Styl

Foutlose winter-onderlaag

Die dae word al hoe kouer en die lug droër … en skielik lyk jou onderlaag swaar en krakerig en beklemtoon dit fyn lyntjies en vergrote porieë. Of dalk veroorsaak die droë lug dat jou vel nou méér olie vervaardig? Moenie stres nie, met dié maklike wenke kan jy gou weer met 'n fluweelsagte vel spog.

#1 Gereelde afskilfering

In die winter veroorsaak 'n droër vel dat dooie velselletjies makliker op die veloppervlak opbou, sê dr. Juanita Kilian, produkontwikkeling-spesialis by die velsorghuis Nimue. Dit kan veroorsaak dat jou onderlaag vaal, krakerig en oneweredig op jou vel lyk. "Voorkom dit deur jou vel sowat een keer per week af te skilfer."

#2 Verruil jou mat- of poeier-onderlaag vir 'n serum-onderlaag

Serum-onderlae bied nie net sysagte bedekking nie, maar bevat ook 'n mengsel van aktiewe bestanddele wat jou vel bevog en plomp en stralend laat lyk, sonder dat dit swaar op jou vel voel. As jy 'n olierige vel het, wees op die uitkyk vir 'n olievrye formule wat steeds hidrerend is.

#3 Kry 'n bevogtigende gesigsproei wat jy sommer in jou handsak kan saamdra

Tydens die koue maande is 'n bevogtigende gesigsproei 'n móét-hê-produk, veral as jy baie tyd in 'n omgewing met 'n verwarmer of lugreëling deurbring, sê Juanita. Spuit dit aan net voor jy jou onderlaag aanwend om as 'n bevogtigende basislaag (primer) te dien. Gooi dit dan in jou handsak om jou vel deur die dag te verfris en bevog.

#4 Belê in 'n grimeersponsie

'n Geïrriteerde vel kan dikwels fyn, droë vlokkies vorm sodra jy jou onderlaag aanwend. Die oplossing? Gebruik 'n klam grimeersponsie en moenie die onderlaag in jou vel invryf nie. Tik dit net liggies oor jou vel aan vir 'n foutlose afwerking wat nie streperig lyk nie.

#5 Probeer onderlaagdruppels

Is jou gunsteling-onderlaag skielik te lig of te donker vir jou vel? Jou gelaatskleur is geneig om rooier of bleker te raak in die winter as gevolg van eksterne faktore soos minder sonblootstelling, wind en koue. Gelukkig kry jy deesdae onderlaagdruppels wat jy by jou vloeibare onderlaag kan meng om die skakering ligter of donkerder te maak. Gewoonlik werk 'n ligter onderlaagskakering vir die kouer maande.

Ons keuse van top-produkte:

1. Estée Lauder Double Wear Nude Cushion Stick Radiant Makeup (R480)

Die onderlaag het 'n ingeboude sponsie om die produk mee te skakeer.

2. Elizabeth Arden Prevage Anti-Aging Foundation SPF 30 PA++ (R650)

Die vitamien C in die onderlaag hel om jou vel helderder te laat lyk.

3. Max Factor Lasting Performance Long Lasting Make-up (R196)

Die ligte formule gee 'n natuurlike afwerking. By Clicks

4. Maybelline SuperStay 24 Makeup-Locking Setting Spray (R150)

Gebruik die grimeersproei om jou grimering heeldag vars te hou.

5. The Body Shop Darkening en Lightening Shade Adjusting Drops (R300 elk)

Met die onderlaagdruppels kan jy jou onderlaag ligter of donkerder kleur.

Monica Pienaar

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM