Jy knoop dalk jou hemp vas sonder om eers daaroor te dink. Maar wat is die storie van 'n knoop en 'n knoopsgat? Ilse Zietzman bekyk die geskiedenis.

Wie onthou nou nie hul ma of ouma se knopeblik nie? As kind het jy heel moontlik die knope deur jou vingers laat gly. Of die blik met sy afgedopte verf geskud totdat die binnegoed ratel en jy daaroor berispe is.
Daar was ronde en bonkige knope, smalles en vettes, hoekig en gekartel. Knope met materiaal oorgetrek of met goue randjies versier.
So 'n blik vol deurmekaar knope was 'n skatkis vir kinders. En dan was daar natuurlik die perfeksioniste wat knope volgens kleur, elk in hul eie houertjie, sorteer het. Pretbederwers, as jy my vra.
Die oudste knope wat uit die Antieke Wêreld opgegrawe is, is by Mohenjo-Daro in die Indusvallei in Pakistan gevind.
Mohenjo-Daro is omstreeks 2 500 v.C. gebou en was een van die grootste nedersettings van die Indusvallei, asook een van die destydse wêreld se grootste stede.
Die knope was van skulpe gemaak en is gedra om status en rykdom aan te dui. Net soos hedendaagse knope het hierdie stokou knope gaatjies gehad waardeur gare geryg is.
Voordat moderne knope in die 13de eeu ontwerp is, is kledingstukke in die Middeleeue in Europa met vetertjies vasgebind of met borsspelde vasgespeld. Teen die 14de eeu is knope as versiering veral deur die Grieke en Romeine gedra. Knopies van die elmboog tot by die pols en van die neklyn tot by die middellyf was uiters gewild.
Knoopsgate is eers later uitgedink. Die eerste knoopsgate was klein, eenvoudige gleufies wat in die materiaal geknip is.
Aristokrasie
Dis seker nie verbasend nie dat dit die Franse was wat voor enigiemand anders die idee van knope aangegryp het. Reeds in 1250 het hulle 'n knopemakersgilde gestig.
Teen hierdie tyd het knope almal al oorrompel en het kleremakers die een uitrusting ná die ander vol knope genaai. Sommige kerke in Europa was nie hiervoor te vinde nie en het na knope verwys as "die strik van die duiwel".
Klaarblyklik het min mense hulle hieraan gestuur. Daar word vertel dat koning Frans I van Frankryk, geklee in 'n uitrusting met 13 600 knope, in 1520 vir koning Hendrik VIII van Engeland ontmoet het. Koning Hendrik se klere was eweneens die ene knope omdat dit die modegier was wat toe geheers het.
Volgens oorlewering het die hertog van Buckingham in 1620 'n pak klere en 'n mantel verfraai met 'n swetterjoel diamantknope gedra. Ja, regte diamante.
Lodewyk XIV van Frankryk, ook bekend as die Sonkoning, was óók gek na knope, wat hy mildelik ingespan het. Hy het sy weermag silwerkleurige knope van been op hul tunieks laat dra.
Die Franse gilde het pragtige knope met uitsonderlike ontwerpe vervaardig. Die aristokrasie kon nie wag om hul hande op hierdie knope te kry nie.
Gewone mense mag nie dié knope gebruik het nie, selfs al kon hulle dit bekostig. Die aristokrasie het hiervoor gesorg deur wette uit te vaardig wat gestipuleer het dat knope wat in algemene gebruik is met draad of lap bedek moet wees. Enige ander knoop is as 'n statussimbool beskou.
As jy dus goue, silwer of ivoorknope gedra het, was dit 'n aanduiding van jou rykdom of rang. Knope van koper en -allooie was duur en min mense kon dit bekostig. Sulke knope is deur metaalsmede met insetsels van ivoor, skilpaddop en juwele versier.
Knope van been of hout was meer algemeen. Sommige van hierdie knope is met materiale oorgetrek.
Teen die 18de eeu het die modeneiging om knope met materiaal oor te trek, vervaag. Geborduurde knope om by spesifieke uitrustings te pas was egter nog gewild.
