In 'n towertuin in die Magaliesberge het Erika de Beer 'n paar nuwe woorde geleer.

Dit klink 'n bietjie soos 'n sprokie: Eendag was daar 'n Italiaanse prinses wat 'n pragtige tuin gehad het.
Prinses Marcella Borghese het graag liefdadigheidswerk gedoen. Dit het haar gekwel dat vroue nie tuis toegang gehad het tot goeie velsorgmiddels nie.
Sy het die plante in haar tuin, die tuin van die Villa Borghese in Rome, bestudeer om die beste bestanddele vir sulke middels te kry.
Geïnspireer deur haar familie-erfenis en die spabehandelings wat sy in Toskane gekry het en met behulp van haar vriend Charles Revson, die stigter van Revlon, het sy in 1957 haar eie produkreeks tot stand gebring.
"Ware skoonheid leef in die gees, maar om dit na buite te laat blom, is die vel die eerste prioriteit," het die prinses volgens Wikipedia gesê.
Dis prinses Marcella wat die term "tuisspa-ervaring" uitgedink het, sê Dawn Hilarczyk, bedryfshoof van Borghese.
By die Suid-Afrikaanse bekendstelling van die reeks in 'n lentetuin by die De Hoek Country Lodge in die Magaliesberge sou nog 'n hele paar terme vir my nuwe betekenis kry.
Soos die dragkode: "Italiaans geïnspireerde lente-chic".

Wat dit nié is nie, is binne die bereik van 'n Suid-Afrikaanse joernalis se begroting.
Ek komplimenteer een gas met haar uitrusting. "Dis 'n Suid-Afrikaanse ontwerper!" straal sy.
Die uitstallings van sitrusvrugte en blomme in sitruskleure is Instagram se kos. Die kameras slurp alles op wat skoonhede soos dr. Tamaryn Green Nxumalo, voormalige Mej. Suid-Afrika, en die aktrise Leandie du Randt hulle kan bied.
"Jou vel is die eerste ding wat mense sien. Nog voordat jy jou mond oopmaak, sien mense jou vel. Dis die eerste indruk wat jy maak," sê dr. Grace Ayensu-Danquah, 'n brand- en rekonstruktiewe chirurg en Borghese se vel-deskundige.

"As jy nie 'n goeie vel het nie, wys dit deur jou grimering."
Sy sê 'n mens moet jou vel behandel soos jy 'n pasiënt behandel by wie 'n mediese toestand gediagnoseer is. Sy gebruik die term "cosmeceutical".
"Goeie velsorg is om versekering vir jou vel te koop. In jou 20's betaal jy vir versekering wat in jou 50's uitbetaal."
Ayensu-Danquah wys daarop dat die vel die liggaam se grootste orgaan is.
" 'n Goeie vel koop ook vir jou versekering vir die res van jou liggaam."

Geen parabeen
Ten tyde van die bekendstelling is ek besig om Dibi Breytenbach se nuwe roman, Heks, te lees. Die hoofkarakter moet bemarkingsmateriaal vir 'n fiktiewe skoonheidsreeks skryf, maar kom dan agter dit bevat parabeen, 'n preserveermiddel wat - so het navorsers die afgelope dekade agtergekom - allerhande nare gevolge kan hê, soos 'n hormonale wanbalans.
Maar hier by De Hoek is geen hekse nie, net skone feë, en geen gif in Sneeuwitjie se appel nie.
Die Borghese-produkte bevat, benewens chemiese bestanddele met haas onvertaalbare name, dinge soos aalwynblaarolie, mangopit-ekstrak, Siberiese ginseng, avokado, amandelolie, sampioenekstrak en seesout, maar elke boksie sê duidelik: Geen parabeen. Hulle toets die produkte ook nie op diere nie, sê Hilarczyk.
Die naam van een produk is op almal se lippe - Fango. Dis "modder vir gesig en lyf", verduidelik die boksie.
Ayensu-Danquah sê jy moet die produkte wat jy vir jou gesig gebruik ook in jou nek en op jou décolleté aanwend. Sy gebruik Fango selfs vir selluliet op haar bobene. As chirurg moet sy haar hande 10 tot 20 keer per dag skrop, basies met bleikmiddel.
"Ek Fango my hande."

