Kyk jy soms aarselend na al die dieremotief-dekor wat nou hoogty vier, en dink dadelik ‘ek sal dit nooit kan laat werk nie'. Laat vaar daardie inhibisies en wys jou wilde kant.
Die winter is verby en dis tyd om bietjie uit ons gemaksone te ontwaak.
Dieremotiewe is die perfekte manier om jou huis 'n vars, opwindende voorkoms te gee wat 'n stelling maak. Dit is boonop veelsydig - terselfdertyd tydloos en avontuurlustig, klassiek en gewaagd. As jy weet hoe om dit te stileer, sal dit jou huis blitsvinnig 'n kits-stylinspuiting gee.
Hier is agt wenke hoe jy enigiets van sebravel-patrone tot 'n Ardmore-vaas treffend in jou huis kan gebruik.

Werk met 'n neutrale agtergrond
Om dieremotiewe werklik tot hul reg te laat kom, moet jou agtergrond neutraal wees. Safari-sjiek het sy tyd en plek, maar dit moet ook nie lyk asof jy die hele Serengeti en Savuti in jou sitkamer probeer prop het nie.
Kies neutrale kleure soos sagte grys, warm beige of 'n wit met 'n koel, blou ondertoon vir jou mure, plafonne en vloere. Dit is altyd 'n goeie idee om meubels, gewoonlik jou duurste uitgawes, in neutrale, tydlose kleurskakerings te kies. Dis dan die skoon skilderdoek waarop jy heerlik met dieretemas, -patrone en -motiewe kan eksperimenteer en speel.
Meng, pas en bots
Dieremotiewe is juis tydloos omdat dit by feitlik alle dekorstyle pas. Dit kan net so pragtig en treffend in 'n eklektiese ruimte as in 'n minimalistiese een lyk. Omdat die motiewe se kleure gewoonlik neutraal en natuurlik is, werk dit saam met die meeste kleurskakerings.
Moenie bang wees om te meng, pas, of selfs botsende patrone saam te gebruik nie - Nguni saam met sebra, luiperd saam met slang, of selfs teksture, soos 'n faux-pelskombers saam met krokodil-kunsleer strooikussings. Dit kan jou huis so reg uit die blaaie van 'n Ralph Lauren-dekorkatalogus laat lyk. Ons woon immers in Afrika, en as jy dit reg doen, gee dit diepte en persoonlikheid aan jou binnenshuise versiering.
Oorweeg byvoorbeeld 'n pragtige gevlekte Nguni-mat op die vloer, en kontrasteer dit met sebravelpatroon-strooikussings op jou stoele of banke. As jy egter voel minder is meer - hou dit by een diermotief per vertrek.

Skep balans met effekleure
Die binnenshuise ontwerper en koning van maksimalisme Hutton Wilkinson het verklaar: " 'n Klein bietjie te veel is net genoeg vir my." As jou styl egter meer na Audrey Hepburn as Iris Apfel toe neig, kan jy steeds glans en oordaad in jou ruimtes verkry sonder om dit te oordoen.
Skep balans deur genoeg effekleurige materiaal te gebruik en skep fokuspunte - hiervoor sal 'n treffende sebravelmat (nes die een in Holly Golightly se woonstel in Breakfast at Tiffany's) of tropiese motief-strooikussings perfek werk. Kontrasteer dit met 'n effekleurige seegras- of raffiamat en gebruik die een oor die ander. Of laat die stel luiperdvelkussings die hoofrol speel, en die andersins eenvoudige, beige bank 'n ondersteunende rol. Sou jy gewaagd wil wees met 'n luiperdmotief chaise longue of rusbank, moet jou koffietafel, gordyne en kussings liefs effekleurig wees. Só laat jy dieremotiewe én klassieke stukke die kollig deel.
Die geheim lê in balans - as jy oorboord gaan met te veel luiperdvelpatrone, gee jy nie kans vir jou oë om 'n rusplek te vind nie. Dan smelt alles saam in een groot chaotiese warboel.
Etiese trofeë
'n Jagtrofee kan 'n vertrek 'n ouwêreldse gevoel van luuksheid en "ou geld" gee, maar as dit verkeerd gestileer word, voel dit gou grillerig en makaber.
Deesdae kry 'n mens vindingryke maniere om die gevoel van 'n jagtrofee na te boots, sonder om te voel dat daardie blouwildebees se albasteroë jou oral volg, lank nadat die biltong geëet is. Wees op die uitkyk vir pragtige en kreatiewe kunswerke van hout, keramiek, karton, papier-maché of draad wat perfek lyk bokant jou kaggel.
Aweregse Ardmore
Ardmore is nog altyd sinoniem met luuksheid en uitstekende vakmanskap. Jy kan nie verkeerd gaan met 'n Ardmore-kussing, -vaas of -tafeldoek om onmiddellik jou huis 'n eksotiese voorkoms te gee nie.
Ongelukkig kan almal nie 'n Ardmore-kunswerk bekostig nie, maar daar is soortgelyke materiaal van dieselfde gehalte wat helderkleurige tropiese motiewe uitbeeld. Gebruik dit vir enigiets van servette tot dekens. Die geheim is weer eens om neutraal saam met bont te gebruik, of 'n diere-rococo-styl vaas saam met 'n moderne, eenvoudige glasblompot. Só sal dit die ster van die oerwoudkonsert wees.
Neem die wildernis buitentoe
Wilde diere hoort buite - wilde dieremotiewe ook. Moet dit dus nie net tot binne beperk nie. Dis die perfekte dekorelement om jou stoep, balkon of patio in 'n oase te omskep. Buitekussings met sebravel, knus komberse met luiperdkolle of 'n buitelugmat met kolle of strepe sal jou buitenste areas in 'n lushof omskep.

'n Tier (of sebra) op jou muur
Muurpapier is groot nuus in die dekorwêreld - of dit nou Ardmore se tropiese motiewe, Scalamandré se ikoniese dansende sebras of selfs 'n pasgemaakte patroon van jou keuse is. Oorweeg ook 'n aksentmuur met 'n slangvelmotief of 'n herhalende patroon as fokuspunt. Dit sal soveel tekstuur en persoonlikheid aan jou vertrek verleen.
Die minimalistiese dier
Hou jy van luiperd- en sebravel, maar eintlik neig jou styl meer na minimalistiese, Skandi-sjiek? Die een vul die ander aan!
Mense maak dikwels die fout om te dink die twee style kan nie in harmonie saamleef nie. Dieremotiewe is natuurlik en neutraal - die enigste verskil is dat minder inderdaad meer is binne 'n minimalistiese habitat.
- Vinette Nicholls is die stigter en uitvoerende hoof van die binneversiermaatskappy DIYgirls.co.za.




















