, wat tot 'n derde termyn as leier van die Chinese Kommunistiese Party verkies is.

Die Chinese pres. Xi Jinping toe hy onlangs weer as die leier van die Chinese Kommunistiese Party verkies is.
Die Chinese pres. Xi Jinping toe hy onlangs weer as die leier van die Chinese Kommunistiese Party verkies is.

In Suid-Afrika was pres. Cyril Rama­phosa op soortgelyke wyse geklee, weliswaar met strepe in sy das, toe hy die regering se aksieplan oor die aanbevelings van die Zondo-kommissie na staatska­ping aangekondig het. Twee dae tevore is hy deur sy voorganger, Jacob Zuma (ook ewe deftig uitgevat in 'n donker pak, wit hemp en rooierige das), beskuldig van alles wat mense oor Zuma self sê.

Maar dit was veral in Brittanje dat die fokus behoorlik op die manspak geval het toe 'n tweede nuwe premier in minder as twee maande aan die publiek bekend gestel is.

Rishi Sunak is die uitverkorene as nuwe leier van die Konserwatiewe Party ná die bedanking van Liz Truss. In sy eie donker pak, wit hemp en fluweelagtige blougrys das, is hy na Buckingham-paleis waar koning Charles III hom amptelik gevra het om 'n nuwe regering saam te stel.

Die vorige so 'n geleentheid was toe Charles se ma, koningin Elizabeth II, dié eeue oue gebruik met Truss uitgevoer het, enkele dae voordat sy in September op 96 jaar gesterf het.

Uit die mandjie

Koning Charles III ontmoet die Britse premier Rishi Sunak toe hy in Oktober die leisels van die land oorgeneem het. Foto: Getty Images
Koning Charles III ontmoet die Britse premier Rishi Sunak toe hy in Oktober die leisels van die land oorgeneem het. Foto: Getty Images

Ondanks sy prominente vertoon het dié Britse instelling, die formele manspak, ses maande vroeër nes die monargie die einde van 'n era bereik nadat dit 150 jaar van veranderende modegiere deurstaan het. Dit was toe die Verenigde Koninkryk se Kantoor vir Nasionale Statistieke (KNS) die pak verwyder het uit hul inflasie(inkopie)-mandjie, wat bestaan uit meer as 700 items wat jaarliks bygewerk word om te verseker "dat dit 'n weerspieëling is van goedere en dienste waaraan verbruikers tipies geld bestee".

Manspakke is sedert 1947 in die mandjie geplaas, vier jaar voor die kroning van koningin Elizabeth II in 1952, maar toe word dit as't ware vanjaar deur Covid "onttroon".

Sam Beckett, KNS-hoof van ekonomiese statistieke, het die besluit verduidelik aan die hand van veranderende inkopie­gewoontes wat deur die pandemie meegebring is: "Die vraag na meer formele klere het toenemend begin afneem met dié dat talle mense van die huis af begin werk het. So, manspakke verdwyn uit die mandjie en word deur 'n formele baadjie vervang." Dit was sodat formele kleredrag vir die sakewêreld darem steeds verteenwoordig word.

Goed en wel, maar die baadjie op sy eie kan nooit gelyk gestel word met 'n volledige pak klere nie - selfs nie eens wanneer dit wel saam met 'n formele hemp en das gedra word nie.

In ons beeldbewuste, virtuele era, is dit wat jy aantrek om in die openbaar te praat van veel groter belang as ooit tevore.

Andersom, eerder, soos prins Philip blykbaar goed kon regkry: Die ontslape eggenoot van Elizabeth het geen erg daaraan gehad om 'n openbare lewe te lei nie, aldus die modeskrywer Robert Armstrong: "The real art of being the Duke, though, was to make formal clothes look informal."

Soos Armstrong dit ook in sy artikel oor prins Philip gestel het: "In a good suit you are ready for anything."

Maar gedurende die pandemie - toe kantore gesluit was en mense meestal virtueel met hul kollegas, kliënte en vennote gepraat het - het dit minder begin saakmaak hoe formeel jy aangetrek was.