Daar is ook Fango vir delikate vel, wat ons by hierdie nuwe woord uitbring: multi-masking.
Hilarczyk demonstreer op 'n model hoe sy die delikate Fango om die oë aanbring en die Fango vir normale, olierige en kombinasievel op die res van die gesig, nek en hals. Dit moet "so dik soos versiersuiker" aangewend word en jy was dit ná twee tot vyf minute weer af.
Dit help volgens Ayensu-Danquah om die "steierwerk" van die vel - die epidermis of buitenste laag - te herbou. As jou vel los en sakkerig is, beteken dit die steierwerk is mankoliekig.
Oor naweke, sê sy, gaan lê sy graag in 'n bad met badsout, die goudkleurige Radiante-masker op haar gesig en 'n glas wyn.
Witwyn of druiwesap het nie dieselfde uitwerking nie, want net rooiwyn bevat die anti-oksidant resveratrol.

Toorgoed getoets
Ek verlaat die sprokiestuin met 'n sakkie vol toorgoed en 'n sakkie vol macarons. Jammer, die Afrikaanse woord "makrolletjie" deug nes my sakpas klerekas nie in dié droomwêreld nie.
Die macarons smelt die een ná die ander in my mond op pad deur die berge terwyl ek vrees dat my koets weer in 'n pampoen gaan verander. Of gaan die toorgoed dit keer?
Tuis, nadat die effek van die resveratrol vanuit 'n swaankraffie se keel uitgewerk is (om die eksperiment heel wetenskaplik te hou), Fango ek my gesig. Nadat ek dit afgewas het, draai ek 'n Power-C-serumkapsule nek om en salf my gesig daarmee.
Volgens die brosjure het 91% van 34 mense ná een keer se gebruik van Fango gesê hul vel voel meer gehidreer en gebalanseer, terwyl 88% gesê het hul veltonus is eenvormiger en hul porieë het gekrimp.
Met die eerste en laaste stellings kan ek saamstem; met die ander twee kan ek nie stry nie.

Tussen 90% en 100% van 30 vroue het volgens die brosjure gesê ná agt weke se daaglikse gebruik van die Power C-serum het hul vel minder grof en meer elasties gevoel, hul plooie was minder diep en donker vlekke het verdof.
Weens die knaendheid van 'n spertyd kon ek nie 'n agt weke lange eksperiment uitvoer nie.
Die serum het my vel aanvanklik te olierig laat voel, maar nadat dit ingetrek het, was my steierwerk inderdaad stewiger, meer elasties en sagter.
'n 67 ml-houertjie Advanced Fango Active kos op borghese. co.za R425 en 'n botteltjie met 50 Power-C-serumkapsules R1 638,18.
En is die Deep Hydration Hand Sheet Mask R573,80 (vir drie pare) werd?
Dit belowe om die voorkoms van fyn lyntjies en diep plooie te minimaliseer; droë, growwe vel te voed; die algemene tekstuur en tonus van die vel te verbeter; en is, les bes, raakskermvriendelik.

Ja, dit is raakskermvriendelik, maar vir dié proses het ek my hande die saligheid belowe. Hulle het agterna sagter gevoel, maar dit sou onregverdig wees om van enige middel te verwag om my post-winter-krokodilvelhande binne 20 minute in babavelhande te omskep.
Die bevogtiger waarmee die handskoene uitgevoer is, ruik soos vakansie en daaraan alleen kan ek verslaaf raak.
Kortom: Die prinses was reg. Dit voel wel soos 'n tuisspa-behandeling.
- De Beer is 'n redaksielid van Netwerk24.














