Om vir 'n manikuur te gaan is altyd 'n bederf. En deesdae is daar omtrent 'n spyskaart vol interessante opsies by jou naaste skoonheidsalon. Hoe weet jy dus watter een is reg vir jou? Plus ons deel twee núwe tipe manikure waaroor die skoonheidswêreld behoorlik gons!
1. Nuwe unieke jel-manikuur
Charis van den Heever, SARIE se skoonheidsredakteur het die nuwe Gelish PolyGel-manikuur getoets. Met die nuwe manikuur van die handelsmerk Gelish kan jou naels nes met akriel langer "gebou" word. Die formule is egter meer buigsaam as akriel, wat beteken dat jou naels nie maklik sal breek nie. Dit word met 'n LED-lig drooggemaak en is in deursigtige skakerings soos wit, pienk en donkerpienk beskikbaar, asook in 'n deurskynende en meer soliede pienk skakering.
Kyk net hoe dit aangewend word in dié video:
2. Doop-manikuur
Dié nuwe manikuur genaamd Gelish Dip wat onlangs deur Gelish bekend gestel is, se formule is effens harder as dié van 'n jel-manikuur, maar nie so hard soos dié van 'n akriel-manikuur nie, sê Debbie Kayler, besturende direkteur van Sparkle Cosmetics and Nail Academy, 'n maatskappy wat naelprodukte versprei en opleiding aan naeltegnici verskaf. Jou naels word met 'n spesiale basislaag geverf. Volgende doop die terapeut jou naels in 'n poeier in die kleur van jou keuse en skud die oortollige poeier af (die proses word herhaal totdat jy tevrede is met die kleur). 'n Aktiveerder en nog 'n basislaag word bo-oor geverf en dan word dit met 'n bolaag afgerond. Die formule word dadelik droog - sonder 'n LED- of UV-lig. Nes 'n jel-manikuur word die produk ná sowat twee weke by 'n salon afgeweek.
Om te weet: Dis perfek vir vroue wat baie met hul hande werk omdat die manikuur meer bestand teen wrywing is, sê Debbie. Jy kan jou doop-manikuur langer laat hou deur elke twee weke net die onderkant van jou naels wat uitgegroei het, weer by 'n salon te laat opvul. Moet egter nie die produk vir langer as 'n maand op jou naels hou nie.
Onseker oor jel- of akriel-manikure? Dís wat jy moet weet.
3. Jel-manikuur
Dit is een van die gewildste manikure, sê Debbie. Nadat die terapeut jou naels gevyl en die kutikels teruggedruk het, verf sy 'n jel-naellak in die kleur van jou keuse op jou naels. Daarna word jou naels onder 'n LED-lig drooggemaak.
Om te weet: Dis duurder as 'n gewone manikuur, maar hou langer. Omdat dit met 'n LED-lig drooggemaak word, smeer jou vars manikuur nie nog voordat jy by die salon uitgestap het nie. Jy moet die produk so elke twee weke by die salon laat afweek. Handelsmerke wat die jel-formule bied, sluit in Gelish en Shellac.
4. Akriel-manikuur
Met akrielnaels word 'n poeier met 'n vloeistof gemeng om 'n formule te skep wat baie hard is wanneer dit op jou naels droog word. Jy kan die formule ook gebruik om jou naels te verleng deur dit óf oor 'n plastiek-punt (nail tip) op jou naels te verf óf deur die formule self te gebruik om jou naels langer te "bou".
Om te weet: Die formule is harder as bv. jel- of doop-manikuur-formules. Die voordeel van 'n akriel-manikuur is dat jy jou naels 'n paar keer van agter kan opvul voordat jy die produk heeltemal verwyder.