Veral wat jou onderlyf betref. Slegs jou bolyf was meestal sigbaar. Só kon jy steeds betreklik formeel op die rekenaarskerm vertoon, terwyl jy 'n kort-, slaap- of oefenbroekie onder aan het. Pakke het dus in die klerekas bly hang; soms is net die baadjie uitgehaal; en dasse is nie eens na gekyk nie. Die KNS se verwydering van formele pakke uit die jaar se inflasiemandjie moes dus nie verras het nie.

Klere en kleure het 'n taal van hul eie

Tog is daar diegene, soos die mode-ontwerper Austin Lee van Couture by Austin Lee in George in die Suid-Kaap, wat aanhou glo daar sal altyd plek wees vir pakke. "Dit sal nooit uit die mode gaan nie," sê hy. "Style kan wel met die tyd verander, ja. Nuwe giere sluit byvoorbeeld in dat broekspype stywer word en baadjiemoue korter."

Pres. Cyril Rama­phosa se uitrustings -  gereeld met 'n rooi das -  het 'n besprekingspunt geword gedurende "gesinsvergaderings" in die inperkingstyd. Hier kondig hy in Maart 2020 die inperking aan. Foto: Felix Dlangamandla
Pres. Cyril Rama­phosa se uitrustings - gereeld met 'n rooi das - het 'n besprekingspunt geword gedurende "gesinsvergaderings" in die inperkingstyd. Hier kondig hy in Maart 2020 die inperking aan. Foto: Felix Dlangamandla

Nadat die ergste van die pandemie verby was en die terugtrek kantoor toe stelselmatig begin toeneem het, het formele drag weer teruggekeer. Besoeke aan die kleremaker het ook weer 'n meer gereelde deel van die daaglikse roetine van professionele lui geraak, hoewel op 'n graad slegs effe laer as besoeke aan die haarkapper.

Terselfdertyd het seminare, konferensies en ander optredes - selfs toe dit nog aanlyn was, maar meer so toe dit weer in lewende lywe bygewoon kon word - van sprekers, fasiliteerders en diegene in die gehoor vereis om opnuut "formeel" oor hul kleredrag te begin dink.

"In ons beeldbewuste, virtuele era, is dit wat jy aantrek om in die openbaar te praat van veel groter belang as ooit tevore," het Carola Long, adjunk-moderedakteur by Financial Times, opgemerk.

Raad van die New Yorkse kleremaker Leonard Logsdail, wat onder meer pakke vir die TV-reeks Succession ontwerp het, is dat jy altyd 'n "sterker" kleur moet kies om jouself in 'n groep of op 'n paneel te laat uitstaan.

Heindrich Wyngaard voor die kameras in 'n netjiese manspak.
Heindrich Wyngaard voor die kameras in 'n netjiese manspak.

Soos ons eie Simon Rademan, ontwerper en skrywer van The Style Bible, sê: "Kleure het 'n taal van hul eie." Jou kleurkeuse het dus alles te doen met hoe jy jouself "wil vertoon", beklemtoon hy. "Wat jy kies om aan te trek, sê natuurlik baie van hoeveel waarde jy heg aan selfrespek en eiewaarde."

Rademan reken Ramaphosa struikel 'n bietjie wanneer hy op pakke en dasse besluit. "Monochroom," is sy beskrywing daarvan. "Dit is altyd dieselfde; dit lyk altyd of hy deel van die G7 wil wees."

'n Ander bekende politikus, Peter Marais, volg al die jare nougeset die raad van sy eerste werkgewer: "Peter, you must not only be good enough for the job," het die Joodse oubasie járre terug aan Marais gesê. "You must also look the man for the job." Sedertdien kan jy Marais, wat ook al premier van die Wes-Kaap en burgemeester van Kaapstad was, áltyd in 'n formele pak vind en áltyd deur 'n ring trek.

Dit is ook die modeskrywer Armstrong wat in FT Weekend in April verlede jaar geskryf het: "We all have our work to do. Best to dress for it."

  • Heindrich Wyngaard is bekend daarvoor dat hy as TV-aanbieder en openbare spreker, asook nou in sy rol as voorsitter van die burgerlike organisasie Kaapse Forum, 'n formele pak of baadjie dra.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM