
Die Engelse roos Emma Watson was eers die "meisie van Harry Potter" en toe ontpop sy as 'n Verenigde Nasies-ambassadeur en kampvegter vir vroueregte en geslagsgelykheid. Een van haar onlangse rolle was in die Greta Gerwig-rolprent Little Women (2019).
In 2022 het Emma weer na Harry Potter teruggekeer vir die spesiale dokumentêre TV-reeks Harry Potter 20th Anniversary: Return to Hogwarts.
Emma dra graag klassieke swart en wit, ook in kombinasie. "Sy weet hoe om 'n swart nommertjie interessant te hou," sê Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur.

Een van Amaria se gunstelinge was Emma se uitrusting 'n paar jaar gelede by 'n geleentheid in Parys.

"Rock chick gone glam. Die T-hemp, wat met 'n blinkerrok bo-oor gestileer is, was steeds binne haar klassieke swart-wit-kombinasie. Maar dis 'n meer gewaagde Emma, met 'n prettige uitrusting gepas vir enige jong vrou in haar twintigs."
Emma se 5 styl-wapens
Soek jy inspirasie vir 'n nuwe voorkoms? Gebruik Emma se goeie smaak as voorbeeld.
1. Rooi lippe
Een van Emma se grootste styl-wapens is om haar uitrusting met rooi lippe af te rond. Dis klassiek en bly treffend.


2. Snyerspak
Emma dra graag 'n snyerspak. Nie net is dit vleiend nie, dit kan ook tydloos en sjiek wees.


3. Speelse oorbelle
Emma is nie bang om verskillende soorte oorbelle saam te dra nie. Dikwels word haar ore met meer as een oorbel versier. Dit gee die uitrusting 'n speelse gevoel.


4. Swart is sjiek
Emma wys keer op keer dat jy nooit vir dié kleur moeg kan word nie. Dis elegant, dis modieus, dis sjiek. Maar Emma maak seker dat haar swart uitrusting altyd 'n unieke element het, of dit nou met 'n lae halslyn of interessante patroon is.


5. Waag met kleur
Hoewel Emma gaande is oor swart en wit, waag sy gereeld met kleur op die rooi tapyt. Moenie bang wees vir kleur nie, of dit helder of meer gedemp is.



















