Felicia Pretorius is 'n 26-jarige ma, maar haar voorkoms laat haar soms middeljarig voel.
Sy is so bedrywig met werkverpligtinge en haar kroos dat haar voorkoms laaste viool speel. Haar begeerte is om weer prentjiemooi te lyk sodat haar man, Morné, met sterre in sy oë na haar sal kyk - die manier waarop hy na haar geloer het toe hulle mekaar ses jaar gelede ontmoet het.
Om dit te vermag het sy by die voorkomstransformasie-program Glam Guru aangeklop vir hulp en raad.
"Baie paartjies reël deesdae gereeld afspraakaande met mekaar. Dan doen hulle 'n bietjie meer moeite met hul voorkoms, soos aan die begin van hul verhouding, en fokus daardie aand net op mekaar.
"So 'n afspraak-aand is dalk net wat Felicia nodig het sodat Morné herinner kan word aan met watter mooi vrou hy getrou het," sê Hannon Bothma, aanbieder van Glam Guru.

Bothma het Pretorius raad gegee oor hoe om haar krulhare te stileer sodat dit reguit en glad is. Pretorius se rooierige hare het ook 'n paar sonstrepies bygekry om haar gelaat op te helder.
"Baie vroue het nie tyd vir 'n uitgerekte grimeerroetine nie. Jy kan 'n grimeervoorkoms skep met net vier produkte - 'n onderlaag, wenkbroupotlood, lippotlood en maskara," het Bothma oor Pretorius se grimering te sê gehad.
Lizel van der Westhuizen, Glam Guru se modestilis, het ook wenke gegee oor hoe Pretorius haar klerekas kan bestuur om altyd mooi te lyk en te voel.
Sy het noupassende klere met verskillende teksture en dierevel-motiewe, 'n denim met 'n höe middellyf en V-nekbloese voorgestel.
Wen met Beeld en Glam Guru
Jy kan 'n geskenkpak met Hannon-produkte ter waarde van R2 500 wen in Beeld se Glam Guru-kompetisie.
Soek die advertensie in die koerant met 'n vraag oor Sondag se episode van Glam Guru.
SMS dan HANNON, die antwoord op die vraag, jou naam, van, woongebied en e-posadres na
35986. 'n SMS kos R1,50. Die SMS-lyn sluit Woensdag om 12:00.
Daar sal elke week tot en met 22 Junie 'n wenner gekies word. Verlede week se wenner is Emma Vollgraaff van Parys.
