Teen hierdie tyd het knope van piouter ook hul verskyning gemaak, maar die snobs het hul neus hiervoor opgetrek. Met verloop van tyd het knopies van koper en geelkoper ook op militêre uniforms en in burgerlike kleredrag gewild geword.
Met die uitvinding van die ritssluiter deur die Amerikaanse meganiese ingenieur Whitcomb Judson in die 1890's is knope, asook hakies en ogies heelwat minder gebruik.
Teen die tyd dat ritssluiters vir mans- en kinderklere algemeen gebruik is, is dit nog as onvanpas vir vroueklere beskou! Dit was glo net te maklik om 'n vrou se klere uit te trek as dit gerits eerder as geknoop is.
Vir dié wat liries oor knope raak, is dit soos miniatuurkunswerkies - van glas, porselein, pêrels, metaal, been, klei, glas, hout en steen. Selfs van skulp, dalk die spesiaalste van almal.
Verskillende motiewe wat op die piepklein oppervlakke van knope van weleer uitgebeeld word, weerspieël die geskiedenis van die tyd waarin dit vervaardig is. So ook miniatuurskilderytjies op knope.
Porseleinknope was die Franse se forte. Dié knope is met die hand geverf of met ontwerpe in gekleurde ink versier. Hulle was ook bekend vir sogenaamde habitat-knope waarin plante se blaartjies, blommetjies of insekte onder glas vasgevang is.
Die meeste gekleurde glas wat vir knope gebruik is, het vanaf Boheme in die hedendaagse Tsjeggiese Republiek gekom. In China was dik houtknope met vermiljoenlak gewild; in Japan was dit keramiekknope waarop tradisionele motiewe geverf is.
Sommige van hierdie knope, elk met hul eie karakter, is deesdae versamelitems. Dis 'n bonus as die plek, datum en naam van die vervaardiger agter op die knoop aangedui is.
Op die webwerf Etsy is onlangs twee (ja, slegs twee) los knopies van die ontwerper Jimmy Choo, wat jy aan jou skoene kan vasklik, vir sowat R400 verkoop. 'n Splinternuwe stel kristalknope vir Jimme Choo-skoene kan jou tot R4 600 uit die sak jaag.
Egte Chanel-knope word as miniatuurskatte beskou en is besonderlik aanloklik vir versamelaars. Elke antieksjiek Chanel-knoop is aan die agterkant gestempel.
Destyds is Chanel se materiaalknope met die hand vervaardig. Dié vakmanskap is deesdae uiters skaars. Hierdie elegante haute couture-knopies kan aan 'n gebosseleerde leeukop in die middel van die knopie uitgeken word. Later is twee ineengestrengelde letter C's, piepklein parfuumbotteltjies en japonikablomme ook as knoopembleme gebruik.
Coco Chanel het knope ingespan om haar kenmerkende voorkoms en styl te kenmerk deur 'n ry knopies nie toe te knoop nie, maar eerder los te hou, wat op gemak gedui het. Dís hoe jy 'n Chanel-baadjie moet dra, is verkondig.
Louis Vuitton se modereekse is ook bekend om hul gebruik van ongewone knope, van juweelknopies op oortrektruie tot bloeses met Peter Pan-krae en wit pêrelknopies, van drukknope wat aan die gespes op outyd-se Vuitton-koffers herinner tot knope met fyn veertjies.
Daar's seker nie veel van 'n keuse as jy tussen knope en 'n rits moet kies nie. 'n Ritssluiter gly girts-girts oop.
Maar 'n knoop? 'n Knoop moet tydsaam, een vir een en een knoopsgat op 'n slag oopgeknoop word.
Wat kan dan meer sensueel wees?
Behalwe as jy haastig is.
- Aanvullende bronne: Vogue; brittannica.com; collectorsweekly. com; Sewingschanelstyle.com.
- Zietsman is 'n vryskutskrywer van die Paarl.




















